Ek lees in hierdie week Genesis 4 saam met my Belydenisgroep. Ek moedig hulle aan om elke dag die verhaal van Kain en Abel te lees. Ek skryf dan drie of vier sinne op ‘n Facebook Bladsy wat hulle kan lees en selfs saam oor gesels.
Hier skryf ek dan ‘n bietjie meer.
Jy kan die vorige skrywes hieroor gaan lees by: Kain en Abel 1; Kain en Abel 2; Kain en Abel 3.
Kain het gedoen wat hy hom in sy hart voorgeneem het om te doen. Hy het Abel doodgemaak omdat God Abel se offer aanvaar het en syne nie. God het vir Kain verduidelik waarom sy offer nie aanvaar is nie. In plaas daarvan dat Kain gehoor gee aan God se waarskuwing gaan hy voort op die pad wat reeds veroorsaak het dat sy offer nie aanvaar is nie.’n Pad van opstandige rebellie teen God. ‘n Pad gedryf deur haat en bitterheid waar die sonde in beheer van hom was in plaas daarvan dat hy daaroor geheers het.
Maar God is op die sondaar se spoor.
Selfs nadat Kain vir Abel doodgeslaan het, laat God hom nie los nie. God kom soek weereens vir Kain op.
“Waar is jou broer Abel?” (Genesis 4:9)
God is ‘n wonderlike genadige God. Hy bly op Adam en Eva se spoor. Hy kom soek weer vir Kain op om hom te probeer oortuig dat hy moet omdraai.
Maar God is ook ‘n regverdige God. God kan nie sulke dinge sonder meer verby laat gaan nie. Kain moet verantwoordelikheid aanvaar vir wat hy gedoen het. Adame en Eva moes die gevolge van hulle sonde dra. Kain moet ook. Ons weet reeds dat Kain nie verantwoordelikheid wou aanvaar vir die feit dat sy offer nie aanvaar was nie. Nou wil hy weer nie verantwoordelikheid aanvaar vir wat hy gedoen het nie.
“Ek weet nie. Moet ek dan my broer oppas?”
Kain probeer ontduik. Probeer ons nie ook maar met tye die gevolge van ons rebellie en opstand ontduik nie? Ontken ons nie ook maar dikwels die gevolge van ons hardnekkige volharding op ‘n pad wat ons weet ons nie moet wees nie?
Ek kry die indruk dat God nou nie meer ompaaie loop met Kain nie. God is direk en op die man af oor wat hy aangevang het.
“Wat het jy gedoen? Die bloed van jou broer roep van die aarde af na My.”
Soms moet God maar reguit en op die man af met ons praat.
God kondig Kain se straf aan. In geen onduidelike terme moet Kain die gevolge van sy onverantwoordelike optrede aanvaar. Geen omdraaikans meer nie. Jy is verantwoordelik. Aaanvaar dit!
Is God verkeerd om mense tot verantwoording te roep wanneer hulle ten spyte van al sy waarskuwings steeds kies om die pad van ongehoorsaamheid en opstand en eiewil te loop?
Laat 'n boodskap