Ek lees vanoggend die baie bekende Handelinge 2 :42.
“Hulle het hulle heelhartig toegelê op die leer van die apostels en die onderlinge verbondenheid, die gemeenskaplike maaltyd en die gebede.”
Ek besef net hoe hierdie die kern is van dissipelskap. Die eerste Christene het hierdie kern van dissipelskap mooi verstaan. Hulle het besef dat as dissipels het hulle nodig om te luister, te leer, te dink en dan op te tree en te leef in ooreenstemming met dit wat hulle gehoor, geleer en gedink het. Ortodoksie wat opgevolg word deur ortopraksie.
Ortopraktiese, of dan die lewe in die praktyk, het mos te make met die alledaagse lewe. Lewe in (die) gemeenskap. Ortopraksie behels dat ek in die lig van dit wat ek nou gehoor, geleer en bedink het, gaan lewe. Maar nie in isolasie nie, maar in gemeenskap. Ortopraksie behels besluite wat geneem word met die volgende in gedagte:
Hoe raak hierdie besluit die gemeenskap waarvan ek deel is?
Die vraag waaroor ek nou dink is:
Watter rol speel die gemeenskap(pe) waarvan ek deel is, in die besluite wat ek neem?
Hierdie gemeenskap(pe) is natuurlik meer as net geloofsgemeenskap. Ek sien net te veel Christene wat besluite neem wat mooi en goed is vir die geloofsgemeenskap, maar nie goed is vir die koninkryk nie; nie goed is vir die huwelik en die gesin; nie goed is vir die kerk en die wêreld en die mense tussen wie ek werk en die mense tussen wie ek bly en die omgewing waar ek bly nie. Die besluite wat ek neem is net goed vir my.
Ek wonder darem in hoe ‘n mate is ons besluite nog getuienis daarvan dat ons volgelinge van Jesus Christus is?
Attie, dit help nie om oor ander se geloofsake te wonder nie. Elke mens sal eendag verantwoording doen van sy lewe – goed of sleg.
Die gelykenis van die saaier pas mooi by hierdie dagstuk wat jy aan ons opgedra het vandag.
Attie ek waardeer hierdie gedeelte baie. Ek self wonder ook baie oor die besluite wat ons neem. Sou jy dalk net bietjie meer kon uitbrei oor besluite wat goed is vir die geloofsgemeenskap, maar nie vir die ander goed nie.
Jy noem ook besluite wat nie goed vir die kerk is nie. is die twee nie dieselfde nie?
@jongds: Ek dink ons raak soms so opgeneem in ons kleiner geloofsgemeenskappe (bv kleingroepe; huiskerke) dat ons daar besluite neem en dinge doen wat nie noodwendig altyd die beste vir die groter geheel is nie. Bv.: Die doel van ‘n geloofsgemeenskap behoort tog te wees om die gemeenskap waarbinne ons geloofsgemeenskap is te bereik. As ons net fokus op die na-binne verhouding is dit goed vir die geloofsgemeenskap, maar dit is nie die beste vir die geheel nie. Die Here wil daardie geloofsgemeenskap in die gemeenskap en omgewing gebruik.
Oor die geloofsgemeenskap vs die kerk het ek hierdie week weer die ervaring gehad wat mense in ‘n huiskerk in die openbaar en in gesprekke op uiterste neerhalende en selfs beledigende wyse van die ander geloofsgemeenskappe (dus die kerk) praat. EK dink die dreigende kerkskeuring in die Hervormde Kerk is ook ‘n moontlike voorbeeld.
Is maar hoe ek daaroor dink.
Ek dink elkeen moet net op hul knieë gaan en vir die Here leiding vra en dat die Gees ons lei. Sterkte vir die week!