OGGENDGEBED 16 DESEMBER 2012

Here Jesus, U is die Lig. U het die duisternis oorwin. Op hierdie Sondag-môre besef ek dat ek en elke ander Christen geroep is om die lig in hierdie wêreld te wees. Die wonderlikste lig wat U lig nog ooit in my lewe kom skyn het, was die dag toe my oë oopgegaan het vir die grootheid van U genade en U liefde vir my en ook vir ander. . Op daardie dag, Here Jesus het U lig in my lewe kom skyn en die duisternis kon dit nooit weer oorweldig nie.

Ek eer U en ek dank U vir elke mens wat U gebruik om vandag steeds U lig in my lewe te laat skyn. Dankie vir mense in my klein geloofsgemeenskappie wat my laat voel dat ek vir hulle belangrik is. Dankie vir familie en vriende wat ek soms voel U met die hand uitgesoek het, spesiaal vir my. Dankie Here vir mense wat U gebruik om my batterye te laai sodat my lig kan skyn.

Ek dink vanoggend aan die stryd tussen die lig en duisternis in my lewe en hoeveel kere ek toegelaat het dat die duisternis in my lewe inkruip. Dankie dat U helder lig dan tog ook weer daardie duisternis oorwin het, uitgedryf het. Ek bid vanoggend vir mense wat vasgevang is in een of ander vorm van duisternis. Dalk is daar van hullle wat wens en smeek en roep om uit daardie duisternis uitgelei te word. Gebruik van U kinders om sulkes aan die hand te vat en uit die duisternis van hulle eie sonde uit te lei.

Ons ken ook die duisternis van seer. Seer wat maak dat elke lig rondom mens uitgedoof word. Totdat jy voel: Nou is dit net ek en hierdie duisternis. Seer wat maak dat ‘n mens met skrefiesoë probeer sien waar die einde van die tonnel is. Ek bid dat U kinders vandag nader sal stap aan sulke mense en vir hulle die lig sal wys wat kom deur genesing wanneer ‘n mens toelaat dat die Lig in jou lewe skyn.

Ons ken ook die duisternis van eensaamheid. Mense wat te midde van mense steeds bitter alleen en eensaam is. Ek dink aan kinders in kinderhuise en oues in ouetehuise. Mense wat hierdie dag sal verlang na iemand anders as net die getroue versorger wat daar is omdat hy/sy daar moet wees. Mense wat verlang na ‘n kuier van iemand wat nie nodig gehad het om te kuier nie. Gee dat U liggaaam in hierdie dag U lig tussen eensames sal laat skyn.

Helder skyn ons lig vir die wêreld.

Amen

2 thoughts on “OGGENDGEBED 16 DESEMBER 2012

Add yours

  1. Attie jy is ‘n goeie mense, want jou hart is goed en jou oog is helder want jy sien die verkeerde dinge om jou raak. Dit is ‘n gawe van GOD. Jy bid so mooi Attie.

    Gelotedag beteken vir my net so intens baie. Ek weet ons aanbid die ware GOD want ons voorouers was telkemale deur hulle geloof en gebed gered.

    Hoe meer ‘n mens met GOD praat hoe duideliker word sy stem.

    Baie dankie vir al die mooi gebede. Ek vou hulle toe hier in my hart.

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s

Blog at WordPress.com.

Up ↑

%d bloggers like this: