Ons gemeente se tienerbediening het Sondag-aand afgeskop. Ons gaan deur die loop van die jaar elke Sondag-aand kronologies van die belangriker verhale van die Bybel vertel. Let wel, die klem is nie op lees nie, maar op vertel. Ons gaan die verhaal van die Bybel vertel.
Almal kan nie ewe goed lees en ewe goed verstaan wat hulle lees nie. Maar almal kan ‘n verhaal vertel. Ons eerste doelwit is dat elke kind wat hierdie jaar deur ons “hande” gaan ten minste die geleentheid sou gehad het om hierdie verhale so te leer ken dat hulle dit kan oorvertel.
Die Bybel is een groot verhaal – God se verhaal. Job is die oudste boek in die Bybel (1500v.C.) en Maleagi is die jongste in die Ou Testament (Ongeveer 400 n.C) 1 Tessalonisense is in die omgewing van 51 n.C geskryf en Openbaring in 91 n.C. met al die ander boeke iewers tussen in.
Die Bybel vertel die verhaal van God. Wat ons die Bybel het is wat eers die Israeliete en daarna die eerste gelowiges in die eerste eeu (voor 100 n.C) vir mekaar vertel het om sin te maak van hulle lewe en wie en wat God is. Die Bybel is ‘n samestelling van geskrifte deur mense wat onder die leiding van die Heilige Gees geskryf het. Die skrywers was dikwels nie eers bewus van die bestaan van ander geskrifte nie. Tog bevestig al die boeke van die Bybel dieselfde verhaal. ‘n Mens sou dalk die verhaal heel kripties so kon vertel:
Die verhaal handel oor ‘n skepper en sy skepping, oor mense wat na die beeld van die skepper gemaak is en sekere dinge gegee is om te doen. Hierdie skepsel, die mens, het egter in opstand gekom teen die skepper en die impak van daardie ongehoorsaamheid is sigbaar op die hele skepping. Die verhaal handel dan in besonder oor die skepper se optrede deur die volk Israel en uiteindelik Jesus om sy skepping van selfvernietiging te red. Die verhaal gaan dan voort met die skepper wat deur sy eie gees in die wêreld werk met die oog op herstel van die skepping tot wat hy aanvanklik bedoel het dit moet wees.
Indien ons die verhaal so ‘n klein bietjie meer inhoud wou gee, dan sou die verhaal iets soos die volgende kon wees:
Die verhaal handel oor God die skepper en sy skepping. God het bestaan lank voor enige iets anders bestaan het. In die begin van tyd het God alles geskep. Van alles wat God geskep het, was die mens die beste. God het die mens goed geskep. God het die mens na sy beeld geskep en aan die mens sekere verantwoordelikhede in sy skepping gegee. Die mens het egter aan die versoeking van die bose toegegee en in opstand gekom deur te kies om te doen wat God duidelik gesê het hy nie moet doen nie. Hierdie opstand van die mens het verwydering tussen God en mens veroorsaak. God het die mens uit sy teenwoordigheid verdryf maar daar reeds ‘n belofte gemaak dat Hy eendag die skade wat deur die opstandige rebellie van die mens veroorsaak is ongedaan sal maak.
Die verhaal handel dan in besonder oor God se optrede deur die volk Israel wat Hy gekies het om sy volk te wees deur wie Hy die ganse skepping wou seën. Hierdie volk het met die verwagting geleef dat Gop sy belofte waar sou maak en dat daar eendag iemand sou kom, die Messias, om alles weer reg te maak. Uit die volk Israel is Jesus van Nasaret, die Messias, gebore. Hy was die Verlosser wat God aan die begin belowe het – niemand anders nie as God se eie Seun. Deur sy geboorte, lewe, sterwe, opstanding en hemelvaart het God ‘n nuwe begin met sy skepping gemaak. Die verhaal gaan dan voort met God wat deur sy eie Gees deur die kerk in die wêreld werk met die oog op herstel van die skepping tot wat hy aanvanklik bedoel het dit moet wees. Ons leef nou in die deel van die verhaal waar God met sy kerk sy koninkryk op aarde laat kom net soos in die hemel.
God se verhaal sal tot ‘n absolute hoogtepunt gevoer word wanneer sy Seun, Jesus, weer kom en ons saam met hom die nuwe hemel en die nuwe aarde sal bewoon.
Hierdie is DIE VERHAAL. Die verskillende verhale vorm deel van DIE VERHAAL. Nie een van die verhale is DIE VERHAAL nie. My lewensverhaal is nie DIE VERHAAL nie. Maar my lewensverhaal is ook nie los van hierdie VERHAAL nie. Die Bybel vertel vir ons die verhale van verskeie mense en gebeure en wyshede wat alles deel vorm van hierdie VERHAAL. Wanneer ons hierdie verhale leer ken, dan leer ons God ken. Ons ontdek hoe God deur eeue met mense gewerk het, en ek ontdek dat God vandag dikwels nog nie op presies dieselfde manier nie, maar getrou aan wie Hy deur al hierdie verhale gewys het Hy is, ook met my en deur my werk. Ek ontdek egter ook dat my verhaal en God se VERHAAL oorvleuel.
Ek is nie net deel van die VERHAAL nie. Ek is deel van die manier waarop God besig is om hierdie VERHAAL na die absolute hoogtepunt te voer.
Is dit moontlik dat maleagi na christus geskryf is?