Hemelse Vader, ek dink vanoggend aan Maria wat “ja” gesê het om deel te wees van dit waarmee U besig was. Maria was bereid om U te dien en as ongetroude meisie swanger te raak met haar seun en U Seun. Ek dink vanoggend aan die kere wat U my roep om deel te wees van dit waarmee U besig is. Gee vir my meer van Maria gesindheid.
U weet dat ek meestal “ja” sê wanneer ek besef dat dit U is wat my roep om U op een of ander manier te dien. Dankie dat U my in geringheid raaksien. Ek dink egter ook aan daardie kere wanneer U roeping waarskynlik by my verbygaan as gevolg van myself. Omdat ek dalk bevooroordeeld is oor die saak waartoe U my roep of nie hou van die mense saam met wie ek sal moet werk as ek “ja” sê nie, of sommer net oor ek ek is. Vergewe my die kere wat ek dit mis om deel te wees van U werk hier op aarde.
Ek is so buitengewoon bevoorreg. As ek dink aan die huis waarin ek bly en die karre waarmee my gesin ry en salaris wat ons elke maand kry en die mense wat vir ons omgee, dan is ek in besonder geseënd. Baie dankie vir die rykdom van U seëninge in my lewe. Leer my dankbaarheid.
Ek wil vanoggend saam met Maria bid:
Ek is tot beskikking van die Here. Laat met my gebeur wat U gesê het.
Amen
Dankie Attie!
Attie, ek kan lees dat jou gemeente vir jou goed is. Dit is goed om dankbaar te wees. Min mense se “bekers loop oor” tye is moeilik.
Ek kan lees so tussen die lyne dat jy baie eerlik is met jouself en dit is baie belangrik. Jy moet jouself baie goed ken om ander mense te ken. Mooi boodskap dankie.