Tydens die aanloop na die laaste vergadering van die Noordelike Sinonde by Weesgerus en dan natuurlik tydens die vergadering self, het ek begin dink oor “vrygemaak”. Sê nou vrygemaak sou meer beteken as net dat ek vrygemaak is van my sondeskuld en nou vergewe is. Vanoggend is ek nou weer op die onderwerp en sluit ek aan by dit waaroor ek Maandag geskryf het.
Vanoggend lees ek Filippense 3:7-16 en in besonder hierdie woorde van Paulus:
“Ter wille van Hom het ek alles prysgegee en beskou ek dit as verwerplik sodat ek Christus as enigste bate kan verkry en een met Hom kan wees: vrygespreek, nie omdat die wet onderhou nie, maar omdat ek in Christus glo. Dit is die vryspraak wat God gee omdat ‘n mens in Hom glo.” (Fil 3:8-9)
Vrygespreek en vrygemaak om in ‘n naby en intieme verhouding met Jesus te kan lewe en om Christus as enigste bate te verkry. Vrygemaak van die dinge soos “vrese; vooroordele; gierigheid; die behoefte om te beheer; perfeksionisme; jaloesie; afkeure en onnodige twyfel aan myself.” (Sien Maandag se inskrywing.) Saam met die “vrygemaak” kom die fokus op God en kan ek Hom deel maak en deel laat wees van my alledaagse lewe. Na regte is Hy reeds daar, dit is veel eerder ‘n geval van dat ek Hom nie raaksien nie.
Ek dink net ook daaraan dat as ek nie vrygemaak kan word van al daardie dinge nie, dan raak dit ook al hoe moeiliker om God in die dinge rondom my raak te sien. Een van die dinge waarmee ek persoonlik baie worstel is om te onderskei waar God aan die werk is omdat ek deel wil wees van dit waarmee Hy besig is. Christus is nog nie my enigste bate nie.
Ons het die naweek weer ‘n geval gehad waar ons oudste dogter beroof is. Sy het uit haar kar geklim om ‘n koeldrank te gaan koop en toe sy terugkom het hulle haar ruit stukkend geslaan en al haar bagasie (Sy was oppad na ons toe) en die motorradio en al haar CD’s en ander goed wat in die kar was gesteel. Ek het die res van Saterdag met ‘n intense woede in my geloop. So moeilik as wat dit is, is dit die dinge waarvan net God ons kan vrymaak.
Mag ons almal waarlik vry wees.
Beste Attie – Ek verstaan. Dit is al hierdie aardse dinge waaraan ons so vasklou dat as iets daarmee gebeur, is ons kwaad en verbitterd. Dit is die wapens wat satan teen ons gebruik. Om daarmee weer vrede te maak is hel, dit is swaar maar as jy eers daardeur is dan is jy weer vry. Die lewe hier op aarde is nie maklik nie.