POST-CHRISTENDOM – LAAT GEMEENTES TOE OM TE STERF

‘n Hele paar maande terug het ek hierdie “post” van Christiaan Piatt gelees waarin hy die opmerking maak dat gemeentes gehelp moet word om dood te gaan. Dinsdag het “Ding” my weer bewus gemaak aan die gedagte in sy kommentaar op my post oor Post-Christendom.  Sedert die lees van die artikel van Piatt dink ek daaraan daat daar eintlik so ‘n bediening behoort te wees. Met ander woorde, manne en vroue wat ‘n gemeente help om eerlik en opreg na hulle omstandighede te kyk en die kritiese vraag te vra:

Doen ons die regte ding deur die deure van hierdie kerk oop te hou?

In die skrywe herinner Piatt ons aan die eksperiment met die apies. Die eksperiment het behels dat ‘n piesang binne in ‘n bottel geplaas word. Die bottel se opening is net groot genoeg om die apie se hand in te pas. Wanneer hy egter die piesang gryp, is die opening te klein. Die apie kan egter nie sover dink om die piesang te los en dan sal hy weer vry wees nie. Hy klou aan die piesang vas en in die proses is hy sy eie gevangene. 

Ek dink saam met Christian Piatt dat baie gemeentes en kerke en groepe gelowiges in Suid Afrika so funksioneer. Ek dink dat ons nie genoegsaam werk met die gedagte dat hierdie nie my gemeente is nie en dat die kerk(gebou) nie my of die kerkraad of die gemeente se kerk(gebou) is nie en dat die inkomste wat die gemeente dan genereer (of nie genereer nie) ook nie enige iemand anders as die Here sin is nie.

Ek het beslis nie die antwoord vir wat met elke gemeente behoort te gebeur  wanneer die deure toegemaak word nie, maar ek weet byvoorbeeld dat ons gerus aandag kan gee aan ‘n vraag soos:

Hoe kan hierdie gebou, wat ons op hierdie stadium onderbenut, meer tot eer van God en tot die uitbreiding van sy koninkryk gebruik word?

 

12 Kommentaar

Filed under Die Kerk

12 responses to “POST-CHRISTENDOM – LAAT GEMEENTES TOE OM TE STERF

  1. Philip van Vuuren

    Attie, ek geniet jou skrywes geweldig; nie net omdat dit prikkelend is en sake aanraak waaroor ons moet nadink nie, maar ook omdat jy die ‘moed’ het om dit aan te raak. Ek stem vanoggend saam dat ‘n bediening in die lewe geroep moet word sodat gemeentes objektief kan besluit of hulle wil voortgaan of nie. Ek herinner my aan een stadsgemeente-tjie wat net nie wou sluit nie maar ook nie kon bekostig om ‘oop’ te bly nie. Hulle moes egter fondse van ring gementes ontvang net om die basiese dinge te kon betaal. So ook moet daar gemeentes wees wat baie geld het of liewer toegang tot genoeg fondse om goed te oorleef, maar die gehalte van hulle bediening is so power dat dit mense afkeer om deel te word/bly daarvan. Hierdie gemeentes moet ook sluit!! Want ‘n gemeente moet nie aan die gang gehou word met retoriek en emosionele afpersing dat “Gee vir die gemeente, want dit is wat van jou as christen verwag word” Vir my gaan die “gee” nie oor geld nie maar dit is eerder: bring jou talente en jou persoonlikheid en jou onderstuening en liefde en laat ons almal saam as gemeente van Christus kan saamleef – tot eer van God, tot voordeel van ons as lede an dan tot voordeel van die gemeenskap om ons. As n gemeente dit nie doen nie, voldoen dit nie, volgens my, aan die doel nie en moet summier sluit.
    Ek weet my gevoel is dalk nie populer nie – maar hey, ek probeer nie populer wees nie – ek vertel dit soos ek dink – al is ek dalk verkeerd.

  2. Môresê Doom!

    Of Doom nou ‘n pyp rook of nie, en of Doom nou die koffie partykeer ontsmet met ‘n ietsie of nie, Ding se oorwoë kennersmening (!), Doom, so hier uit Ding se hakskene uit, is dat dit nou vir Ding tyd is om maar vir Doom ‘n twakkie en ‘n ietsie te kom neersit op die koffietafel net vir ingeval, want hierdie mening van Doom Attie is ietwat revolusionêr…

    Op ernstige noot:
    Realiteit is dat daar gemeentes is wie werklik finansieel sukkel. Dit vorm ‘n bose kringloop. Gemeentes moet al harder werk om finansieel kop bo water te hou en dit skrik gemeentelede af – soos blyk uit een van die vorige kommentare op ‘n vorige inskrywing. Hoe minder gemeentelede daar is, hoe swaarder kry die gemeente finansieel…

    Ding dra eintlik maar net ‘n klein bietjie kennis van 2 gebiede en toevallig is die geografiese inligting in beide gebiede verbasend ooreenstemmend: binne redelike klein afstand is daar in elk van die 2 gebiede 3 verskillende gemeentes van die NG-Kerk. Die onmiddellike vraag is dan: hoekom nie 1 of 2 van die 3 gemeentes se deure sluit en net 1 of 2 gemeentes oorhou nie?

    Soos Doom tereg opmerk, verskil elke geval en sal elke geval op eie meriete beredder moet word. Maar dis bepaald nie so maklik soos sluit net die deure nie.

    Ek kyk na die kerk waarheen ek gaan – klein gebou, relatief klein gemeente, en hier is die kopseer: meeste gemeentelede daar is bejaardes. Hoe sluit jy daai gemeente net? Wat word van die oumensies? Die ander geval: geografies is dit verder om by ‘n ander kerk uit te kom en paaie is sleg!

    Moontlik kon ‘n alternatiewe benadering wees dat minder “buite-kerkverband”-uitreikingswerk (by gebrek aan ‘n meer toepaslike term) deur finansieel meer gegoede gemeentes gedoen word en beskikbare fondse eerder gekanaliseer word na sukkelende gemeentes?

    Gits, Doom, die gedagtes hardloop darem nou so wyd, Ouding moet die perde styf inhou…. Ding dink aan die praktiese, emosionele en psigologiese implikasies wanneer ‘n gemeente se deure sou moes sluit … te veel om op te noem … die finansiële implikasies – die struktuur, grond, verbeteringe binne geboue – alles dra tog waarde… Ding dink prakties aan moontlike maniere om gemeentes te hergroepeer en wat met die bates gedoen kan word, ens….

    Goed, so Ding sal eerder net volstaan met:
    1. Ja, in beginsel het Doom bepaald ‘n punt beet, maar dit is nog vroeg in die dag en soveel versiendheid mag die reaksie ontlok dat ‘n profeet nie in sy eie land geëer word nie;
    2. Ja, daar is gewis ruimte so groot soos die Groot Niks vir bediening en berading om gemeentes te lei tot die hergroepering en inskakeling by ander gemeentes waar die fisiese bates van kleiner gemeentes anders aangewend word.

    Sterkte! Staan sterk, sit stewig, lê laag, maar skiet sekuur.
    Ding

  3. Phillip: Hierdie sal nog ‘n rukkie lank ‘n hoogsomstrede saak wees. Ek dink egter ons sal moet begin praat hieroor.

    Ding, ek weet ek is hier omstrede in wat ek sê. Maar geleerdes sê graag: Die kerk is die een organisasie wat ter wille van sy nie-lede bestaan. DIt klink heel mooi om te sê laat die ryk gemeentes die arm en kleiner gemeentes help om hulle deure oop te hou, maar dan versorg ons maar net ons eie en ek dink dit is teen die wese van die kerk.

    Ek het geen idee hoe hierdie ding moet uitspeel nie en elke gemeente en geloofsgemeenskap (Want nie net die NG Kerk word geraak nie) sal begelei moet word om ‘n sinvolle en vreugdevolle antwoord te kry op: Wat is die beste manier om God se koninkryk op aarde te laat kom net soos in die hemel?

    Ek dink ons gaan soms by ‘n antwoord kom wat ons byvoorbeeld sê: Hierdie gemeentetjie versorg ‘n groepie mense geestelik en emosioneel op so ‘n manier dat dit deur niemand anders gedoen kan word nie. Ons moet hierdie gemeentetjie te alle koste aan die gang hou.

    Ander kere sal ons moet sê: Vriende ons verstaan julle emosionele verbintenis aan hierdie gebou en aan hierdie gemeente en aan mekaar, maar as julle julle gewig by ‘n ander gemeente ingooi, gaan julle bydrae tot die koms van God se koninkryk vermenigvuldig.

    Ek spekuleer nog.
    Woordgroete.
    NS – Lyk my daar is bietjie goggas op jou agterstoep. Die stoele wil net nie lekker staanplek kry nie.

    • Philip van Vuuren

      Attie – ek was etlike jare gelede aangestel as voorsitter van n kerkraad – iets soos in ‘hospital pass’ in rugby. Ten einde te oorleef het ons gemeente n ander gemeente oorgeneem, probeer saamsmelt met nog n ander gemeente, stappe geneem om die leraars op vroee pensioen te sit en vele ander pro-aktiewe stappe geneem. Die gevolg was – en ja, dit was nie baie lekker nie en die mense betrokke het dit erg negatief ervaar (dit was ook die rede vir my weiering om ooit weer in n gemeente betrokke te raak) – maar met die ekstra fondse wat die verkoop van die ‘oorgenome’ pastorie, die kerkgebou en kerksaal ingebring het, kon die gemeente finansieel goed oorleef EN groot gelde beskikbaar stel aan n evangeliesasie sending aksie in nabyglee areas waar daar groot nood was.
      Ek verstaan as iemand in Keulen vir my vertel dat hy jare reeds, soos sy vader en oupa en groot oupa, elke sondag twee keer aanbid in dieselfde kerkgebou en dit altyd wil doen. Hy kon my nie antwoord wat sou gebeur het as hierdie gebou vernietig was in die oorlog en n nuwe gebou opgegaan het???
      Net so, ons het almal by die Algemene handellar op die hoek ons kruideniersware vir ma gaan haal, tot Checkers en Pick and Pay ens gekom het. Nou ry ons verder.
      Ons het ook altyd in die plaaslike bioskoop gaan movies kyk, maar deesdae is dit slegs mootnlik in groot komplekse of in privaat sitkamers.
      Die goeie ding van die mens is dat ons is aanpasbaar en oorleef.
      Ek glo dat daar ingrypend gekyk moet word om minder gemeentes (van enige kerkgroep) te wees, en die fondse aangewend word tot voordeel van andere wie nie toegang tot hierdie fondse en fasiliteite het nie.
      Hoe vinniger ons dit begin, hoe beter – my opinie.

  4. Christelle van der Walt

    Ons het ‘n splinternuwe NG Kerk -Voorspoed Gemeente gehad in Rustenburg 1970. As kind kan ek onthou hoe ons hele gemeente hard gewerk het om die Kerk se skuld af te betaal. Later het ons die saal gebou. Ons was ‘n lieflike gemeente, dierbare liefdevolle Ds. Lubbe………

    Dertig jaar later – 2008 ry ek weer daar verby – toegesluit, tot die bome wat ons om die Kerk geplant het, het gevrek. In 2009 sloop hulle die Kerk en die saal en sit woonstelle daar op.

    Ek was so geskok, al die mooi herrineringe. Weg, ek kon nie weer teruggaan waar ek vandaan kom….. Weet julle hoe mis ek my Kerk waar ek groot geword het. My hele Sondagskool en Kinderkranslewe was daar gevorm. Dit is weg vir ewig weg….

  5. Hierdie gesprek loop sommer lekker! Kyk nou net: die rasionele, praktiese denke van Philip en die emosioneel akkurate vertelling van Christelle.

    Ja, Doom, die gesprek sal moet begin en Ding kry ‘n beter idee van hoe die ratte in Doom se kop werk hierdie week – die inskrywings hierdie week stuur subtiel na die eintlike fokuspunt van vandag se inskrywing. Dit is goed om die winkel se binnekant te ken voordat ‘n mens die bul daaraan loslaat, ja.

    Ding hoor vir Doom wanneer Doom sê die kerk moenie net die kerk self versorg nie, maar dat die kerk oor meer as dit gaan. Maar die kerk kan nie ander versorg as die kerk nie die kerk self versorg nie. Manman moet sy naaste liefhê soos manman homself liefhet – nie liewer nie😉 Nou, as ‘n kerk leegloop omdat gemeentelede nie meer die kerk bywoon nie, waar sal die kerk dan in elk geval die middele vandaan haal om die wyer-as-die-kerk-werk te doen?

    Hergroepering is noodsaaklik; dit is so. Maar dit sal met grootse omsigtigheid benader moet word, in Ding se beskeie mening – om te torring aan ‘n man se kerk, is so erg soos om aan ‘n man se grond te torring en daar is baie van ons wie reeds op die punte van onse stoele sit omdat ons in die algemeen bedreigd voel en emosioneel gedreineer is tot die mate dat ons soos ‘n vasgekeerde wildedier optree.

    Ja, ons praat maar nie oor die goggas nie; Ding glo mos aan oordosis – die hele agterstoep weggeblaas met ‘n ton TNT vasgemaak aan ‘n ton Karbadust, net vir ingeval! Darem is daar nog die res van die huis, hehe.

  6. Christelle van der Walt

    Ek glo nie daar is iets wat ‘n mens aan so ‘n saak kan doen nie. Die koel is letterlik deur die Kerk.

    Ek kan nou nie my vinger op die vers druk waar daar staan, ” my huis sal ‘n pakhuis word en afgebreek word” Ds. Attie waar staan dit nou weer?

  7. Christelle: Ek was in Rustenburg in die tyd toe Voorspoed toegemaak het. renate was toe orrelis daar. Ek onthou hoe ds. Snowy Swart met die gemeente daaroor gepraat het. Elke lidmaat moes toe net hulle dankoffer met R20.00 per maand opstoot om te oorleef. Hulle kon nie. Die probleem was egter nie soseer die lidmate maar dat die omgewing verander het en dat die mense wat in Voorspoed se omgewing gebly het meestal swart was (Daarmee bedoel ek dat Afrikaanse NG nie hulle eerste keuse van kerk was nie en maak ek nie ‘n rasse-uitspraak nie) Op die ou end is daar na ‘n lang proses besluit om die gebou te verkoop. Die lidmate kon kies of hulle by Rustenburg Moedergemeente of Rustenburg-Wes wou inskakel. Die meeste is na Moedergemeente toe. Gaan doen bietjie navraag oor wat tans by Rustenburg Moeder-gemeente gebeur. Toe die twee groepe se mense bymekaar kom het daar met die verloop van tyd onder die leiding van ‘n baie oulike dominee, ‘n dinamiese gemeente tot stand gekom wat ‘n groot verskil in die gemeenskap maak. Die dag toe hulle die laaste erediens in die kerkgebou gehou het was baie hartseer, maar uit daardie pyn is ‘n nuwe dinamika gebore. Dieselfde mense wat die seer beleef het, was baie vasbeslote dat Rustenburg-Modergemeente ‘n mooi gemeente moes wees. Met die hulp en die genade van die Here, het hulle dit mooi reggekry.

    Ek dink nie die koeël is deur die kerk vir die kerk nie. Die kerk sal bly voortbestaan totdat die Here Jesus weer kom. Dit sal dalk net nie kerk wees soos ons kerk ken nie.

  8. Ding: “Omsigtigheid” is die belangrike beginsel. Een van die probleme waarmee die kerk deur al die eeue worstel is die “one-size-fits-all” gedagte. As dit by jou werk en ons doen dieselfde sal ons dieselfde resultate sien. As ons hierdie ding met die “one-size-fits-all” mentaliteit benader, dan gaan ons onbeskryflik baie skade doen. Dan moet ons eerder los om eers daaroor te begin praat.
    Woordgroete

  9. Christelle van der Walt

    My wêreld Attie, dit is wonderlike nuus wat ek hoor. Ek en my Man is in 1986 in die Gereformeerde Kerk – Oos Einde getroud Ds. Venter Al die houtwerk het hyself in daardie Kerk gemaak, was ook nuut gebou.
    Baie interessant ek sal bietjie navraag doen. My ouers het late verhuis na SafariTuine en so het ons heeltemal kontak verloor met al die gemeente.
    Baie dankie ons sal bietjie opvolg.

  10. Pingback: POST-CHRISTENDOM – ‘N ANTWOORD | Attie se koffietafel.

  11. Pingback: JESAJA 43:1-7 (2) | Attie se koffietafel.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s