Ding het op sy Stoep gevra wat mense glo as hulle bely dat hulle glo in die opstanding van die vlees. Ek dink ‘n paar dominees moet daar gaan lees. Ons het nie ons mense mooi geleer wat om te glo oor die opstanding van die vlees nie. Mense weet nie wat om te glo nie. Meeste Christene weet net hulle mag nie glo wat die Nuwe Hervormers glo nie – wat ‘n goeie dinge is – maar hulle is ook nie heeltemal seker wat die Nuwe Hervormers hieroor glo nie. Net solank hulle nie dieselfde glo nie.
As ek nie op Ding se stoep mag speel nie, dan speel ek maar hier rondom my Koffietafel.
Ek is ‘n dominee, maar ek dink nie ek is die wêreld se skerpste teoloog nie. Ek laat my maar altyd lei deur mense wat slimmer is as ek oor hierdie dinge. Ek het op Universiteit by Willie Jonker en Flip Theron al geleer dat ek maar mooi kan kyk na wat iemand soos AA van Ruler hieroor sê.
Ek bely saam met gelowiges deur die eeue en miljoene ander gelowiges dat ek glo in die opstanding van die vlees. Ek glo dat Jesus uit die dood opgestaan het en soos Hy uit die dood opgestaan het, so sal ek ook een dag uit die dood opstaan. Wyle prof. Flip Theron het gesê dat die opstanding van Jesus hom opstandig maak. Daarmee het hy probeer sê dat hy reeds in hierdie lewe opstaan tot ‘n nuwe lewe van gehoorsaamheid aan Christus en ‘n lewe waar hy nie langer kan bly sit teen die onreg van hierdie wêreld nie. Van Ruler sê “Het evangelie jaagt ons op uit die luie nest.” (Mooi nè!) Wie bely dat hy glo in die opstanding van die vlees en sy rug draai op die onreg van hierdie wêreld, is niks anders as ‘n luiaard nie.
Van Ruler is ook van mening dat ons in die belydenis sien hoe wyd en ver en hoog en diep die liefde van Christus eintlik strek. Die verlossing wat kom deur die liefde van Christus is selfs opgewasse teen die dood. Die verlossing gaan selfs deur die dood heen. Ons glo dat die laaste vyand, die dood, deur die kruisdood en die opstanding van Jesus oorwin is. Nie eens die dood kan ons skei van die liefde van Christus nie.
Mens kan eintlik liries raak oor Van Ruler se interpretasie van hierdie saak. In hierdie belydenis sê ons ook dat God nie die geskape werklikheid prysgee nie. God het my met ‘n liggaam (vlees) geskep. Ek glo in die opstanding van die geskape vlees. Wanneer ek doodgaan sal daar nie net ‘n herinnering van my by my mense of by God oorbly nie. Ek sal ook nie net geestelik voortbestaan nie. Ek sal in ‘n liggaamlikheid bly voortbestaan.
Hierdie belydenis wil ook vir my sê dat ek nie net na siel en liggaam opstaan nie, maar my totale menswees bly voortbestaan. Ek staan op met alles wat ek nou is, alles wat ek was en alles wat ek ooit sal wees. Ek staan op as verloste. Ek is verlos van alle verderflikheid, sondigheid, wat in my aardse bestaan opgesluit was. Oor my sondigheid en enige iets daarvan in wie en wat ek is en was en ooit sal wees, sal daar geen herinnering meer wees nie, omdat dit opgesluit lê in Chruistus se sterwe aan die kruis. Ek het saam met Hom gesterwe. Ek gaan ook saam met Hom opstaan.
Ek stop nou eers hier.
Dankie Attie, ek leer darem maar verskriklik baie hier rondom jou koffietafel.
Ek wil net vra oor hierdie sin:
“Hierdie belydenis wil ook vir my sê dat ek nie net na siel en liggaam opstaan nie, maar my totale menswees bly voortbestaan. Ek staan op met alles wat ek nou is, alles wat ek was en alles wat ek ooit sal wees.”
Wat beteken dit? Gaan ek ‘n ‘verheerlikde menslikheid hê, of gaan ek, behalwe vir wat sonde kom doen het, nog dieselfde lyk?
jongds – Ek is ook maar huiwerig om te antwoord. Ek verstaan dit as dat ons ‘n verheerlikte liggaam gaan hê. ‘n Liggaam soos die liggaam van die opgestane Here Jesus. Tot vandag toe is ek nog nie seker of hy in sy opgestane gestalte dieselfde herkenbare persoon was nie. Die Emmausgangers het die hele pad met Hom saamgestap en Hom eers aan tafel herken.
Ek het ‘n blinde vriend op Universiteit gehad. Hy het geweet wanneer ek aangestap kom omdat hy my voetstappe geken het. Wanneer ons kuier het hy mense uitgeken aan hulle reuke. Hulle stemme ens. het ‘n rol gespeel. EK DINK dus ons gaan verheerlikte liggame hê wat vry en skoongemaak is van enige effekn van ons sondige aardse bestaan.
Môresê Doom!
Ai, dankie Dooma. Niks mee fout om by die Stoep te kuier nie, maar wysheid en diensbaarheid dikteer dat, na parabool van stakers, stakings begin in die Wes-Kaap op groot plase, eerder as in die Karoo op ‘n enkelplaas, ja? Dit maak net baie meer sin om eerder hier by die Koffietafel oor hierdie belangrike onderwerp te gesels. En Ding respekteer en ag Doom altyd vir Doom se wysheid en insig. Dankie Dooma.
*Ding chuckle lekker oor die vergelyking*
Enewel, Doom en ander herders: ek kan nie vir ander mense praat nie, maar die gevoel wat Ding kry, is dat die “opstanding”-gedeelte van die Belydenis verstaanbaar is. Dit is die “van die vlees”-gedeelte wat moeilik prakties visualiseerbaar is.
As Ding reg onthou, is daar iewers in die Skrif die mooi verstaanbare vergelyking dat saad in die grond geplant word, maar dat dit nie saad is wat opkom nie. Die saad wat in die grond geplant word, gaan in die grond dood sodat ‘n nuwe plant kan opkom. Soos ‘n mieliePIT word geplant, en dan kom ‘n mieliePLANT op, wat tog helemal anders lyk as die mieliepit wat in die grond gedruk is. En dat dit is hoe met mense gebeur: die aardse liggaam gaan morsdood en dan word dit vervang met ‘n hemelse liggaam, ja?
Nou DAAI kan Ding volg, maar dan kom die “vlees”-gedeelte, waar die indruk geskep word dat die mens, in VLEESLIKE vorm, weer sal opstaan. En vir Ding is dit die verwarringsgedeelte. Want dan vra Ding: die mense wie opgechop word in motorongelukke, landmyne, moorde, noem dit – hoe gaan hulle lyk? ‘n Simpel vraag, maar kinders sal tog so daaroor wonder.
So, kan ons aanvaar dat die “liggaam” wat opgewek sal word, geheel sal wees van wonde, skending, siektes ens? Ja, ja, Ding weet ons spekuleer, maar mag ons dan maar spekuleer?
Ding: EK het nou die ding reggerky dat ek sommer op jou kommentaar kan kommentaar. Ek dink jou vergelyking tussen die pit en die plant is baie goed. Moet omtrent so iets wees. Inderdaad sal die liggaam ‘n volmaakte liggaam wees sonder enige tekens of letsels van die swaarkry van hierdie lewe.
As God my op so ‘n wonderbaarlike wyse in die moederskoot gevorm het, kan Hy mos ook ‘n verminkte liggaam in heerlikheid laat opstaan.
Hmmm, daai vergelyking is eintlik Paulus s’n in een van sy briewe aan die Korinthiërs.
Vanuit ‘n kinder-perspektief: het Jesus nie Sy kruisigingsmerke behou nie? Na Sy opstanding? Was dit dan nie Thomas wie nie wou glo nie en toe’t Jesus vir hom gesê hy moet sy hand in Jesus se sy indruk waar die spies ingedruk was nie? Nou, as daai merke aan Jesus se liggaam so gebly het, dan hoe gaan dit die dooie opgechopte mense se liggame laat lyk wanneer hulle opstaan?
Doom, Ding vra groot askies vir hierdie vrae. Dit is net dat Ding probeer uitwys hoe moeilik dit is vir ‘n ongeletterde wese soos Ding om ‘n klaar begrip te vorm van hierdie “vleeslike opstanding”. Ding is regtig nie aspris nie, hoor.
Dankie
DIng: mens sou dalk kon sê: “Jy het my daar.” oor Jesus se liggaam. Tog sê die Bybel ook dat die see sy dooies sou teruggee en so ook die grafte. (Op 20:13 as ek reg is) Ons weet dat liggame in die graf vergaan en dat liggame wat in die see beland ook vergaan. hetsy deur die gediertes van die see of deur vernietiging. Ons spekuleer maar hier, maar is hoe ek dink.
Nou, volgende vraag: wanneer gaan hierdie “opstanding van die vlees” plaasvind? Daardie het Doom Attie gister op die Stoep vir Ding so duidelik geantwoord dat dit vir Ding ‘n klaar antwoord is. Regtig die moeite werd om daai te lees. Dankie daarvoor Doom. Dit maak soveel sin.
Ding hoop dat herders wie met families gesels na afsterwe van ‘n geliefde, dieselfde kennis sal hê as Doom Attie. As geliefdes wie agterbly, daardie boodskap maar kan ontvang in vertroosting, sal dit vir hulle soveel berusting en hoop bring. Ek weet waarvan ek praat.
Die opstanding van die vlees, lyk dit vir my, gaan dan plaasvind wanneer Jesus weer kom.
Jongds verbaliseer ook ‘n vraag wat by baie geliefdes wie agterbly wanneer ‘n geliefde afsterf, spook: gaan ek nog dieselfde lyk? Met ander woorde: as my kind, ma, pa, broer, suster, gade my nou vooruitgaan, gaan ons mekaar kan herken wanneer die opstanding van die vlees plaasvind?
Twee dinge:
1. Gaan individue dieselfde lyk as tydens aardse lewe?
2. Gaan individue mekaar herken?
EK dink ons gaan mekaar herken. Ek dink aan die gelykenis van die Ryk man en Lasarus. Lasarus is in Abraham se arms. Ek dink aan die verheerliking op die berg. Die dissipels kon Moses en Elia herken en het dadelik geweet wie dit was.
“Ek glo in die opstanding van die geskape vlees. Wanneer ek doodgaan sal daar nie net ‘n herinnering van my by my mense of by God oorbly nie. Ek sal ook nie net geestelik voortbestaan nie. Ek sal in ‘n liggaamlikheid bly voortbestaan.”
Vir Ding maak hierdie die meeste sin. Dat ons, met en tydens ons Geloofsbelydenis probeer sê dat DIT is wat ons glo. Sodat ons daarmee erkenning gee aan Jesus Christus se opstanding; sodat ons aan God die erkenning gee dat niks, behalwe die sonde, verlore gaan en agterbly in die oorwinning oor die dood nie; sodat ons aan onsself die hoop gee dat ons in verheerlikte liggame sal opstaan en nie net as siel/gees nie.
En dan bring juis dit vir Ding die berusting dat Ding nie verder hoef te bekommer hoe die nuwe liggaam gaan lyk nie – dit sal steeds ‘n liggaam wees, maar ‘n hemelse liggaam; nie ‘n aardse liggaam nie. Ding se siel sal nie sonder dop rondfladder nie.
Ding het doelbewus so baie kommentare hier kom los, Doom, sodat dit as afsonderlike punte kan staan.
Dankie vir die geleentheid. Ek waardeer opreg. Doom is besig om “berading” te verleen op baie groter skaal as wat Doom ooit sal kan weet. Dankie daarvoor.
Ding gaan nou self sy koffiebeker uitspoel en ophang.
Dominee Attie, baie BAIE dankie vir u geduld, u tyd, u moeite, u wysheid en u insig. Opreg dankie. Hierdie antwoorde is klaar antwoorde. Mag dit geboekstaaf bly vir ander om ook te kan sien.
Attie, hierdie opstaan van die vlees broei al in my kop van kindsbeen af en ek het baie dominees al gevra hoe werk dit dan nou en soveel dominees as wat daar is, soveel antwoorde het ek gekry. Ek lees dat Jesus se wonde na Sy opstanding steeds sigbaar was, soveel so dat jy jou vingers in die merke van Sy hande kon steek. Nou worrie ek bietjie. As jy wel reg is hoop ek maar net my twee niere en twee heupe, wat verwyder is, vind my liggaam iewers in die opstanding want die “spares” waarmee ek nou rondloop is maar lastig.
Lees ferus 1 TESSALONISENSE 4:13-18. Amen.
Ons gaan verheerlikte, ewige liggame sonder siektes of gebreke (Hy sal besluit hoe dit gaan lyk, maar ons sal herkenbaar wees) gepas vir ons ewige lewe, he.
Vir mense om te kon GLO, sou Jesus se merke daar moes wees as getuienis en bewys dat dit wel Hy was, MAAR Paulus maak dit baie duidelik in 1 Korinthiers en Filippense hoe ONS liggame gaan lyk.
Interessante onderwerp waaroor baie volgelinge van Jesus wonder.
Ek wonder hoe gaan my pa en ma herken word wat op gevorderde ouderdom gesterf het en hoe ‘n baba wat op een maand gesterf het herkenbaar gaan wees. Ai tog, soveel vrae. Lyk my ons ken maar net ten dele en die dele is piep klein.
Ding hou van wat Christelle en Silwerwit sê.
Ding is diep dankbaar vir Johan se bydraes hier, want Johan voeg by waar Ding kortskiet. En dis darem heel gaaf om te sien Ding is nie die enigste wie wonder daaroor nie. Dankie Johan. Hierdie gesprek het vir Ding heelwat gehelp, Johan.
Nou, Ding reken nogals ons moenie NOU te veel komkommer oor presies HOE ons mekaar sal herken nie. Ons moet ook nie te veel wonder oor presies HOE die verheerlikte liggaam gaan lyk nie, want ons sal nie nou al regtig weet nie. Wat ons WEL weet, is dat die Skrif dit duidelik maak dat ons nie geeste sonder doppe gaan wees nie en DAAI is wat tel.
Vir Ding is dit veral goed dat daar soveel menings is soos wat daar mense is, want hoe meer inligting Ding het, hoe ‘n beter ingeligte mening kan Ding self vorm en dan kan Ding daai as Ding se eie glo, want dis mos hoe dit is: elkeen sal op sy eie wysheid tog salig raak.
Groete
Het is geweldig om te zien hoe jullie hier op respectvolle wijze praten over de opstanding! AA van Rules werk over de opstanding waarin hij zowel de liggaamlikheid en mysterie benadrukt het al veel voor mij hier in Nederland betekent … in een van zijn boeken schrijft hij bijvoorbeeld: “.. werkelijk alles samenloopt in het artikel van de opstanding van het vlees. Wie dit artikel laat vallen, laat het hele christelijke geloof uiteenvallen” AA van Ruler, Blij zijn als Kinderen – Een Boek voor Volwassenen (Kok, 1972, p146).
Dit is met groot belangstelling dat ek hierdie gesprek deurgelees het! Kan nou net sê: uiteindelik verstaan ek ook die deel van die Geloofsbelydenis beter wat my al jare pla – en nie verstaan omdat dit is wat ander my voorsê nie, maar verstaan in so ‘n mate dat ek in my hart reg voel daaroor! Dankie aan julle almal. Was daar maar meer van julle!!! Alta