Hemelse Vader, baie dankie vir die vergifnis wat U vryelik aan elkeen van ons skenk deur U Seun Jesus Christus. Dankie dat daardie vergifnis juis vir elkeen van ons die deur oopmaak om in ‘n verhouding met U te kan lewe. Inderdaad ‘n Pa-kind verhouding. U is my Vader. Ek is U kind. Dankie dat U ook vir ons die gawe van gebed gegee het om hierdie verhouding met U te verdiep. Hemel Vader, ek het die behoefte om my ganse lewe oop te maak en al meer en meer te groei in my verhouding met U.
Hoe wonderlik is dit nie om te weet dat U vergewe nie. Elke keer wanneer ek nodig het om ‘n sonde te bely en U Heilige Gees in my die sekerheid werk dat ek vergewe is, beleef en U nabyheid en U teenwoordigheid. Ek wonder dikwels waarom U met tye nie so naby is as wat ek U graag sou wou hê nie.
U Woord leer my vanoggend dat ek ander moet vergewe sodat my Vader wat in die hemel is my ook kan vergewe. Vader, ek besef dat onafgehandelde seer tussen my en ander my verhouding met U versteur. Ek wil vergewe. Nie soseer ter wille van die ander persoon nie, maar ter wille van my verhouding met U. Die seer van die dinge waarvoor ek moet vergewe maak dat ek nie omgee of die ander persoon weet hy/sy is vergewe nie. Daarom wil ek vergewe ter wille van my verhouding met U. Ek bid egter ook dat wanneer U die seer van die genees, dat U ook weer vir my die vermoë sal gee om lief te hê soos U my liefhet.
Maar, Vader, ek besef ook dat ek dinge doen en sê wat as gevolg van my eie selfsug en sonde ander mense seermaak wat dan weer nodig het om my te vergewe. Ek besef daar is mense wat met seer rondloop as gevolg van dit wat ek gesê en gedoen het. Ek pleit by U om vergifnis vir die seer wat ek ander veroorsaak het, maar ek vra ook dat U vir my die geleentheid sal wys en sal gee om reg te maak waar nodig.
Ek wil vergewe omdat ek ‘n gesonde verhouding met U wil hê nie. Ek wil vergewe omdat U dit vir my moontlik maak om in ‘n gesonde verhouding met U te lewe deur die verlossingswerk van U Seun Jesus Christus, my Here en Verlosser.
Skep in my ‘n rein hart o, God.
Vergewe my my oortredings soos ek ook die vergewe wat teen my oortree.
Amen
So waar Attie wat jy vir ons vanoggend hier skrywe: vergifnis – as jy nie vergewe nie bly dit gif word gal.
Ek het geleer om te vergewe en dit was die wonderlikste, fantastiese ervaring. Dit is seker die beste ding wat ‘n mens vir jouself kan doen.
Jy is volkome vry…..