POST-CHRISTENSDOM OF JY WIL OF NIE

Die engelse woord klink beter “post-Christianity”. ‘n Post-Christenskap wêreld is ‘n wêreld waar Christensdom nie meer die dominante of oorheersende godsdiens of kultuurverskynsel is nie. Ons begin al hoe meer sien dat waardes, kulture en wêreldbeskouinge wat nie-Christelik is weier verkondig, aanvaar en mee ge-identifiseer word. (Sommige sou dalk wou sê dat ons pre-Christen is met die dat ons met die Afrika-kulture te make het, maar ek dink dit is bietjie paternalisties om so te dink.)

Wanneer ek kyk na dit wat besig is om rondom ons te gebeur dan sien ek die volgende: 

  • Kerke en gemeentes het nie meer ‘n sentrale plek of rol in ons gemeenskappe nie. 
  • Christene is ‘n minderheidsgroep in ‘n wêreld waar daar menigte ander ideologië en godsdienste is.
  • Christen kerke en gemeentes wil nie meer in die gemeenskap heers nie.

Hierdie post-Christensdom era waarin ons nou lewe het nuwe uitdagings:

  • Christene en gemeentes sal in hierdie post-Christensdom  gemeenskappe sigbaar uitdrukking moet gee aan die Koninkryk van God om in hierdie kultuur getuies van die opgestane Here Jesus Christus te wees. 
  • Kerke en gemeentes en Christene sal hulleself moet sien as ‘n beweging en nie ‘n institusie nie. (Dawid Bosch het my die verskil tussen die twee geleer. ‘n Beweging steek grense oor. ‘n Institusie bewaak die grense.)
  • Kerke en gemeentes en Christene sal te alle koste die handhawing en die bewaring van die status quo moet laat vaar en as randfigure in hierdie post-Christelike samelewing Jesus oor grense heen moet volg.

Ek het oor die laaste tyd te veel tekens gesien dat baie gemeentes nog nie eers naby aan die post-Christensdom denke is nie. Te veel Christene, kerkleiers, gemeentes aanvaar dit as vanselfsprekend dat hulle ‘n plek in die samelewing moet hê en dat as hulle net aanhou om te doen wat hulle doen soos hulle dit doen, sal die mense kom. Te veel, kerkleiers, gemeentes en Christene is tevrede met tweede beste of selfs sub-standaard werkswyse en funksionering in ‘n wêreld wat net met die beste tevrede is.

Ek is bevrees, die doodsklok lui vir baie meer gemeentes as wat ons dink.

12 Kommentaar

Filed under Die Kerk

12 responses to “POST-CHRISTENSDOM OF JY WIL OF NIE

  1. Ek dink nie dit help ons enigsins om van “post-Christenskap” te praat nie. Die Christelike godsdiens bly die godsdienstige oortuiging waaraan die grootste enkele groep mense in die wêreld verbind is, en in Suid Afrika bly dit by verre die grootste godsdienstige groep. Om vandag reeds te treur oor “post-Christenskap” verklap dalk dat ons met die vooronderstelling werk dat die ideaal is wanneer 100% van ‘n samelewing Christene is, en enigiets anders as dit betreur moet word. Dit verklap ook moontlik dat ons onkrities analises van Noord-Wes Europa (nie eend die hele Europa nie) op ons konteks gaan toepas.

    Fokus eerder op “post-Christendom” – die idee dat die kerk nie meer beheer het oor die samelewing nie, maak nie saak hoeveel mense hulself persoonlik tot die kerk verbind het nie. Dit beteken nie eens dat “Christelike waardes” nie meer sentraal staan in ons gemeenskappe nie (ons skiet onsself net in die voet met so ‘n uitspraat; dink maar aan die groeiende konsensus oor menseregte, iets wat onlosmaaklik verbind is aan ‘n geskiedenis van Christelike refleksie oor waardes vir ‘n samelewing), maar bloot dat die kerk of haar publieke rol as kerk moet leer speel, of anders in ‘n private ruimte ingeforseer gaan word. Die kerk kan bloot nie langer mag uitoefen oor publieke skole, hospitale, barmhartigheidsdienste of die media nie.

  2. Cobus – ek dink jy is reg. Ek het gewonder wat die regte term sou wees. Ek gaan dit so verander.

  3. Dagsê Doom

    Hierdie gesprek is interessant, maar ietwat bo Ding se vuurmaakplek, moet Ding bieg.

    Ding kry dit nie helemal reg om Ding se vinger op die kern van die kommer te plaas nie. Is die kommer dat gemeentes (prakties dus bv die XYZ-gemeente van die NG-Kerk) besig om tot niet te gaan? Of is die kommer dat die Christen-kerk(leiers) nie meer ‘n staanplek in die wyer gemeenskapsbeginsels soos vergestalt in regering, skole, gemeenskapsdienste ens het nie? Presies, prakties, wat is dit waar die doodsklokke lui?

    Waarmee Ding wel identifiseer, is dat geloofsoortuiging ‘n beweging moet wees en nie ‘n institusie nie. Ding hou baie van daardie uitgangspunt.

    Ding hou van wat Cobus sê. Ding wonder nou maar net: behoort ‘n Christen te strewe na die uitbreiding van Christelike oortuigings tot die ideale einddoel dat almal van Christelike oortuiging is (met ander woorde dat daar nie ruimte is vir ander geloofsoortuigings nie); of behoort ‘n Christen te aanvaar dat Christelike-oortuigings net nog ‘n filosofie is en dat dit ideaal moet “co-exist” met alle ander geloofsoortuigings?

    Gits, hierdie is vir Ding ‘n moeilike onderwerp, sommer klaar en kort gesê. So dankbaar Ding is nie ‘n dominee of kerkleier nie…

    Grondgroete
    Ding

  4. DIng – ek dink gemeentes XYZ moet voorberei om hulle deure toe te maak. Christenleiers (Soos dominees) het lankal nie meer ‘n staanplek in die gemeenskap nie.

    Ek dink dat Christene moet aanvaar dat ons ter wille van die groter en geheel en in die gees van die liefde van die Here Jesus wat ons wil uitleef, moet aanvaar dat ons MOET “co-exist”. Terwyl ons so “co-exist” hoef ons egter nie skaam te wees vir die waarheid van die evangelie van Jesus Christus wat ons verkondig nie en mag ons selfs ander oproep om deel te wees van dit waarin ons glo. Net soos enige ander “filosofie” die reg om hulle “waarheid” te verkondig.

  5. Christelle van der Walt

    Goeie Môre Attie – Jy slaan die spyker op die kop met hoe jy hier redeneer Attie.

    Groot fout lê by vandag se ouerhuise. Die Pa speel nie meer die leierfiguur nie. Ma speel nie meer die moederfiguur nie. Geen dissipline en respek nie en so kring dit uit na die kind wat onopvoedbaar groot woord en nou sit die skool met die probleem.

    Als draai net om geld (Mammon) plaas van om liefde.

  6. Dankie vir die gesels, Doom Attie. Dit is ‘n hartseersaak dat daar gemeentes is wat werklik stry om oorlewing. Ek sien dit om my. Om vandag ‘n kerkleier te wees, is moeilik. Alhoewel ek geen kenner op hierdie gebied is nie, dink ek Doom het ‘n wesenlike punt hier beet met wat Doom sê hierbo. Hoe voel kerkleiers in die algemeen hieroor, Doom? Is wat Doom hierbo in die inskrywing gesê het, ‘n stem in die woestyn of is daar oor die algemeen ondersteuning vir die standpunt?

    Doom, vir wat dit werd mag wees: ek het Doom al van lankal af ervaar as meer verlig as die norm – ek dink nog steeds so.

  7. Ding: Ek dink darem dat die gevoel van “co-exist” al hoe meer veld wen en selfs sterk staan. Wat die toemaak van gemeentes betref dink ek soms dat ons te veel gemeentes op “life support” het. Ek dink daar is groot ruimte vir ‘n bediening wat gemeentes begelei om hulle deure toe te maak.

  8. Christelle, dit is ‘n interessante perspektief – ouerhuise. Miskien het die wêreld soos ons dit ken, tot ‘n einde gekom sonder dat ons dit (wil) besef. Miskien is ons reeds in ‘n nuwe wêreld(bestel) waarin die man homself moet herontdek en sy leiersrol moet heroorweeg. Om werklik man te wees, is om leier te wees, inderdaad, maar leierskap van die man gaan om baie, baie meer as om ‘n huishouding te “regeer”. Patriargie is wat verby is; ‘n nuwe rigting en metode is waarmee die man behoort te lei… Ding ondersteun nogal jou perspektief!

  9. Hergroepeer, Doom? Hmm, my afleiding is dat die kerk se posisie, soos die res van lewe soos ons dit ken, in ‘n warboel is tot ‘n groot mate. En dit is inderdaad al baie laat in die dag, maar verandering is nodig. Jip, so daar behoort ruimte te wees om gemeentes te begelei om hulle deure toe te maak. As ek dit nou reg verstaan?

  10. Pingback: POST-CHRISTENDOM – LAAT GEMEENTES TOE OM TE STERF | Attie se koffietafel.

  11. Pingback: POST-CHRISTENDOM – ‘N ANTWOORD | Attie se koffietafel.

  12. Pingback: Heer waar dan heen, is die kerk oppad heen? « die ander kant

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s