DIE LIED VAN MARIA 2

Maria was sonder twyfel baie verbaas toe sy die boodskap kry dat sy swanger is terwyl sy nog ‘n maagd was. Met ander woorde, dat God haar op ‘n wonderwerkende manier swanger gemaak het en dat uit haar die Verlosser van die wêreld gebore gaan word.

Verbaas sê egter sekerlik nie genoeg nie. Iewers moet die woord geskok ook inkom. (Maria is immers ongeveer 12-13 jaar oud.) Geskok haas sy haar na Elisabeth. Elisabeth is immers ook swanger – onverwags. Anders as Maria, het Elissbeth ten minste ‘n man.

Ek dink die reis na Elisabeth moes vir Maria baie tyd gegee het om te dink oor wat in haar aan die gebeur was. Ek dink sy moes die verhale van die Bybel wat sy as kind geleer het, in herinnering geroep het en met die verloop van tyd het dinge vir haar bietjie meer sin begin gemaak en was dit nie meer vir haar so vreemd dat God haar gekies het nie. (Sien gister se insetsel HIER) Dit was immers in ‘n groot mate God se werkswyse om die meer onwaarskynlike een te kies.

Maar, tog moes sy verras gewees het toe Elisabeth haar groet as “die moeder van my Here.” Iewers langs die pad moes Maria besef het: Hier kom ‘n ding.

Wanneer ek Maria se lied lees, is dit duidelik dat Maria besef: Hierdie kind wat op hierdie stadium binne in my groei en ontwikkel gaan hierdie wêreld waarin ek lewe op sy kop draai. Hy gaan hierdie mense wat so vol van hulleself is en in hulle eie oë onoorwinlik en onvernietigbaar is tot orde roep. Hierdie mense wat hulle geld misbruik om die wat nie het nie te laat ronddans vir gunste en gawes gaan beleef wat dit beteken om te smeek.  Hierdie mense wat mag misbruik en nie huiwer om alle magte en kragte en owerhede te beheer en te manipuleer gaan gestroop word van alle mag en gesag. Hierdie babatjie wat in haar groei gaan hulle dinge deurmekaar kom maak. Maria het besef dat haar seuntjie gaan veroorsaak dat dinge anders is. Mense wat in hierdie lewe hulle sekuriteit en sekerheid in aardse status en rykdom en posisie en magte gevind en geplaas het, gaan ontbloot word as leeg, kragteloos. Hulle sal dan skielik magteloos, arm, beklaenswaardig en naak wees.

Wat Maria se lied vir my sê is: Wat met Maria gebeur het, gaan met die ganse skepping gebeur. Maria kon dit sien. God het ‘n besondere liefde vir die armes. God gee op ‘n besondere manier om vir die mense wat na die rand van die samelewing uiterangeer word. God is op ‘n baie spesiale manier betrokke in die lewe van die mense wat geen stem het nie en geen hoop het nie het nie en geen mag het nie en geen verweer het nie. Maria het gesien dat in God se koninkryk sal al die verkeerd wat hierdie armoede en swaarkry veroorsaak het, reggestel word. Maria sien ‘n koninkryk van haar seun en van God se Seun waar al die onreg van hierdie wêreld tot niet gemaak sal word en dat die ganse aarde gevul sal word met die reg en geregtigheid van God en van sy koninkryk.

Die enigste vraag waarmee ek worstel, veral na verlede week se ANC kongres waar die ANC oënskynlik maar net weer gekies het vir die onreg en die misbruik en die uitbuiting en die onderdrukking en die leuens, is: Sien ek dit nog so duidelik as wat Maria dit gesien het?

3 thoughts on “DIE LIED VAN MARIA 2

Add yours

  1. Ek dink Maria wat so vol van die Heilige Gees dat sy soos ‘n ster geskitter het. Sy was seker die gelukkigste vrou wat ek al ooit van gehoor het.

    Attie, as jy ons land se geskiedenis baie, baie goed ken van voor Jan van Riebeeck se tyd af terug tot in die Bybel. Wat het ons oor en oor gelees.

    Die verskriklike styd tussen goed en kwaad. Tweestryd en dit sal nooit ophou nie, nie tot die dag kom wanneer ons weer vir JESUS op die wolke sien nie en hy vir Satan verewig verslaan het.

  2. Ja Christelle ek stem saam met jou die stryd tussen goed en kwaad sal net ophou wanneer Jesus weer kom. Maar, ons is nog op die aarde en ons het kniee werk om te doen bid, bid en nogmaals bid vir ons regering want om hulle af te kraak gaan ons nerens bring nie. Maria was inderdaad n geseende vrou. Attie waarom word daar deesdae van die preekstoel gepreek van n jong vrou is dit om die maagdelike geboorte te verwerp. Ek ken baie jong vrouens wat kinders het. As sy deur die Heilige Gees bevrug was dan is sy belsis n maagd.

  3. Magda: Ek dink wel daar is sommige wat die term “jong vrou” gebruik omdat hulle ongemaklik is met die gedagte van die maagedelike geboorte. Ek dink egter nie almal wat dit doen voel so oor die maagdelike geboorte nie. Die Griekse woord wat met “maagd” vertaal word kan jong vroyu of maagd beteken.

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s

Blog at WordPress.com.

Up ↑

%d bloggers like this: