Heilige Here Jesus, U het gesê dat die wat U ken die Vader ook ken. As ek dink aan hoe die Bybel die Vader aan ons bekend maak, dan weet ek dat daar niks beter in my lewe kan wees as om die Vader te ken nie. Met my verstand weet ek dan ook vanoggend dat ek Hom kan vertrou en ook moet vertrou. Met my verstand weet ek ook dat as ek net sover kan kom om Hom ten volle te vertrou sal daar soveel minder dinge wees waaroor ek my bekommer en dinge wat keer dat ek met vreugde die lewe saam met U lewe.
Ja, as ek U my Vader so kon ken, sal ek met vertroue in alle omstandighede en te alle tye toelaat dat U my in U Vader-arms vang.
Maar vanoggend dink ek aan al die dinge wat verhinder of keer dat ek U vertrou as my Vader. Ek dink aan al daardie kere dat ek soms selfs met trane gesmeek het dat dinge anders moet wees. Maar dit het nie verander nie. Ek moes dikwels alleen en eensaam deur die tye en die omstandighede worstel. Ek wonder of ek toe begin dink het dat dit eintlik nie help om te bid en op U te vertrou nie.
Ek dink vanoggend aan daardie tye in my lewe toe ek deur een of ander geestelike droogtetyd gegaan het en my verhouding met U nie was wat dit moes wees nie. Tog het daar in daardie tyd ook goeie dinge met my gebeur en mooi dinge rondom my gebeur wat ek vandag weet net die werk van U liefdevolle Vader-hand was. Nou wonder ek of daardie tyd my geleer het dat U in elk geval sal toesien dat U koninkryk op aarde kom net soos in die hemel of ek nou naby aan U lewe of nie.
Ek dink vanoggend aan die dinge in my lewe wat nou U ingrype nodig het. Ek wil U vertrou. Ek wil vra dat U dit anders, nuut, mooi, gesond sal maak. Maar ek huiwer ook op die randjie van onwilligheid. Hoeveel keer sal ek nog kan wegdraai as my vertroue in U misplaas was en dinge nie uitwerk soos ek graag wil hê dit moet nie.
Maar, Here Jesus, U het gesê, dat as ek U ken sal ek die Vader ken. Ek moet bely, ek ken U nie soos U my ken nie. As ek U kon ken soos ek geken is, sou dit dalk anders gewees het. Die uitkomste van al die dinge wat ek hier hier bo noem sou dalk nie anders gewees het nie, maar ek sou die Vader verstaan het omdat ek Hom beter geken het. Want vertroue is tog soveel meer as net om te wag en te sien dat God iets buitengewoons doen.
Ek vertrou dat U my nooit in die steek sal laat nie.
Ek vertrou dat die sterwe van Jesus genoeg was – ook vir my genoeg was.
Ek vertrou dat U wat ‘n goeie werk in my begin het, dit ook sal klaarmaak tot op die dag wat U Seun en ons Here, Jesus Christus weer kom.
Ek vertrou dat Hy wat in my is sterker is as Hy wat in die wêreld is.
Ek vertrou dat die Heilige Gees in my werk my verander om al hoe meer soos Jesus te wees.
Ek vertrou dat U liefde vir my onfeilbaar en onherroeplik is.
Ek vertrou op U.
Laat die woorde van my mond en die gedagtes in my hart vir U aanvaarbaar wees, o Here.
Amen
Dankie Attie, vir jou moeite en deursetting om o a my geestelike lewe te verbeter.
Lieflik Attie, ons moet nooit moed verloor in hierdie lewe nie, nooit ooit nie. Jesus het klaar vir ons die stryd gewen.
Heilige Gees ek bid dat u my hart en siel sal beskerm van die bose magte. Help my om met als wat ek is en het net vir U alleen te lewe, nou en vir altyd. Amen.