Advent beteken “wag”. Ons het gewag vir Kersfees. Ons kan nie sê dat ons gewag het vir die geboorte van Jesus nie. Hy is reeds gebore – ongeveer 2000 jaar gelede in Betlehem. Die beste wat ons kan doen is om te sê dat ons gewag het om die geboorte van ons Here Jesus Christus te vier.
Maar, Advent is nie die enigste seisoen van wag nie. Advent – die seisoen van wag – is bedoel om ons voor te berei vir lewe in geloof. Ons lewe in die geloof dat God besig is om ‘n nuwe hemel en ‘n nuwe aarde te skep. ‘n Nuwe toekoms van reg en geregtigheid; vrede en vryheid; versoening en herstel.
Hierdie werk waarmee God besig is, is egter nie so duidelik sigbaar nie. Ek dink maar net aan my eie lewe en my eie omstandighede en my werk met mense en hulle seer. Soms voel ek ook om te sê dat God se werk nie net “nie duidelik sigbaar” is nie. Ek voel selfs om met tye te sê: God se werk is afwesig. Sommer net nie daar nie. Ek sien nie eers die tekens dat iets besig is om beter te word nie.
Advent behoort my egter voor te berei en te leer om te wag. Om met die verwagting te leef. Advent leer my om te wag.
Ek beleef egter dat ek met ongeduld wag. Mag ek sê: Heilige ongeduld. ‘n Heilige ongeduld teenoor maklike antwoorde en eenvoudige oplossings en ‘n teologie van voorspoed wat al God se kinders net altyd die beste kry en die beste beleef. ‘n Heilige ongeduld wat my wil oorlaai met ‘n skuldgevoel as my lewe hier op aarde nie volmaak is nie en die kerk hier op aarde nie volmaak is nie en gelowiges en Christene nie alle is wat ander dink hulle moet wees nie. Heilige ongeduld teen die wat hulle eie geloofsgemeenskap verkondig asof God se toekoms in hule en deur hulle reeds aangebreek het. Heilige ongeduld teenoor myself wat ook nie in my eie verhouding met die Here is waar ek so goed weet dat ek veronderstel is om te wees nie.
Ek wag, met ‘n heilige ongeduld na die dag wanneer Jesus tog weer gaan kom en ons deel gaan maak van sy nuwe hemel en sy nuwe aarde.
Advent leer my om met alles wat daar in my is vas te hou aan die enkele belofte dat God alles weer gaan regmaak. Advent leer my om elke dag van my lewe te wag. Al sou dit dan wees met ‘n heilige ongeduld.
Want hoop is die seker wete dat God ‘n nuwe toekoms gaan laat aanbreek.
Ons geloof moet soos Maria sinne wees.
Net soos sy die Engel hoor praat het met haar, so hoor ons GOD se stem uit sy Woord praat met ons. Sy het nege maande opgewonde gewag want sy het geweet iets wonderliks gaan gebeur.
Ons weet nie hoe lank ons gaan wag nie maar die tekens het GOD vir ons gegee uit SY Woord. Ons weet dat iets wonderliks gaan gebeur wat geen mense oog nog ooit gesien het nie.
Hou vas daaraan en volhard met als wat jy is en het.