OGGENDGEBED 19 NOVEMBER 2012

Hemelse Vader, ek lees vanoggend Elisabeth se woorde aan Maria: “Gelukkig is sy wat glo dat in vervulling sal gaan wat die Here vir haar gesê het.” (Lukas 1:45) Ek dink aan Maria en Elisabeth en dan dink ek: Hier is waarskynlik die eerste twee volgelinge, dissipels, van U Seun Jesus Christus. Elisabeth erken Hom as “my Here” en Maria sing ‘n lied oor die wonderlike dinge wat Hy gaan doen. Vol vertroue dat hierdie kindjie gaan doen wat die Woord belowe het Hy gaan doen.

Ek beny hule vanoggend hulle onwrikbare vertroue dat U U beloftes waar gaan maak. Dit lyk asof die vertroue sommer net so vanself gekom het. Die engel het eers met Sagaria en toe met Maria gepraat en die twee vrouens het geglo en gevolg en vertrou.

Tog lees ek vanoggend ook tussen die lyne die vrees en ek weet so goed dat vir beide die pyn van die ontydige en wreedaardige dood van hulle seuns later byna ondraaglik moes wees. Vir my is vrees en vertroue baie naby aan mekaar. As ek nie vertrou nie, dan vrees ek. As ek vertrou dan vrees ek nie. Ek besef ook dat hierdie twee vroue rondom hulle geen bewyse gehad het dat hulle vertroue nie dalk misplaas is nie. Alhoewel beide deur U werking swanger was, het die een tog die risiko van verwerping en steniging geloop omdat sy swanger was terwyl sy nog ‘n maagd was.

Ek wil vanoggend soos Maria en Elisabeth deur U Gees diep in my binneste daarvan verseker word dat U in beheer is.

Ek glo dat U in beheer is van U skeppping en dat U in U skepping aan die werk is.

Ek glo dat U Here Jesus aan die regterhand van die Vader sit. Ek glo dat U heers. Ek glo dat U nou, vandag reeds, koning is oor alles en oor almal.

Ek glo dat U eendag weer gaan kom en dat die nuwe aarde en die nuwe hemel die plek gaan wees waar ons saam met U gaan woon.

Ek glo dat U, o Heilige Gees, in die kinders van die Vader en in en deur die kerk van ons Here Jesus besig is om sigbare en tasbare tekens op te rig van die komende koninkryk van God.

Vergewe my, maar, ek het soms nodig om daaraan herinner te word dat ek vir U saak maak.

Ek het soms nodig om te beleef dat U aan my ‘n belofte maak soos U aan Maria en Elisabeth gemaak het en dat daardie belofte in vervulling gaan.

Ek het soms nodig om te beleef dat U die dinge wat met tye my lewe ontwrig onder U koningsheerskappy neem.

Ek het soms nodig dat U in my lewe inkom en die storms stilmaak en U hand uitsteek en keer dat ek nie verdrink nie. Selfs al sou U my twyfel en my kleingeloof raaksien en my daaroor vermaan.

Soos Maria en Elisabeth weet ek dat U daar is ten spyte van alles rondom my. Ek sal ook ‘n loflied tot U eer sing. Ek sal ook U Naam grootmaak.

Heilige Gees van God, open my ore om God se beloftes te hoor.

Open my oë om God se werking te sien.

Open my hart sodat ek vreugde in U sal vind en dit nie in my omstandighede sal soek nie.

Leer my om U in alles en deur alles met alles te vertrou.

Aan U kom toe die heerlikheid tot in ewigheid.

Amen

1 Kommentaar

Filed under Gebed, Oggendgebed

One response to “OGGENDGEBED 19 NOVEMBER 2012

  1. Christelle van der Walt

    Baie, baie dankie Attie – In jou gebed loof en prys jy al die 10 gebooie.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s