By die eerste lees van die Lukas-evangelie dink mens eintlik dat Lukas eerder ‘n “musical” geskryf het. Eers sing Elisabeth, dan Maria, dan Sagaria en dan die engele by die herders. Nie een van die liedere is egter so dramaties soos Maria sin nie.
In haar lied verduidelik Maria dat die onlangse gebeure waarin sy vasgevang is, haar iets leer van God en hoe God werk en waarmee God besig is. Maria is alte bewus van haar nikseggende posisie en status in die tyd en omgewing waarin sy lewe nie. Sy was immers niks anders as eiendom nie. Sy behoort eerste aan ‘n pa en dan later aan die man aan wie haar pa haar gegee het. Hierdie man kan van haar skei net wanneer hy wil, terwyl sy self nooit daardie keuse sal hê nie.
Maria behoort nie aan ‘n bekende gesin nie en word nie groot in ‘n belangrike stad nie. Sy het geen hoop en geen droom om ‘n verskil in die wêreld te maak waarin sy groot word nie, of dat die volgende geslag enigsins van haar sal weet nie. Tog het God haar besoek met nuus so oorweldigend, dat selfs sy die res van haar lewe sou neem om dit te verwerk.
Hierdie is een ding wat Maria geleer het: God hef die nederige op en sien die onbelangrike raak en kies die meer onwaarskynlike. Miskien het Maria haar Bybelstories onthou. Hoe God Abram en Sarai gekies het om die verbond mee te sluit. Miskien het sy onthou hoe God in Genesis altyd besig is om die jonger kind, in plaas van die baie belangriker ouer kind, te kies. Miskien het sy die hakkenlende Moses en die brose Rut onthou. Dalk het sy in herinnering geroep hoe God Israel gekies het en nie Babilon met sy hangende tuine of Egipte met sy piramides nie.
Dit is hoe God werk. Wie is ek en wie is jy om eerstens te sê dat ek (of jy) nie goed genoeg is vir dit wat God in hierdie tyd wil doen nie.
Attie ek voel bevoorreg want ek maak vanmiddag my e-posse oop en hier lê ‘n rits persente van jou af. Dit gaan my nou ‘n tydjie neem om sorgvuldig deur almal te gaan. Dit is vir my soos geskenke oopmaak. Opwindend want die Heilige Gees praat met my.
Maria was beslis ‘n baie geseënde vrou. GOD het haar sorgvuldig uitgesoek om SY wil te laat geskied. Als wat GOD doen is goed dit is werklik perfek. Ons weet eintlik niks van GOD so groot is HY.
Pragtige stukkie hierdie.