Ek het gister by ons plaaslike tegniese skool, Hoërskool John Vorster, ‘n erediens vir hulle Graad 8’s en die se ouers gehou. Een van John Vorster se mooi tradisies wat getrou bygewoon word. Na die diens vertel die hoof vir my van hulle skool se besondere prestasie met verlede jaar se matrieks. Hulle het ‘n 99% slaagsyfer met kinders wat besonder goed presteer het. Hy spog egter met hulle 100% plasingsyfer. Elke matrikulant is of by ‘n universiteit, of by ‘n technikon of by ‘n werk geplaas. Ek dink nie daar is baie skole wat met so ‘n rekord kan spog nie.
Ek het die volgende as raamwerk vir my gesprek gebruik:
Charles J Sykes het ‘n boek geskryf met die titel: 50 Rules Kids Won’t Learn in School Antidotes to Feel Good Education. Ek het ‘n paar van sy punte hier gelys.
“Die lewe is nie regverdig nie.”
Raak gewoond daaraan. Die deursnee tiener gebruik die uitdrukking “Dis nie ‘fair” nie.” 8.6 keer per dag. Die lewe is nie regverdig nie.
“In die regte lewe is jou selfbeeld nie so belangrik nie.”
Die regte lewe gaan eers van jou verwag om iets te bereik voordat jy goed kan voel oor jouself. Hierdie mag dalk vir jou ‘n skok wees. Wanneer ‘n verwaande selfbeeld deur die werklikheid getref word, kla kinders gewoonlik en sê: “Dis nie ‘fair’ nie!” Dit is ouers se werk om kinders in huleself te laat glo. Pasop: Ons as ouers is nie altyd baie realisties oor ons kinders se prestasies nie. Jou ouers mag dalk dink jy maak min of geen foute nie, maar niemand anders dink regtig so nie.
“Jou eerste werk gaan jou nie R1 miloen per jaar gee nie.”
Jammer, maar jy gaan nie R1 Miljoen in jou eerste jaar na hoërskool of eerste jaar na universiteit verdien nie en jy gaan nie baie ryk wees teen die ouderdom van 35 nie. Ek is verstom hoeveel kinders antwoord die vraag: Waar sien jy jouself oor 15 jaar met: “Baie ryk.” Ja sommige ouens tree teen 35 af. Niemand doen dit nie. Jy kan dalk net agterkom dat jy na jou eerste salaris minder sakgeld het as wat jy vandag kry. Tensy jy brandstof en kos ens. as sakgeld reken.
“As jy dink jou onderwyser is taf, wag tot jy vir ‘n baas werk.”
Hy is minder vriendelik en nog ‘n bietjie meer krapperig. My dogter is in Graad 10 in Oos-Moot. Sy het een onderwyseres wat regtig vir haar goed is. Die ander is rof. Die een is so kwaai hulle gesels nie eers met mekaar wanneer die juffrrou sê hulle mag nie.
“Dit is nie benede jou waardigheid om n deeltydse werk te kry nie.”
Ons geslag het dit geleenthede genoem. Jou ouers was ook nie skaam om met minder te verdien as die res van hulle groep nie. Werk was vir hulle kosbaar.
“Dis nie jou ouers se skuld as jy jou lewe opmors nie.”
Jy is verantwoordelik. Moenie dink jou ouers se trane oor jou mislukkings en die dom dinge wat jy aanvang is omdat jou foute hulle verantwoordelikheid is nie. Moet ook nie dink dat as hulle sê: “Dit is alles ons skuld, dat dit wel hulle skuld is nie.” Dit is jou skuld as jy jou lewe opmors. Jy maak die besluite – nie hulle nie. Van hierdie dag af is jy – en niemand anders nie – verantwoordelik vir wat jy met jou lewe maak.
Dit is die ander kant van die munt as jy sê: “Dit is my lewe!” of “Jy is nie my baas nie.” En ander lekker uitdrukkings van julle geslag. Jy is reg “Dit is jou lewe.” En “Niemand is jou baas nie.”
“Jou ouers was nie altyd so vervelig nie.”
Hulle het so vervelig geword deur hard te werk om al jou rekenings te betaal, jou kamer op te ruim en na al jou drome te luister. Terloops… voordat jy na die Amazone toe gaan om die Reënwoud van vernietiging te red, ruim eers jou kamer op.
“Daar sal altyd wenners en verloorders wees.”
Die lewe het nie net wenners nie. Op skool kry jy soms soveel kanse as wat jy nodig het om die regte antwoord te kry of word die slaagsyfer aangepas om die uitslae goed te laat lyk en sodat mense nie sleg voel nie. Harde werk is net so belangrik as resultate.
“Die lewe is nie opgedeel in kwartale of semesters nie.”
Jy het nie elke jaar in Desember 6 weke verlof nie. Jou werkgewer verwag van jou om elke dag op te daag en vir agt ure te bly. Terloops, bitter min werke stel regtig daarin belang om jou te help om uitdrukking te gee aan jouself of om jou te help om jouself te vind. Bitter min werke help jou om jou volle potensiaal te bereik. Dit is jou verantwoordelikheid.
“TV is nie die regte lewe nie.”
Jou lewe is nie ‘n sepie waar probleme in ‘n tyd 30 minute minus advertensiebreuke opgelos word nie. In die regte lewe, verlaat mense die koffie winkels om te gaan werk.
“Rook laat jou nie cool lyk nie.”
Dit laat jou eerder soos ‘n moroon lyk. As jy weer rondry, wees op die uitkyk vir ‘n 11 jarige met ‘n sigaret in sy mond. Dit is hoe jy vir mense oor 20 lyk.
“Jy is nie onsterflik nie.”
As jy onder die indruk is dat n mens vinnig moet lewe, jonk moet sterf en ‘n mooi jong lyk in die lykshuis romanties is, dan het jy nog nie een van jou maats dood gesien nie.
“Geniet dit solank jy kan.”
Ja, ouers is ‘n pyn, skool is “boring” en die lewe is “depressing.” Maar eendag sal jy besef hoe wonderlik dit was om ‘n kind te wees. Miskien moet jy so gou moontlik begin om hierdie lewe te geniet solank jy kan.
Akademie is belangrik. (Hierdie is my eie)
Niemand het dit ooit vir my gesê nie. Ek wil dit graag sê – 65% van Suid Afrika se jongmense tussen 18-24 het nie werk nie. Van die wat nie werk nie lyk die persentasies so:
71% – Nie Graad 12 nie;
26% – Net matriek;
3% – Na skoolse kwalifikasie.
Van die 3% wat wel ‘n naskoolse kwalifikasie het maar nie werk het nie, het 82% ‘n diploma.
Die punt wat ek wil maak is: As jy enigsins Universiteit toe kan gaan, gaan! Ek is daarvan oortuig dat dit binne die bereik van 99% van jongmense se vermoë is om Universiteit toe te gaan en te slaag. Die enigste voorwaarde is harde werk – en dit begin op skool.
“Wees vriendelik met die nerd. – hy gaan waarskynlik jou baas wees.”
Die Bybel belowe nêrens vir ons dat dit altyd met ons sal goed gaan of dat ons altyd wenners sal wees nie. Ek weet sekere geestelike/godsdienstige motiveringspraatjies kom basies daarop neer dat jy net genoeg moet bid en sterk genoeg moet glo dan sal alles mooi uitwerk en indien dit nie so gebeur nie dan lê die fout by jou en nie by God nie. Sulke praatjies neem tieners net verder weg van die werklikheid af. Die werklikheid is: DIE LEWE IS NEI REGVERDIG NIE.
Ek glo egter wel dat die Bybel ons die versekering gee dat sulke dinge ons nie hoef te oorweldig nie. Ons kan meer as oorwinnaars wees deur die lewe as wenners te lewe selfs al wen ons nie altyd in menslike terme nie. Ek is meer as oorwinnaar iomdat die liefde van Christus meer blywend is as enige ander iets in hierdie lewe.
”Maar in al hierdie dinge is ons meer as oorwinnaars deur Hom wat vir ons liefhet. Hiervan is ek oortuig: geen dood of lewe of engele of magte of teenwoordige of toekomstige dinge ofkragte of hoogte of diepte of enige iets anders in die skepping kan ons van die liefde van God skei nie, die liefde wat daar is in Christus Jesus ons Here.”
(Romeine 8:37)
Ware woorde, Attie!
Goeie raad. En nie net vir tieners nie.
Interessante statistiek wat jy gee,Attie.Ek dink net dit is nie haalbaar in SA vir alle matrieks wat vrystelling het om Universiteit toe te gaan nie.Byvoorbeeld vir elke Ingenieur wat afstudeer by n Universiteit moet daar 8 Tegnici beskikbaar wees wat by ander Instansies afstudeer het. Persentasie gewys moet 40% matrieks Universiteit toe gaan en 60% moet na ander Instansies gaan vir SA se behoeftes.Dit maar terloops.Baie goeie inligting vir Tieners.
Groetnis.
Werner – die statistiek is Suid Afrika 2006.
Ek stem saam met omtrent alles, hoewel ek meen dat rook mens laat cool lyk. Helaas, want dis ‘n vieslike gewoonte. Ek het drie jaar gelede opgehou en die enigste ding wat ek mis daaromtrent, is om cool te lyk.