LEWENSMISSIE

Ek is amper bang om die woord “missie” hierbo te skryf. “Missie” en “missionêr” is na my mening oor-gebruikte woorde. Onder missie verstaan ek die antwoord op die vraag: “Hoekom is ek hier?” Die antwoord op dié vraag lees eintlik soos ‘n missieverklaring: “Ek glo dat God my geskep het om Hom te loof, Hom lief te hê en Hom en ander te dien.” Hoe hierdie lewensmissie in elke individuele mens se lewe tot uitdrukking kom is weereens uniek en net ‘n bewys van die absolute kleurvolle en kreatiewe God wat ons hiertoe geroep en gevorm het. Wanneer ons toelaat dat ons ongeorganiseerde, of soms oor-georganiseerde, lewens en besig wees met ons eie dinge en belange ons perspektief op die saak versteur, dan ontdek ons dat daar nie meer balans in ons lewens is nie. Ons raak ongelukkig en ontevrede.

Ignatius van Loyola sien ongeërgdheid (Indifference) as die oplossing, die eienskap waarna elkeen van ons moet soek. Met ongeërgdheid word nie bedoel dat ek glad nie meer vir dinge omgee of selfs daaraan geheg raak nie, maar eerder dat ek baie liggies vashou aan al die gawes wat ek uit God se hand ontvang. Vir elke kosbare gawe is ek eerbiedig dankbaar en ek ontvang dit met vreugde, maar terselfdertyd is my verbondheid daaraan liggies, effentjies. Ek omhels hierdie gawe of ek laat dit gaan, alles afhangende van hoe dit my help om my lewensmissie te leef: om Hom te loof, Hom lief te hê en Hom en ander te dien. Ongelukkig is dit ook so dat dieselfde dinge wat God in sy groot genade as geskenke of gawes aan ons gee, maklik ook afstand tussen ons en Hom kan bring. Wanneer dit gebeur en ons dit begin besef, dan moet ons besef dat ons lankal nie meer God se gawes liefdevol en dankbaar omhels nie, maar dit nou in een of ander besitlike greep vasgegryp het. Dan is dit tyd om te laat gaan. Ongeërgdheid is die gewilligheid om so te lewe dat ek in staat sal wees om dit te laat gaan as dit nodig is.

In hierdie trant praat ons gisteroggend tydens ons Bybelstudie oor afgodery. ‘n Moeilike konsep vir mense van die 20ste eeu. Die groep se definisie van ‘n afgod was op die ou end enige iets anders as God wat jou vrede en jou vreugde bepaal. Ons het onder andere gepraat oor hoe goed soos sport en die ekonomie en die omstandighede in ons land en die toekoms van ons kinders en kleinkinders in hierdie land en die misdaad en die korrupsie tot gevolg het dat Christene “depressief” raak. Wanneer ons dan depressief raak kan ons nie meer uitdrukking gee ons skeppingsdoel nie: om Hom te loof, Hom lief te hê en Hom en ander te dien.

God en God alleen moet die bron van vrede en vreugde vir my lewe wees.

Alles op hierdie aarde en in ons lewens is aan ons gegee om ons te help om ons skeppingsdoel te verwesenlik. Ons moet al hierdie dinge gebruik om die doel te leef en ons vrymaak van die dinge in soverre dit ons verhinder om Hom te loof, Hom lief te hê en Hom en ander te dien.

Makliker gesê as gedoen?

“Hemelse Vader maak my meer en meer bewus van die doel waarvoor U my hier op aarde geplaas het. Leer my om U met oorgawe te loof en te prys en ook om U en ander rondom my te dien. Gee my die genade om ongeërg te lewe met die dinge wat U my in U groot genade so vryelik skenk. Leer my om die mens wat ek voor U my liefdevolle God is, met my hele wese te omhels.”

Advertisements

3 Kommentaar

Filed under Die Christelike Lewe, Spirituality

3 responses to “LEWENSMISSIE

  1. Johan vd Westhuizen

    Attie, Toe ek vanoggend jou inskrywing lees het daar werklik ‘n traan in my oë gekom. Die gedeelte sê iets van myself.Tot onlangs was ek nog iemand wat aan alles vasgeklou het, alles oor-georganiseer het en gestreef het na hoër en beter en meer en groter, totdat 14 Oktober 2012 in my lewe aangebreek het en ek besef het hoe klein en weerloos ek eintlik is. God het my ‘n tweede kans in die lewe gegee om Hom bo alles lief te hê en my naaste soos myself. As mens eers hier gekom het, wonder mens ook nie meer wie jou naaste is nie. Jy dien ander sonder voorbehoud of vrae en dank God voordurend vir Sy groot genade. Mens moet eers vrygemaak word van jouself voordat jy God werklik kan dien in geloof, want alles in die lewe gaan net oor geloof in God, ook in slegte tye. Aan almal wat ek ooit in my lewe te na gekom het, vra ek vanoggend opreg om verskoning. My missie is die lewe? Om soveel as moontlik mense te help om vry en gelukkig te lewe in geloof en vertroue is God ons Vader.

  2. Christelle van der Walt

    Dit is so mooi geskryf Attie, pragtige gebed, innig en opreg. Baie dankie my vriend. Elke keer ondervind ek dit; as iemand se gees my gees aanraak is dit soos ‘n helder lig ek kan dit nie beskryf. My siel word verkwik. My aura skitter om my. Wonderlik, jou vlam het nou my lamp aangesteek. As ek dit so vir jou kan uitdruk.

  3. Attie baie dankie vir hierdie gebed vandag! My missie in die lewe is om soveel as moontlik mense te help om in geloof te lewe. Om te weet ons kan ondanks wat ook al ons omstandighede met hoop en vertroue leef in ons Vader.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s