God is ‘n God van tweede (en derde en vierde kanse en…) kanse. Titus 3:5 beskryf ons tweede kanse so:
Hy het ons verlos, nie op grond van iets wat ons vir ons vryspraak gedoen het nie, maar op grond van sy eie ontferming. Dit het Hy gedoen deur die wedergeboorte wat die sonde afwas, en deur die Heilige Gees wat nuwe lewe gee.
In die plek van “ontferming” het die Engelse vertalings meestal “mercy.”
God se tweede kanse kom deur twee dinge. Weergeboorte wat die sonde afwas en die Heilige Gees wat alles nuut maak. Die enigste rede waarom enige persoon ‘n (belangrike) rol in God se koninkryk kan speel is omdat God ‘n God van tweede kanse is. Nie op grond van enige iets wat ons gedoen het of kan doen nie. Net op grond van sy eie ontferming.
Nou terug by ONS EN ONS LEIERS. Ek kry soms die indruk dat ons dink dat manne soos Dawid en Paulus en Petrus en Johannes en wie dan nou ookal in die Bybel net genoeg dinge reg gedoen het, of net min genoeg dinge verkeerd gedoen het, dat ons steeds na hulle kan draai en van hulle die bo-menslike kan verwag.
Titus 3:5 beskryf dit so: “nie op grond van iets wat ons gedoen het nie”.
Al wat ek weet is dat as God net die mense kon gebruik wat net genoeg dinge reg gedoen het of net min genoeg dinge verkeerd gedoen het, sou ek nie myself kon sien as iemand wat deur gebruik is of deur God gebruik kon word nie.
“Dankie Vader dat U ‘n God van vele ontferming is. Dankie vir soveel tweede kanse wat ek kon gehad het. Gee in hierdie dag aan my die genade om ook aan die mense rondom my tweede kanse te gee.”