Ons teksgedeelte vir die week is Jesaja 43:1-7. Wat ‘n wonderlike teksgedeelte is dit nie.
Luister, so sê die Here wat jou geskep het, Jakob, wat jou gevorm het, Israel: Moenie bang wees nie, Ek verlos jou, Ek het jou op jou naam geroep, jy is Myne.
As jy deur water moet gaan, is Ek by jou, deur riviere, hulle sal jou nie wegspoel nie; as jy deur vuur moet gaan, sal dit jou nie skroei nie, die vlamme sal jou nie brand nie,
want Ek is die Here jou God, die Heilige van Israel, jou Redder. Ek gee Egipte as losprys vir jou, Kus en Seba in jou plek.
Omdat jy vir My kosbaar is, omdat Ek jou hoog ag en jou liefhet, gee Ek mense in jou plek, volke in ruil vir jou lewe.
Moenie bang wees nie, Ek is by jou. Ek bring jou kinders van die ooste af, Ek maak hulle bymekaar van die weste af,
Ek sê vir die noorde: Gee! vir die suide: Moet hulle nie terughou nie! Bring my seuns van ver af, my dogters van die uithoeke van die aarde af,
elkeen wat na my Naam genoem word, elkeen wat Ek geskep het tot my eer, wat Ek gevorm het, wat Ek gemaak het.
Die eerste keer toe ek die gedeelte lees, toe dink ek natuurlik daaraan dat die Here my by die naam ken, dat Hy my geroep het (vers 1) en dat ek vir Hom kosbaar is (Vers 4) en dat Hy my te alle koste gaan beskerm. Alhoewel al hierdie dinge waar is, behoort met mens tog daaraan herinner te word dat die geadreseerders van hierdie baie persoonlike stukkie korrespondensie is nie ‘n Christen iewers in die 21ste eeu nie.
Eerstens die die geadresseerde nie ‘n inidvidu nie, maar ‘n groep. Die stukkie korrespondensie is gerig aan die volk Israel. Tweedens is dit nie in die 21ste eeu geskryf nie, maar waarskynlik 740-680 v.C.
In tipies laat modernisties en vroeg post-modernistiese individualisme wil ek elkeen van hierdie beloftes vir myself opeis. In daardie geval hoef ek net eenvoudig vir niks bang te wees nie. Die Here self gaan my elke keer beskerm. Indien ek dit so wil neem, dan maak ek myself oop vir teleurstelling.
Hoe verduidelik ek hierdie waarhede op ‘n individualistiese wyse vir die vrou met 5 en 7 jarige dogtertjies wie se man homself geskiet het en nou by my antwoorde soek?
Hoe verduidelik ‘n mens dit vir daardie dierbare man van Rustenburg wat op Kersdag geskiet is se familie? (Wentzel was die motorwag by ons vorige gemeente.)
Hoe verduidelik ‘n mens hierdie individualistiese fokus vir ‘n pa en ma wat sê: Ons het alles gedoen wat ons kon. Ons het kinders geleer van regte keuses en goeie waardes en Christenskap en al daardie dinge. Maar nog steeds kies my kind op een of ander manier om an heroïne verslaaf te raak?
So sou mens kon aangaan. Dit lyk vir my ons sal nog ‘n bietjie oor die antwoord moet dink. Al wat ek weet, is dat ‘n gemeente valse troos sou kry as hulle uit die gedeelte aflei dat ek vir God so kosbaar is, dat niks ooit skeef sal loop in my lewe nie.
Attie, Jes 42 & 43 het ons vir 30 dae elke dag gelees en gebid toe Ebert 7 vir sy lewe geveg het in die hospitaal. Die gedeelte in die Bybel het vir ons lewend geword en nie net woorde gebly nie, veral Jes 42:3 en Jes 43:1-7. Die twee gedeeltes het my hele uitkyk op die lewe vir altyd verander – verhoudings, verhoudings – tussen jou en God en tussen jou en jou medemens is waaroor alles gaan.
Môre Doomattie
Hmmm, hierdie is ‘n gedeelte waarvan Ding persoonlik baie hou: “…Wees nie bevrees nie, want Ek het jou verlos; Ek het jou by jou naam geroep; jy is myne!”
Wanneer dit by die Skrif se goete kom, Doom, is Ding mos maar ongeletterd en rasionaliseer Ding heel geredelik feite, want geloof is nie feite vir Ding nie. So, hoe Ding daai nog altyd gekyk het, is dat God nie gesê het uitdagings sal verdwyn wanneer ‘n mens nie bang is nie. God sê wel manman sal deur ‘n rivier MOET loop, maar die rivier sal jou nie verswelg nie. As jy deur vuur MOET loop, moenie bang wees nie – LOOP! Want die vuur sal jou nie verteer nie, omdat Ek (God) jou reeds verlos het; jou reeds geëien het; jou by jou naam noem; jy is Myne (God s’n).
As Doom vir Ding sal toelaat om bietjie langer te praat? Asseblief?
Gister se kerk diekant het gegaan oor God wie vir ons keuses gee. God gee duidelike riglyne soos die Tien Gebooie. Maar dan is daar goete waaroor God se Skrif nie noodwendig duidelike riglyne gee nie, soos of jy vanoggend blou of bruin sokkies moet aantrek; en of jy die chocolate koek of eerder die lemoen moet eet. Vir daardie gevalle het God ons die vermoë gegee om keuses te maak EN God het ons toegerus met die vermoë om dit met wysheid te doen. En wat is wysheid? Wysheid is om met vryheid en verantwoordelikheid keuses te maak.
So, Doom, as Ding nou hieroor klipsit hou, dan seg Ding: God gee hier universeel in tyd vir ons die versekering dat ons wel uitdagings in die lewe sal teëkom – om desjare deur ‘n rivier of vuur te moes gaan, moes omtrent ‘n uitdaging wees. Uitdaging is ‘n woordkeuse, maar dit kan ook ‘n probleem wees, hang af hoe ‘n mens se ingesteldheid is. En soos die tyd aanstap, raak ons probleme/uitdagings toenemend feller – mense maak keuses om hulleself of ander te verwoes, vernietig op uiterstes van maniere. Maar dan sê God vir Sy kinders wie agterbly: wees nie bevrees nie, want Ek ken jou; Ek sien vir jou! En Ek kyk wel na jou.
Neewat, Ding reken maar dis dwaas (teenoor wys) om met hierdie bevestiging van God te lewe asof manman vrypas het om grof te gaan. God is mos soos ‘n ouer, Doom, dan nie? Hy gee in liefde en Hy eien wat Syne is, en Hy laat baie vryheid toe, en soos ‘n ouer sy kind sal beskerm, sal God daai doen, maar boeta, vryf Hom verkeerd op, en Sy Toorn sal jou een of ander tyd laat verstaan met Wie jy te doen het. Eenvoudig eintlik.
Ek weet darem dis nie vir ‘n predikant so maklik soos vir Ding nie – Doom-hulle moet juis in diepte verduidelik sodat outjies soos Ding maklik kan rasionaliseer.
So, Doom, hoe verduidelik Doom vir daardie mense hierdie deel, Doom? Vertel asseblief?
Grondgroete
D
Attie, Ding verstaan die gedeelte net soos ek dit maar verstaan. Soos ek gister ook op die boek van my gesig (FB) se muur skryf: Ons is maar almal geknakte riete (Jes 42:3) maar ons val nie om en breek af nie bloot omdat al die ander geknakte riete in die bos ons regop hou. Swaarkry word ons nie gespaar nie, maar God is altyd daar. Sonder Hom sou ons geknak en omgeval het. Vandag hoor ons wat die pad voorentoe is wat Ebert moet loop met sy siekte en die gedeelte in die Woord word weer “lewendig” vir ons. Ek geniet jou blog oor ‘n honderd en geniet dit om elke dag te lees wat skryf jy en ander mense oor die dinge wat werklik saak maak. Doen asb so voort.
Goeie Middag, by beste Dominee. Baie dankie dat ek deel kan wees van julle gesprekke. Dit is vir my baie opbouend, dit skuur en skaaf my menswees. Ek gee nie om vir die pyne in die lewe nie en ek is ook vir niks bang nie want GOD is met my, my HERDER.
Ek wens ek was saam met julle in ‘n gemeente, vir jou Johan en Ding ook, want ek kan nie deelneem by my dorp se mense soos hier op Attie se blad oor openlike, eerlike gesprekke nie.
Attie, ek het per toeval op jou blad beland. Dit was ‘n besturing van BO.
Ek moes vir Elaine help met ‘n redenaars-toespraak en die tema was, skoene. Ek google skoene en beland op jou blad Attie van die verskillende geloofskoene wat jy aantrek. Daar kry sy amper volpunte ook vir ‘n redenasie want ek het jou stuk gebruik en daarvan af gewerk. Sien jy hoe werk GOD se plan. “Amazing” En jy vertel my in “detail” van my ou kerk waaroor ek vir jare heimweë gehad het. Ongelooflik Attie!
Christelle, As ek mag en ek sê dit met liefde: By God gebeur niks “per toeval’ nie. Alles wat gebeur is bestem om te gebeur. Van al die blogs waarna ek van tyd tot tyd kyk is Ds. Attie se blog die een wat vir my die meeste beteken. Dit laat mens groei, al hoef jy nie altyd saam te stem nie. Jy leer minstens iets, of Ds. Attie laat jou bietjie dink.
Middagsê mense – terwyl Ding nou so ietwat laterig naderskuif vir die middag se vieruurtjie… Ding wil darem ook net seg dit is bepaald sieninge wat ek met Christelle en Johan deel: geen toeval nie en Doom se gesels was en is maar vir Ding die lekkerste interaktiewe kerk. Van die dominee mag ‘n mens ook maar sê: “Stil broers, daar gaan ‘n man verby…”. Lank terug hier in die kuberruim het Ding vir Doom Attie God se Benjamin-kind gedoop – en dis hoe Doom vir Ding sal bly, al het ons toe nog nooit die oggendkoffie saam gedrink of gaan stap nie, hehe.
Grondgroete
Ding