Ek preek Sondag-oggend uit 1 Korintiërs 15:1-11. Ek sal hoofsaaklik op die opstanding van Jesus fokus. Een deel van die teks waarby ek nie gaan uitkom nie is “Christus het vir ons sondes gesterf…”
Christus is natuurlik die Griekse vertaling van die Hebreeuse woord “Messias”. Die Nuwe Testament beweer dat Jesus van Nasaret die Messias is wat God in die Ou Testament belowe het. Met ander woorde, Paasfees in ongever 33 n.C kan nie in isolasie verstaan word nie. Jesus sterf oor Paasfees. Die fees wanneer Jode van dwarsoor die wêreld na Jerusalem gestroom het om die verlossing uit Egipte te ontdek 2000 jaar voor hulle Jesus sou kruisig. Hulle vier die verlossing toe die bloed van ‘n lammetjie die lewens van die eersgeborenes van Israel gered het.
Nou sterf Jesus die offerlam van God op Paasfees.
In Jesus is God besig om te doen waarmee Hy nog altyd besig was en dit is om sy koninkryk op aarde op te rig. Jesus se sterwe is die oomblik van verlossing in die groot verhaal van God. Of soos Paulus dit so mooi in Romeine noem – die evangelie van God.
Christenskap is dus nie ‘n nuwe godsdiens nie omdat die Joodse godsdiens nie gewerk het of ‘n nuwe en beter godsdiens nou nodig was nie. Christenskap is ‘n nuwe verhouding, nie ‘n nuwe godsdiens nie. Christenskap beteken wel ‘n nuwe volk. Die volk van God bestaan nou nie meer uit mense wie se geslagslyn teruggevoer kan word na Abraham nie. Wie in Jesus glo word nou deel van die nuwe volk van God, die nuwe Israel deur wie God steeds vir ganse wêreld tot seën gaan wees.
In Jesus begin God nie ‘n nuwe godsdiens nie, Hy doen net wat Hy by herhaling in die Ou Testament belowe gesê het Hy gaan doen. God vestig sy koninkryk op aarde. God se koninkryk kom nou op aarde net soos in die hemel.
Jesus se dood is ook ‘n juridiese dood. Die dood is die straf op die sonde. Wie sonde doen skuld die dood. Die dood is die manier waarop God sonde uit sy teenwoordigheid verdryf. Die uiteinde van die sonde is die ewige God-verlatenheid – om voort te lewe waar God nie is nie. Die enigste rede waarom die wêreld nog nie in totale chaos en self-vernietiging verval het nie, is omdat iets van die beeld van God nog steeds in elke mens voortleef.
In God-verlatenheid is dit hel – God se beeld is nie meer nie. God is geheel en al afwesig. Daarheen het Jesus neergedaal. Daarvan het Hy ons verlos.Daardie mag het Hy oorwin.
Ons sal wel almal sterwe, maar vir die wat in Jesus glo is die dood maar net die deurgang na die lewe.
Christus sterf vir ons sonde.
Attie, Dit is ‘n baie nuttige inskrywing die. Ek het nog al my lewe die opstanding as die grootste gebeurtenis in die Bybel beskou, selfs (met respek gesê) groter as die geboorte van Christus. As ons die opstanding vir een of ander rede weg wens uit die Bybel, of “afskaal” tot iets minder belangrik, verloor ons die hele evangelie. Ek dink ons mense maak te min van die opstanding. Die opstanding is juis dit waaraan elke kind van die Here moet vashou. Dit is die begin van die lewe, hier en hierna, ook vir my en jou.
Ek sien uit na die preek.
So goed beskryf Attie. Ons vlees sterf maar ons gees loof voort vir ewig saam met GOD. Dit is wonderlik Ons het ‘n versekering op ons geloof. Niks kan dit oortref nie. Niks en niemand kan dit van ons wegneem nie.
Ek is werklik jammer ek kon nie die spesifike preek bywoon nie agv omstandighede, maar sou graag die preek op een of ander manier wou bekom.
Wat vir my baie belangrik is oor die Pase is dat die preek op Goeie Vrydag nie afgesluit kan word nie en dat die “Goeie Vrydag” preek eers afgesluit kan word met die “Sondag se Opstandingspreek”. Daarom beskou ek die twee preke as ‘n eenheid met die Saterdag tussenin as die “stil dag” in afwagting op die Sondag. Die jaar het dit nie so vir my gewerk nie en ek het ‘n gemis gevoel daaroor.