ONS SKRYF MOS ONS LIEFDESBRIEWE VIR VANDAG

Ons is terug in Pretoria n ‘n vinnige wegbreek na die hartjie van die Boveld. Ons was vir twee dae op die wildsplaas DOORNDRAAI LODGE.

Ek en “The Good Wife” het sommer net mekaar se geselskap geniet . Hier is ek by Hobbul en Osul. Hobbul beman die hek op die plaas en ons kon nie regtig uitwerk of Osul seun of kleinseun is nie.Doorndraai Lodge is in die Rooiberg omgewing. Die Bosveld is net op geen ander plek so Bosveld soos in hierdie omgewing nie. Mooi…..

Ek het gelees – Simply Jesus van NT Wright – en vroutjie het haar plakboek saam gehad en sy het die laaste paar jare se “memories” in die plakboeke georden. Ons het ook saam deur die ou plakboeke gegaan en onder andere weer gekyk na die briewe wat ons vir mekaar geskryf het in die jare voor ons getroud was.Ons was altwee baie verlief.

Ons wonder nogal hoe ons die briewe in die plakboeke moet hanteer. Op die staidum wil ons nie eers vir die kinders wat deur die plakboeke blaai wys wat ons vir mekaar geskryf en gesê het nie.

Terwyl ons nou die briewe wat ons vir mekaar geskryf het so lees en daaroor praat en die gebeure herroep, dink ek aan twee dinge.

Die eerste is… ons kinders gaan waarskynlik nie sulke briewe hê nie. Facebook, Mix-it, Twitter, Whats-App, BBM – al daardie dinge maak dat ons dinge in so min woorde as moontlik vir mekaar sê. Een van die briewe wat ek vir Renate geskryf het is vyf bladsye lank – met die hand geskryf. Ons kon die briewe lees en weer die omstandighede herroep. Ons onthou die gebeure wat aanleiding gegee het tot die baie lang brief en ons kon ons weer verlekker in die tyd toe ons so ongelooflik verlief was. Ek dink ons kinders gaan sulke momente mis.

Maar ek dink ook aan die ander kant aan mense wat oor 15 jaar daardie briewe gaan lees. Dat iemand dit gaan lees, is gewis so. Ek dink mense sou verkeerde gevolgtrekkings kon maak. Daar is sekere inligting wat net eenvoudig nie in die brief is nie. Maar, ek het nie daardie tyd die brief geskryf met die gedagte dat mense oor 30 of 40 jaar moet verstaan wat daar tussen ons gebeur het nie. Ek het die brief vir Renate geskryf. Sy verstaan vandag nog elke woord daarvan en weet presies wat ek bedoel het.

Ek dink ons lees soms die Bybel asof mense dit 2000 jaar terug geskryf het vir ons om vandag sommer net so met ‘n eerste oogopslag die regte gevolgtrekkings daaroor te maak. Die skrywers het geskryf wat hulle geskryf het met die oog op die mense van daardie tyd. Ek dink nou maar aan een eenvoudige woordjie soos “hemel”. Wanneer ons die woordjie “hemel” hoor is dit 2000 jaar nadat Jesus geleef het. Intussen is ons denke oor die woordjie hemel deur baie dinge gevorm – onder andere deur Plato. Ons sal byvoorbeeld moet vra: Is dit wat ons vandag onder “hemel” verstaan dieselfde as wat Jesus en sy tydgenote onder die woordjie “hemel” verstaan het?

Sou jy dalk oor 20 jaar die briewe lees wat ek vir my geliefde geskryf het voordat ons getroud is, hou in gedagte dat jy nie die volle prentjie het nie.

Wanneer jy die Bybel lees, hou in gedagte dat jy waarskynlik ook nie die volle prentjie het nie.

7 thoughts on “ONS SKRYF MOS ONS LIEFDESBRIEWE VIR VANDAG

Add yours

  1. Attie, twee punte; 1. Ons was weer Desember by die see na afwesigheid van baie jare en hoewel dit baie lekker was en ons lekker gekuier het saam met ons vriende, is ons gesin eens dat ons maar “bosveld-mense” is en sal bly. Daar is net ‘n anderste rustigheid in bv die Wildtuin oor Kersfeestyd as by die see. Ons was in 2010 oor die tyd in die Wildtuin en ons het “baie nader” aan die Here “gevoel” as wat die geval was die jaar by die see. 2. Iemand se eendag gese dat as vier mense ‘n ongeluk sien gebeur het en die gebeure moes neerskryf, die bree gebeure dieselfde sal wees, maar dat die detail sal verskil omdat elke mens die gebeure uit sy eie hoek en op sy eie manier sal neerskryf omdat hulle die ongeluk vanuit verskillende posisies waargeneem het. So is die Bybel ook geskryf en daarom is en mag daar maar klem verskille in byvoorbeeld die 4 Evangelies wees. Elke skrywer skryf vanuit sy eie hoe. Dit laat mens nogal dink, ne?.

  2. Doorndraai – dis loopafstand van my plaas – hoe verlang ek nou na die bosveld – was 7 maande laas daar!!
    laat weet as jy weer gaan – dan kom maak jy draai by ons.

  3. Philip – ons het onsself bederf en vir twee nagte weggebreek na die Kothuis op Doorndraai. Die Lodge is lieflik, maar die pryse. Ai! Is hemel op aarde vir ons in die Bosveld.

  4. Ding hou diep baie van hierdie inskrywing, maar Ding wonder hoeveel met Doom sal saamstem – is die Bybel dan nie juis geskryf met die bedoeling dat dit relevant sal bly nie?

    Ding kon nie eers as kind die Bybel letterlik opneem nie, behalwe wanneer Ding vir Moedertjie wou koggel … Moedertjie kon gereeld vir Ding vertel van Kain(g) en Abel en Ding kon gereeld antwoord dat Ding g’n Ding se broeder se hoeder is nie, want Kaing (Ding se manier van sê) en Abel was seuntjies…

    Enewel, dit is ‘n vreugdevolle dag wanneer die Bybel in konteks uitgelê word en veral ag geslaan word op die verskille in taalgebruik en omringende omstandighede gedurende die tyd waarin sekere dele van die Bybel geskryf is.

    Doom, Ouding reken natuurlik dat die kortpad vir Ouding eenvoudig is: die geheel van die Bybel is bedoel as weegskaal en nie as onthou-lysie nie. As dit ‘n onthou-lysie was, dan was Jesus Christus se lyding mos oorbodig en verniet? Kyk, Ouding reken so: manman is gebedoel om op genade geoordeel te word – elkeen by homself voor God se regterstoel. Soos in Doom se inskrywing – God sal Self saam met elkeen van sy kinders loop sit en saam met elkeen hulle se briewe oopmaak en deurwerk en dan sal daai ene en God alleen mos weet wat waar in daai ene se lewe gebeur het. En DAN sal God besluit duime op of af. As geloof en hemel toe gaan so maklik was soos ‘n onthou-lysie van wat jy mag en wat jy nie mag nie, waar kom genade dan in? Dan kan almal mos maar net die onthou-lysie, mooi netjies uit die Bybel saamgestel, gevolg het. Maar as dit so is dat die Bybel eintlik ‘n weegskaal is waarmee manman telkens elkeen SELF sy geloof en optrede kan regverdig (soort van die persoonlike, individuele handleiding vir elkeen se verhouding met God) voor God, dan raak die lewe eintlik ‘n interessante, uitdagende, en helaas, riskante ontdekkingstog. Want ek sal my optrede vuriglik uit die Bybel kan regverdig en jy sal dieselfde kan doen, al is jou optrede lynreg in stryd met myne.

    Hmmmm, Ouding HOU van die Bybel, al ken Ouding glad nie die Bybel nie.

    Gawe inskrywing die, Doom – dankie daarvoor.

    Grondgroete
    Ding

  5. Ding… natuurlik moet die Bybel relevant bly. Die Bybel moet egter geinterpreteer word om relevant vir vandag verstaan te word. Ek persoonlik is ook van mening dat optrede nie te ernstige gewig gaan dra nie. Optrede is altyd gebrekkig en vir daardie gebrekkige optrede het Jesus mos die skuld gedra. As ons dan “onthou-lysies” moet praatm, dan sou ek eerder die Bybel gebruik om die mate van my dankbaarheid te evalueer.

  6. Inderdaad, Doom – vir Ding is die onthou-lysie JUIS vir diegene wie reeds aanvaar het dat daar genade is, sodat daar uit dankbaarheid onthou kan word presies HOE die dankbaarheid betoon kan word.

    Dit is vir my persoonlik ‘n groot, sterk riem onder die hart, Doom, dat Doom hierdie inskrywing gemaak het. Die belang van die Bybel relevant hou, maar dit eerstens in konteks interpreteer, staan vir Ding voorop. Dankie vir die, Doom Attie.

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s

Create a free website or blog at WordPress.com.

Up ↑

%d bloggers like this: