DIE KERK – THE BEAUTY AND THE BEAST

Die sprokie “The Beauty and the Beast” gaan oor ‘n verhouding tussen twee ongelyke verhoudingsvennote. Die skone prinses en die afskuwelike dierasie. Ek lees hierdie week Jesaja 62:1-5 met die oog op Sondag se preek en ek sien raakpunte met die sprokie. Terwyl ek so voorberei dink ek ook aan die gesprekke hier rondom my eie koffietafel en op nog ander plekke in die kuberruim. Ek lees en dit lyk soms vir my of mense moed opgegee het met die kerk.

Jesaja 62 het hierdie besonderse metafoor van ‘n huwelik. ‘n Huwelik tussen twee ongelyke verhoudingsvennote, God en Israel.  Israel wat nou bekend staan as “verstote vrou” en die land as “die een wat verlate lê”. (Jesaja 62:4) Die “Beast” in die sprokie as jy wil.

Die rolle is dus net omgekeerd. In Jesaja is God die bruidegom, die skone, die reine en Israel die bruid, die afskuwelike, onreine, onaansienlike, afstootlike. In “Beauty and the Beast” is die prinses die skone, reine. Maar in beide ontwikkel die oënskynlike verbedinglose verhoudingsvennoot tot sy volle potensiaal en almal se verbasing.

Jesaja beskryf hoe die wêreld en die konings en die nasies verbaas sal wees wanneer hierdie onaansienlike verstote en gevalle vrou ‘n nuwe naam kry. Hierdie vrou sal in die toekoms genoem word: “Die een vir wie die Here liefhet.” en “Die een wat aan die Here behoort.” (Jesaja 62:4) God skaam Hom nie om met hierdie verstote en gevalle vrou geassosieer te word nie.

“Soos ‘n bruidegom bly is oor sy bruid, so sal jou God oor jou bly wees.” (Jesaja 62:5)

Nuwe Testamentiese skrywers tel die metafoor voor en vergelyk die verhouding tussen Christus en die kerk met die van ‘n Bruidegom en bruid. God het nie moed opgegee met die ontroue en gevalle Israel nie. God sal ook nie moed opgee met die kerk nie. Ons mag ook nie. Die kerk sal die voertuig van God se genade bly. Geen geloofsgroep, gemeente, kerk sal ooit alles weet wat God bedoel het die kerk moet wees nie. Maar God sal sy beloftes aan die kerk hou soos Hy sy beloftes aan Israel gehou het.

Ek skep nie uit die gedeelte net moed vir die kerk nie. Ek skep ook moed vir myself. Ek dink dat die “beast” in my ook maar dikwels maak dat God en mens my nie baie aantreklik vind nie. Maar God sal ook nie met my moed opgee nie. Ek mag maar ook spog met die nuwe naam wat die Here vir my gegee het: “Die een vir die die Here liefhet.” en “Die een wat aan die Here behoort.” Ek mag ook maar droom van die dag wanneer ek tot my volle potensiaal sal ontwikkel.

God sien nie die wêreld en die kerk soos dit is nie, maar soos dit kan wees en Hy nooi ons om dit saam met Hom so te sien.

4 Kommentaar

Filed under Die Kerk, Jesaja

4 responses to “DIE KERK – THE BEAUTY AND THE BEAST

  1. Johan vd Westhuizen

    Attie, Dit is baie waar wat jy hier sê. Saam met die gedeelte moet ons ook altyd Jesaja 42:1-7 lees. Ons is maar almal “geknakte riete” in die bos van die lewe, maar met ‘n geknakte riet kan jy die mooiste panfluit maak. ‘n Vars riet wat afgesny en gedroog word, maak nie sulke mooi musiek soos ‘n geknakte riet wat in die natuur droog geword het nie. (nie my eie wysheid nie, maar aan mt vertel deur ‘n oom wat panfluite maak). God gebruik kuis ons geknakte riete om vir Hom die mooiste musiek te maak. God het sy kerk lief en ook al sy geknakte riete en saam maak ons vir Hom die mooiste musiek. Die kerk is gesond en sal bly voorbestaan en groei, dalk net in ‘n ander formaat, soos alles maar verander in die lewe. As God vandag aarde toe sou kom, sou Hy ook waarskynkik in ‘n voorkoms verskyn het wat pas by vandag en predik wat pas by vandag en nie soos wat ons Hom leer ken het in die nuwe testament nie. Verandering in die kerk is nie ‘n vonnis nie, maar ‘n geleentheid om aan te pas by die hede en die toekoms om beter dienaars van die Woord te word. Ek is opgewonde oor my kerk.

  2. Christelle van der Walt

    Die boodskap is vir my ook baie treffend. My bande met my Kerk hier in die dorp het ook versterk. Ek het al die mense met die valsstories vergewe en al die politieke oproer in ons Kerk en ek kyk met ander oë en ek hoor met ander ore. Ons gemeente was onderstebo met al die drama. Nou is daar weer rustigheid en vrede.

    Ek sien “the beauty and the beast” nou weer heeltemal in ‘n ander konteks.

    GOD is – “the beauty” en Satan is “the beast”.

    • Christelle van der Walt

      Die twee in my verhaal is onversoenbaar. Soos dag by nag verskil, soos wit van swart verskil. Positiewe pool teen die negatiewe pool.

  3. “God sien nie die wêreld en die kerk soos dit is nie, maar soos dit kan wees en Hy nooi ons om dit saam met Hom so te sien.”

    Om iets of iemand te sien, nie soos dit/s/hy IS nie, maar soos dit/s/hy KAN wees, is by verre die sleutel tot die tweedelaaste fase van ontwikkeling van die mens. Om dit werklik te bemeester, vereis besondere toewyding. En miskien lê die geheim in die wyse waarop ons kennis en feite versamel en interpreteer. Wanneer ons kennis en feite versamel slegs met ons sintuie op laterale vlak, hoe gaan ons verby die feite voor ons kyk, ten einde nie te sien wat IS nie, maar te sien en te ervaar wat KAN wees?

    êh-êh Doom Attie, daardie wat Doom gesê het, is makliker gesê as gedaan – dis baie, BAIE groot woorde. Of wat dink Doom?

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s