LIEFDADIGHEID IS NIE GENOEG NIE

Jaco Strydom van Echo Jeugontwikkeling het verlede week (8 Maart 2012) in Beeld ‘n artikel met dieselfde opskrif geskryf.Ek het sommer baie gehou van wat hy gesê het. Onder andere:

Ons grootste uitdaging in hierdie land (met van die grootse gapings tussen ryk en arm) is nie net om kos te gee vir die wat in nood is nie, maar om saam kos te maak en saam te eet. “Community” eerder as “charity”. Liefde vra meer as net liefdadigheid.

Jaco sê ook:

Om om te gee beteken tog presies dit: om – te – gee. En as ek die evangelie reg verstaan beteken dit nie in die eerste plek net om iets te gee nie, maar om jouself te gee. Om die maaltyd waarmee jy geseën is te deel en nie net die krummels te gooi vir die armes nie.

Jaco is 100% reg. Ek sou op geen punt hier van hom wou verskil nie.

En ‘n bietjie verder:

Elke nou en dan bel ʼn dominee en vertel dat sy gemeente ʼn klomp blikkieskos ingesamel het. Hy wil hoor of ons dalk vir hom armes het aan wie hulle dit kan uitdeel – dit is vir hom belangrik dat die mense dit self kom gee, sodat hulle kan kontak maak en “ʼn bietjie voel hoe dit is” (en dalk ʼn paar fotos neem vir die sendingdiens). Ons kan doen met al die blikkieskos en komberse wat ons kan kry, so ek probeer maar altyd vriendelik wees, maar laat ek vir eenkeer sê hoe ek regtig voel. Hulle is kerk vir hoeveel jaar?! En dit in Suid-Afrika, van alle plekke, die land met reuse armoede en werkloosheid, en steeds na al die jare het hulle geen langtermyn verhouding met mense in nood nie?! Wat doen ʼn gemeente wat nie besig is om om te gee nie heeldag?

Ons gemeente het verlede jaar bietjie op hierdie wyse hand uitgesteek na Jaco se bediening toe (En ons sal weer! Hy was ten minste vriendelik met ons :-)) Jaco is heeltemal reg. Waverley gemeente bestaan al vir baie jaar. Maar jy sien, ons sit met mense wat vir al daardie jare toegelaat is om terug te sit dat ander mense die stukkie liefdesroeping namens hulle doen. Ons dominees in sulke gemeentes sien dit as ons roeping om hierdie gewillige en dierbare kinders van die Here te help om ‘n kopskuif te maak. ‘n Kopskuif waarin hulle hierdie langtermynverhoudings kan begin bou.

Ons “de-briefing” na die “hand uitsteek” na onder andere jaco toe, was roerend. Mense wat nie bewus was van nood en nou het hulle oë oopgegaan vir seer en hulle harte het verander. En – nie almal nie – maar ‘n hele paar ouens se koppe is geskuif. Ek weet van een gesin wat dit op hulle geneem het om ‘n vrou wat nie genoeg verdien om vir haar en haar broer te sorg nie, te versorg en ‘n verhouding gebou het wat steeds voortduur.Ek weet van ‘n selgroep wat een maal per maand saam eet en ‘n spesifieke gesin wat hulle in daardie tyd ontmoet het en wat sukkel om kop bo water te hou dan nooi om saam met hulle die liefdesmaal te eet. Ek weet van ‘n ander gesin wat ‘n kind van wie se nood hulle baie jare al bewus is, maar net nie besef het dat hulle ‘n verskil kan maak nie, se skoolfonds betaal. Ek weet van ‘n ander gesin was as uitvloeisel daarvan hierdie jaar ‘n skoolkind van ‘n huishulp (nie hulle eie huishulp nie) toegerus het vir Graad 8.

8 Jaar gelede het ons dieselfde ding in Rustenburg gedoen. Ryk mense blootgestel aan arm mense. Grens-oorsteek aksies georkestreer. Mense gedwing om die grens in groepe oor te steek. Ek het foto’s wat ons vir die sendingkommissie en die gemeente gewys het en steeds graag wys. Ek het hierdie naweek oorgeslaap by een van die manne wat saam met ons daardie grense oorgesteek het. Hy vra toe of ek hierdie spesifieke gesin onthou wat ons daardie tyd besoek het. Ek onthou nie regtig nie. Daar was 123 sulke gesinne. Die man het saam met ‘n span tieners oor ‘n tydperk van ses weke elke naweek vir die ander gesin kos gevat – en met hulle ‘n verhouding gebou.

In elk geval hy vertel toe dat hy die een vrou in die mall raakgeloop het. Na agt jaar het hy haar herken, want sy kontak het nie by daardie ses weke gebly nie. Haar seun wat op daardie stadium in die laerskool was, nou eerste jaar op Universiteit. Hule het oor al die jare kontak gehou. Ek weet niks van daardie kontak nie, maar ek ken die man. Ek het oor agt jaar gesien hoe hy missionêre kerk-wees dalk nie so goed verstaan dat hy dit vir iemand anders kan verduidelik nie, maar dat hy ‘n missionêre hart ontwikkel het deur wie die Here mense se lewens aanraak. Myne ook.  Hierdie is ‘n man wat sy eie besigheid gehad het en met sy missionêre hart omgegee het vir sy werknememers en hulle gesinne. Hy het sy besigheid verkoop aan ‘n man wat hy self “groot-gemaak” het om die missionêere sakeman beginsels verder te neem. Hy het drie wonderlike kinders wat missionêr dink en leef en optree.

Want agt jaar terug het ons kos ingesamel en gevra: “Kan julle ons in aanraking bring met mense in nood?”

Ja, ons as gemeentes ry soms op organisasies soos ECHO se rug. Maar, ons as gemeentes sien ook hoe die Here inidividue se harte verander sodat hulle missionêre leefstyle aanleer. Ons gaan nie almal kan verander nie, maar die Here is altyd besig om mense se harte te verander sodat God se koninkryk deur ons op aarde kan kom. Die missionêere leefstyl van een inidividu het ‘n groter impak as wat ons ooit sou kon dink.

Ek is daarvan oortuig dat daar meer mense is wat langtermynverhoudings met mense in nood het, as wat ons dink.

Ek wil weer vir Jaco aanhaal:

Die kerk het die potensiaal om dié plek van versoening in die gemeenskap te wees.

Die manier waarop ons daardie plek word is deur verhoudings aan te knoop met mense in nood. Ons moet iewers begin en somtyds beteken dit om ‘n blikkie kos of ‘n kombers by Jaco se “sweethearts” te gaan aflaai, hulle hande te skud en nood vierkantig in die oë te kyk en te besef: Was dit nie vir die genade van God nie… en die res in God se hande te laat.

11 Kommentaar

Filed under Missionaal

11 responses to “LIEFDADIGHEID IS NIE GENOEG NIE

  1. As iemand jou iets vra moet jy vir hom gee. Al is dit net iets positiefs wat jy vir hom sê. Onthou eendag gaan jy rekenskap gee van wat jy gedoen het en nie gedoen het nie. As jy goed is vir iemand word ‘n menigte sondes van jou lysie weggeneem. Doen als met liefde die beloning is eendag baie groot.

  2. Betrokkenheid. Dis wonderlik. Sodra mens begin betrokke raak, verander jou hart, die oog waarmee jy kyk, jou hele lewe.
    Dankie

  3. Philip

    OM-TE-GEE en BETROKKENHEID , se betekenis verskil tussen mense. Ek sien wat julle voorstel en hoe julle voel. Ek voel geheel en al anders. Attie – ek let op jou ‘aanbeveling’ maar stem ongelukkig nie heeltemal saam met die benadering nie. Ek het nie eers tyd om by my eie familie uit te kom nie. Ek is bewus van die pyn en leiding van ander mense – nie ‘n geheelbeeld nie – maar genoeg dat ek en my kinders – ook besige professionele mense – gereeld geld gee waar dit nodig is; nie vir kerke nie maar vir mense. Soos ek dit sien: die Here seen my om geld te maak; my persoonlikheid doen nie goed met persoon tot persoon betrokkenheid van arm mense nie; dus, sal ek voortgaan om te gee, op my (ons) manier. Ek verstaan waarom kerke en liefdadigheids organisasies mense wil in kontak plaas met die armes (om die nood te sien en die sak harder te skud of meer persoonlike tyd te gee)
    maar ek sal eerder nie deelneem nie – EN GAAN OOK NIE SKULDIG VOEL DAAROOR NIE. Paar jaar lank was ek op direksie van so n organisasie – ek het nooit by die mense wie werklik hulp nodig het uitgekom nie – ek kon nie. EK is dankbaar daar is talle mense wat dit kan doen en werklik doen. Ek het my tyd gegee om die organisasie beter te laat werk en funksioneer tot voordeel van die behoeftiges – maar almal het deurentyd geweet dit dit word gedoen deur Christene.

  4. Philip

    “LYDING” – jammer vir die spelfoute!!

  5. Philip – ek dink ons is baie meer op dieselfde bladsy as wat op die oog af blyk. Ek dink nie ons laat altyd genoeg ruimte vir persoonlikhede wat verskil nie.
    Het jy toe my e-pos adres gekry?

  6. Philip

    Attie – dankie vir kommentaar. Nee nog nie ??

  7. Werner Olivier

    Philip jy gee vir my n goeie perspektief van die bg skrywe.Almal van ons het verskillende gawes gekry om by te dra tot die liggaam van ons Meester.
    Ek wil net iets anders uitlig nl die gaping wat al groter word tussen ryk en arm in ons geliefde Suid-Afrika, wat ontaard het in n bodemlose put.Hier kan n klag gele word voor die deur van ons geagte Regering in die sin dat hy nie sy verantwoordelikheid teenoor sy mense na kom nie.Een voorbeeld is bv,die aantal onwettige immigrante in Suid Afrika vanoor die hele Afrika.Jy sal verseker nie onbeperk hulp kan verleen nie, voor iets gaan ingee nie.Erens sal jy beheer maatreels moet begin instel,en voor dit nie oor n wye front gedoen word nie sal hierdie gaping net groter word.
    Groetnis.

  8. Philip

    Werner, jy is 100% reg. wanneer gaan die kabels wat reeds so dun is, breek? EK het nog nooit gedink om land te verlaat nie – en wil nie blyer v glyer debat open nie – maar as ek ‘n beter (of ten minste amper beter) plek kon vind sal ek oorweeg om daar te vestig. Ek is dikwels ook in london – klein plekkie daar as ek wil gaan wegkruip in 1ste wereld stad – maar glo my die probleme wat jy aanhaal is daar ook teenwoordig.

  9. Philip, dankie ook vir mense wat bereid is om hulle beursies oop te maak vir mense in nood! Want die Koninkryk het geld ook nodig!! Soos jy sê, ons het almal verskillende gawes. Maar dit is ook lekker om persoonlik betrokke te raak, en ek noem dit, nie om jou te laat skuldig voel nie!!

  10. Philip

    Ek verstaan – ek probeer uitleef wat ek erens gehoor het -Wat ek is, is uit genade en wat ek het is geleen. Dit gaan maar swaar! Wat baie bemoedigend is, is my kinders – beide jong professionele mense – wie se harte altyd oop staan vir minder bevoorregtes.

  11. Vriend van my is ‘n dominee wat ‘n jeugbediening in die middestad bedryf. Hy vat soms ryk wit kinders uit die voorstede middestad toe om hom met die arm kinders te help en hy sê sy bediening is eweneens om rykes se oë en harte oop te kry as om arm mense se mae vol te kry. Hy sê: “Die les wat ons vir armes moet leer, is dat hulle in God se beeld geskape is en dat hulle ook iets het om te gee. En die les wat ons vir rykes moet leer, is dat hulle nie God is nie en dat hulle ook iets het om te ontvang.”

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s