Ek lees Matteus 22, die gelykenis oor die bruilofsmaal waarheen die koning die mense nooi, maar elkeen op die gastelys het ‘n verskoning en vir een of ander rede kan hulle nie kom nie.
Op ‘n stadium raak die koning ongeduldig en stuur sy boodskappers om die mense na die bruilof te nooi wat aanvanklik nie op die gastelys was nie.
Ek lees toe in die week in Johannes 12:19 hoe kwaad die Fariseers raak omdat Jesus al hoe meer volgelinge trek. In die volgende vers vra Grieke, wat na dieselfde fees toe gekom het om te aanbid, vir een van die dissipels of hulle nie dalk met Jesus kan praat nie.
Ek dink toe aan die gelykenis. Die Jode is die mense wat eintlik al eeue lank wag vir hierdie bruilof waarvan Jesus hier praat. Die bruilof wat Jesus na verwys het as die Koninkryk van God. Nou is die uitnodigings uit. Al wat die Jode doen, is hulle word kwaad vir Jesus omdat Hy nie aan hulle verwagtinge voldoen nie. Die koninkryk kom nie soos hulle gedink het dit moet kom nie, en daarom kan dit wat Jesus doen nie die begin wees van God wat koning word nie en Jesus kan nie Koning wees nie.
Intussen is die wat nie op die gastelys was nie, die Grieke, angstig om Jesus te sien.
Dit lyk mos vir my hoe meer dinge verander, hoe meer bly dit dieselfde.
Ek dink God se koninkryk is steeds aan die kom en God word koning op die aarde soos in die hemele, maar ek dink ek mis soms die koms van die koninkryk. Ek mis die koninkryk omdat God op ‘n ander manier Koning word as wat ek dink Hy moet.
Ek dink nie ek gaan nie ek gaan in die ewige verdoemenis beland omdat ek die koms van God se koninkryk op sekere plekke mis nie. Ek dink net ek mis ‘n lekker “paartie.”
Hierdie week hoor ek weer hoe mense verskil oor sake wat regtig nie die kind van die katel sal afgooi as wie ookal reg of wie ookal verkeerd is nie.
Ek het geweier om skeidsregter te wees.
Intussen kom God se koninkryk op aarde net soos in die hemel en ons mis dit.
Nou Doom, hoe reken Doom moet God se Koninkryk kom? Waar mis Doom dit?
Ding sukkel om hierdie te verstaan. En Ding wil graag. Ding wil eers meer spesifiek by Doom hoor oor hierdie, asb?
Ek dink ek het al bietjie hemel op aarde (Die koms van die koninkryk) gemis omdat ek dink die koninkryk moet kom soos ek dink en wil hê hy moet kom en op geen ander manier nie.
So, HOE sien Doom die koms van die koninkryk? HOE wil Doom hê moet die koninkryk dan kom? DIS wat Ding wil weet.
Die Koninkryk kom waar en wanneer ons grense oorsteek en in die naam van die Koning die lewe mooier en die wêreld beter maak.
Die Koninkryk kom wanneer die soldate van die Bevelvoerder hulle wapens van liefde, vreugde, vrede, geduld, vriendelikheid, goedhartigheid, getrouheid, nederigheid en selfbeheersing opneem en mense se weerstand daarmee saggies afbreek en grense oorsteek. Grense van vooroordeel en veroordeel en andersheid.
Die Koninkryk kom waar honger mense iets kry om te eet, dors mense iets kry om te drink; ‘n vreemdeling gehuisves word; mense sonder klere geklee word; siekes verpleeg word; mense in die tronk besoek word.
Maar die Koninkryk sal ook kom wanneer ek vanoggend die kitaar opneem saam met vroutjie op die klavier en orrel die gemeente begelei om God te loof en te aanbid en ons die Bybel oopmaak en saam lees en luister en sommer kerk hou.
Ons mis ‘n groot deel van die “paartie” wanneer ons dink die koninkryk kom as ons ge-kerk het.