LEEF OP DIE BREUKLYN

God se koninkryk kom op aarde net soos in die hemel.

God se koninkryk kom waar God meer en meer beheer neem.

God se koninkryk kom waar God se teenwoordigheid beleef word.

Ek en die kinders in die belydenisgroep van ons gemeente lees hierdie week Johannes 15. In die gedeelte oor die wingerdstok blyk die intimiteit wat Jesus verlang dat daar tussen Hom en sy volgelinge moet wees. In Die Boodskap staan daar dat ons ons moet “toewikkel in die liefde” van die Here Jesus. ‘n Ander manier om te sê wat ek bedoel met “Op die Breuklyn Lewe.”

Jesus is op soek na ‘n intieme verhouding met my. Maar nie intimiteit net ter wille van ‘n lekker gevoel van nabyheid nie, maar intimiteit sodat ek deel kan wees van die koms van die Koninkryk van God op aarde net soos in die hemel. Intimiteit sodat ek kan weet waarheen Hy my lei en hoe ek agter Hom aan moet stap.

‘n Intieme verhouding met Jesus is ‘n lewe op die breuklyn tussen hemel en aarde. Hemel is waar God is. Aarde is waar God nog nie ten volle in beheer is nie. ‘n Volgeling van Jesus Christus stap heen en weer tussen hemel en aarde. Deur ‘n getroue volgeling van Jesus druk God voortdurend aan die grense tussen hemel en aarde en neem Hy meer en meer beheer oor hierdie stukkende wêreld.

Om op die breuklyn te lewe is om deurlopend te soek na die teenwoordigheid van die Here Jesus. Nie elkeen wat sê, “Hiér werk God.” of “Hiér kom die Koninkryk.” is reg nie. Dit vra onderskeiding om te weet waar God aan die werk is.

TYD ALLEEN MET GOD

Ek dink Jesus het “Op die Breuklyn” gelewe. Een van die dinge wat Hy gedoen het was om gereeld alleen met sy Vader te wees. (Markus 1:35; Markus 6:46; Matteus 14:36) Jesus het onttrek na water, die berge, ‘n eensame plek om alleen by die Vader te wees. Hy kon ook sy bediening begin deur te sê: “Die Koninkryk van God het naby gekom.” Hy het geweet waar sy vader aan die werk is en Hy was saam met sy vader aan die werk.

DIE WOORD

Johannes 15 plaas klem op hoe belangrik dit is om die woorde van Jesus deel van ons lewens te maak. Ons kan sekerlik met vrymoedigheid sê dat as ek nie weet hoe God se hart deur die eeue geklop het nie, sal ek nie weet hoe sy hart vandag klop nie. Ek lees die Bybel om te ontdek hoe God se hart deur die eeue geklop het, om te kan weet waar God se hand vandag werk.

EREDIENS EN SAKRAMENT

Jesus belowe sy teenwoordigheid waar twee of drie in sy naam saam is. Die gemeenskap van die gelowiges, kleingroep en erediens, bring my waar Jesus is. Jesus het ook belowe dat Hy op ‘n besondere manier saam met ons is wanneer ons die nagmaal vier in herinnering aan sy kruisdood.

LIEFDESDIENS

Jesus het ook belowe dat Hy ons sal ontmoet wanneer ons honger, dors, siek, eensaam, gevange mense liefhet.

In Woord, gebed, sakrament, erediens, geloofsgemeenskap, liefdesdiens is God teenwoordig en kan ons op die Breuklyn lewe.

Al hierdie dinge maak ‘n mens sensitief vir hoe God werk. Daar is vandag ook baie mense net soos in die tyd van Jesus wat sê, “Hier kom die Koninkryk.” of “Daar kom die Koninkryk.” Ons moet werk waar God werk. Ons moet sensitief wees vir hart van die Vader.

Ek dink as ons Op die Breuklyn van hemel en aarde lewe, sal ons makliker kan onderskei waar God se Koninkryk kom sodat ons deel kan wees daarvan.

Lewer kommentaar

Filed under Die Christelike Lewe, Dissipelskap, Koninkryk van God

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s