Ek lees 2 Konings 2:1-12 – Elia se hemelvaart en Elisa se dubbelle porsie.
Wanneer ek gesprekstemas voorberei vir ons kleingroepe is die heel eerste vraag: Wat tref jou wanneer jy hierdie gedeelte lees?Ek is elke keer verbaas om te sien hoe mense iets nuuts raaksienw at ek nog nie voorheen raakgesien nie. Die ander interessante is dat hoe jonger die groep siw aarmee ek werk hoe meer verrasend is die “nuwe dinge” wat raakgesien word.
Die verhaal van Elia wat opgeneem word in die hemel is ‘n redelik bekende verhaal. So bekend dat die gedagte van “die mantel het op hom geval” ‘n spreekwoord in die Afrikaanse taal is. Duie eerste paar kere wat ek die verhaal gelees het, het ek net die gewone gesien:
- Elia het drie keer (Verse 2l; 4; 6) probeer om vir Elisa af te skud. Hy kon dit nie regkry nie.
- Elisa vra vir ‘n dubbele porsie van die gees wat Elia gehad het. (Vers 9)
- Elia is in die hemel opgeneem. (Vers 11)
Maar toe ek die stuk weer en weer lees, sien ek dinge raak wat ek voorheen dalk gemis het.
- Dit was ‘n bekende feit dat Elia in ‘n stormwind in die hemel opgeneem sou word. (Vers 1) Die profete in Bet-El het gevra of Elisa dit weet (Vers 3) en so ook die profete van Jerigo (Vers 5)
- Ek sien raak dat Elia nie reguit na die plek oorkant die Jordaan waar hy in die hemel opgeneem is nie. Hy is eers Bet-El toe (Vers 2), toe Jerigo toe (Vers 4) en toe Jordaan toe (Vers 5).
- Elisa wil nie oor Elia se weggaan praat nie. (Vers 3 en 5) Elisa se antwoord aan die profete in hierdie evrband is in die oorspronklike taal baie skerper. Iets soos “Ek weet. Bly stil!”
- Elia het die water van die Jordaan met sy opgerolde mantel geslaan en die water het oopgegaan sodat hy en Elisa droogvoets daardeur gegaan het. Nadat Elisa Elia se mantel opgetel het, het hy ook op die water gaan slaan, en dieselfde ding het gebeur. (Vers 14) Die gevolgtrekking van die profete van Jerigo was dat die gees van Elia nou op Elisa rus. (Vers 15)
- Elia is in ‘n stormwind opgeneem en nie in ‘n wa van vuur met perde nie. Die wa van vuur met perde het net vir Elia en Elisa van mekaar geskei. (Vers 11)
- Ten spyte van die feit dat die profete ooggetuies was van al hierdie gebeure, wou hulle nie aanvaar dat Elia weg was nie. Hulle het by Elisa daarop aangedring om Elia ta gaan soek. Hulle kon hom nie kry nie. (Verse 17-18)
Vir my was dit lekker om weer die teks met aandag te lees en ‘n paar dinge raak te sien wat ek misgekyk het omdat die verhaal vir my dalk te bekend is.
Sien jy dalk iets nuuts raak?
Laat 'n boodskap