Ek het gisteraand met die groepie tieners in my belydenisgroep oor gebed gepraat. Uit die aard van die saak moes Matteus 6:5-13 deel van die egsprek wees omdat die Ons Vader gebed daar staan.
Ons begin toe deur vers vir vers in die 1983 vertaling (Vir ons garde nie Nuwe Vertaling) te lees. Ek het spesifiek die 1983 vertaling gekies omdat die van hulle wat wel die Ons Vader gebed as kind geleer het, daardie woorde sou geleer het.
Ons het begin deur die vers hardop saam te lees en dan praat ons in groepies van twee of drie oor die vers, waarna ons as groot groep die vers bespreek.
Ons kom toe by vers 6:
Nee, as jy bid, gaan na jou kamer toe, maak die deur toe en bid tot jou Vader wat jy nie kan sien nie. Jou Vader wat sien wat verborge is, sal jou beloon.
Verstommend kon die kinders nie die vers verstaan nie, want hulle ken nie en verstaan nie die woordjie “verborge” nie. DItgaan nie eers daaroor dat hulle nie een of ander “dieper” betekenis nie kon raaksien nie. Hulle kon ni verstaan wat die sin beteken nie. Net vir in geval jy wonder, die een kind in die klas gaan waarskynlik die dux leerling van haar skool wees. Met ander woorde – NIE DOM KINDERS NIE!
Ek wou toe vanoggend kyk hoe staan die vers in ander vertalings. Die Boodskap (Die vertaling wat ek gewoonlik met hulle gebruik.) lees so:
As jy bid, gaan na ‘n stil plek toe waar niemand jou kan sien nie. Trek die deur agter jou toe en praat daar eenkant opreg met jou hemelse Vader. Hy sal sorg dat jy jou hemelse beloning kry.
Ek dink dit is klaar baie makliker verstaanbaar.
Die Nuwe Lewende Vertaling lees so:
Wanneer jy bid, gaan na die stilste vertrek in die huis en maak die deur agter jou toe sodat jy daar in jou alleenheid tot jou vader kan bid. En jou Vader wat alles weet, sal jou beloon.
Ook ‘n goeie vertaling – meer verstaanbaar dalk vir tieners as die 1983 vertaling. Die lekker van die NuweLewende Vertaling is dat daar ‘n paar verduidelikende aantekeninge ook gegee word. Daar is byvoorbeeld by verskillende woorde ‘n sterretjie wat daarop dui dat daar onder aan die baldsy verduidelikings is. Bv. :
6:6a – “stilste vertrek in die huis” : Grondteks – die spens – die stilste vertrek in die huis.
6:6b – “in jou alleenheid” : Grondteks – in die geheim.
6:6c – “jou vader wat alles weet” : Grondteks – wat alle geheime ken.
Die Nuwe vertaling het oud geword. Daar is wel ‘n nuwe vertaling nou weer oppad. Gaan lees HIER meer daaroor. HIER is ‘n paar proefvertalings indien jy wil gaan kyk.
Toe ek gisteraand huistoe stap, toe dink ek: Geen wonder hierdie kinders lees nie die Bybel nie. Die taal waarin die Bybel amper 30 jaar terug vertaal is, is ‘n taal wat hierdie tieners nie meer hoor nie en nie verstaan nie.
Ouers – koop vir jou tiener ‘n vertaling van die Bybel wat meer verstaanbaar is.
Soms is sekere gedeeltes in die Bybel so moelik om te verstaan dat mens sommer “in jou toorn ontvlam”.
Ek stel saam met jou Attie – die kinders moet verstaan wat hulle lees en hoor. Ek lees maar nog vir my kleinkinders uit die kinderbybel wat ek nog vir my oudste seun gekoop het toe hy 3-4 jaar oud was en hy is vandag 36. Die ou kinderbybel “werk” nog steeds vir ons.
Ek self lees graag uit die Nuwe Lewende Vertaling.
Ek kan verstaan dat vandag se jongmense nie meer die Bybeltaal verstaan nie, en dit is rede tot groot kommer.Ek het n broer en n suster in die onderwys en hulle het my gewys dat die kinders vandag briewe en opstelle in sms taal skryf en nie meer die taal ken wat ons as kinders geleer het nie.
Baie van die jong mense ken ook nie meer die Bybel verhale wat ons geleer het nie.Attie jy doen n groot werk om die jonges weer aan die Bybel vehale bloot te stel,wat in die eerste plek die ouers se verantwoordelikheid is.Ek het al n eenvoudige Bybel vraag op 2 maniere aan jonges gestel nl,wat het op Pinksterdag gebeur en op watter dag is die Heilige Gees uitgestort.Die meeste het nie die antwoord geken nie.Dit maak n mens bekommerd.
Groetnis.
In ons bybelstudiegroep kom ek mense teë wat nog die ou vertaling verkies (1933?) Ekself verkies die “nuwe” vertaling, maar deesdae lees ek Die Boodskap en raak al hoe liewer vir hom. Al probleem as ek so uit verskillende vertalings lees, ek die verse nie meer so goed onthou nie! Soos ek verstaan wil hulle nou die vertaling waaraan hulle werk, weer meer direk aan die oorspronklike koppel? Wat ek bedoel – die ou vertaling was mos soos dit in die oorspronklike een staan, bv “soos ‘n hert in dorre streke”. Die 1985 vertaling meer in ‘n verstaanbare taal. Die nuwe een nou weer soos die ou vertaling? My koppie is te klein om dit als te verstaan!
Bybelkennis van soveel Christene is nogals skokkend! Dis vir my ‘n groot bekommernis.
Die Bybel @ kinders .co.za het mos ‘n tienerweergawe ook. Ek dink dis dalk net die nuwe testament, vir dogters geskryf, in ‘n tydskrif-formaat. My dogter het nogals graag daaruit gelees.
Wil myself net kom voorstel. Ek het op aanbeveling en hulp van ‘n vriendin besluit om ons webwerf voortaan self te bestuur. Wat die bloggedeelte betref: Ek is nie ‘n skrywer van format, maar ek wil graag my ondervindinge van die wildplaas met almal deel. Dit is ‘n nuwe uitdaging vir my. Help gerus as jy sien ek trap klei. Ek sal soos die tyd dit toelaat by almal probeer uitkom.
Attie die Bybelgenootskap het verskillende vertalings op hulle webwerf http://www.bybel.co.za en die Bybel vir Almal se vertaling van vers 6 is “Maar wanneer jy bid, moet jy na jou kamer gaan. Maak dan die deur toe sodat niemand jou kan sien nie, en bid tot jou Vader. En jou Vader wat alles kan sien wat die mense nie kan sien nie, sal goed wees vir jou.” wat ook baie meer beskrywend is. Dit is ook baie maklik om hierdie vertaling op jou selfoon af te laai deur m.bibles.co.za van jou selfoon te besoek, miskien iets wat die kinders baie gemakliker mee sal wees om sommer die Bybel elektronies te lees op hulle selfoon.
Ek wou nou net se dat ek kan nie verstaan hoe tieners nie die woord verborge ken nie, ek ken dit dan, en toe onthou ek dat ek my 10 jaar reunie die het. 10 jaar terug het mens nog die woord verborge geken. Wat ‘n manier om te besef mens word ouer. Tegnologie het baie verander hoe taal gebruik word, en mens sal moet aanpas,die lewe werk baie anders vandag en ek dit is ‘n kuns om te kommunikeer. Maar dit sal dalk nie daai kinders sleg doen om ‘n woorde boek op te tel so elke nou en dan nie.