Mense hou van verhale of stories.
Wanneer ek preek maak ek dikwels van alledaagse gebeure gebruik om ‘n bepaalde punt te beklemtoon. Ek is dikwels verbaas hoe die “stories” wat ek vertel mense se aandag kry. Wanneer mense dan by die kerk uitstap, onthou hulle dikwels die “storie” wat ek vertel het en nie noodwendig punt 1, 2 en 3 wat ek in die preek wou maak nie.(Ja, my preke het dikwels ‘n paar punte.) Daarmee saam plaas ek dikwels die gedeelte wat ons lees binne die historiese en sosiale konteks van die teks se ontstaan. Mense geniet dit. Geskiedenis is ook mos maar verhalend.
Sulke illustrasies gaan gepaard met risiko. Mense kan dalk die “storie” onthou en vergeet wat die punt is wat jy met die storie wou beklemtoon. Hoe dit ookal sy, mense geniet stories.Omdat mense van “stories” hou, vertel ek dikwels van die Bybel gebeure in ‘n “storie”-vorm. Verlede jaar (2011) was ek verstom om te sien hoe min van die Bybel-verhale is daar wat die tieners ken.
Toe ek aan die einde van die jaar bietjie evalueer, is dit ook die twee preke wat die tieners in die belydenisklas onthou. Lyk my ek het nie te sleg gedoen nie, want die tieners kon onthou dat God ons weer en weer terugneem soos Hosea sy prosituut vrou weer en weer moes terugneem. Met Jona kon hulle onthou dat Jona kwaad was oor sy komkommerplant wat vir hom bietjie koelte gegee het as wat hy was oor hoe God oor die mense van Nineve voel. In die kleingroepgesprekke was dit glad nie ‘n vraag oor of die vis wel bestaan het of nie. (Dalk omdat ons nie die vis gebruik het om te ebskryf hoe groot God is nie.)
Die Bybel is eintlik ‘n verhalende dokument. Nie minder nis as 75% van die Bybel is verhalend. Die inhoud van die Bybel is aanvanklik mondelings van persoon tot persoon, van geslag tot geslag oorgedra. In die geval van Israel het hierdie verhale gehelp om God te verstaan en die dinge wat hulle beleef te verstaan. In elke verhaal was God aanwesig. Ek wil nie nou ingaan op die akkuraatheid van die proses nie, maar dit was deel van die familie en gesinstradisie om die verhale so akkuraat as moontlik oor te vertel.
Met die verloop van tyd, het mense begin om hierdie verhale neer te skryf.Ek dink nie een Bybelboek-skrywer het die pen opgeneem en gedink: “Ek skryf nou ‘n boek wat vir baie geslagte 2000-3000 van nou af deur mense gelees gaan word as woorde wat van God self af kom en dus God se Woord gaan wees nie.” Alles dui daarop dat die neerskryf proses ‘n baie akkurate proses was omdat dit nie sommer maklik oorgedoen kan word nie.
God se verhaal het op hierdie manier op Skrif gekom. Natuurlik was daar ander godsdienste wat van dieselfde verhale vertel het en dit aan hulle God toegedig het. Maar, daar is net een God. Elke ander God is mensgemaakte verdigsels. God se verhaal is neergeskryf en eers die hoorders en later die lesers het ontdek hoe hulle lewensverhale met die verhaal van God oorvleuel en elkeen se verhaal deel is en deel word van God se verhaal.
Dink aan die Nuwe Testament. Lees die Nuwe Testament as ‘n verduideliking van hoe die gebeure in die eerste eeu inpas by die God’sverhaal. Elke keer wat jy iets lees soos “sodat die Skrifte vervul kan word” of “soos die profeet voorspel het”, dink daaraan dat die gebeure gekoppel word aan die reeds bekende God’sverhaal. Paulus skryf sy briewe sodat gemeentes hulle plek in God se verhaal kan ontdek. Lukas skryf die boek Handelinge om die ontvouing van die God’sverhaal in die jare na Jesus se hemelvaart te verduidelik.Wanneer ek vandag die Bybel lees dan probeer k op so ‘n manier sin maak van die Bybel dat ek ontdek waar my lewe inpas in die God’sverhaal.
Stories are the most prominent biblical way of helping us see ourselves in ‘the God story,’ which always gets around to the story of God making and saving us.
Stories, in contrast to abstract statements of truth, tease us into becoming participants in what is being said.
We find ourselves involved in the action. We may start as spectators or critics, but if the story is good (and the biblical stories are very good!),we find ourselves no longer just listening to but inhabiting the story. (Eugene Peterson)
Jesus het mense geleer deur stories of verhale te vertel. Mense hou van stories en verhale en hulle onthou stories en verhale.
In ons werk met tieners gaan ons hierdie jaar vir hulle 22 verhale uit die Bybel vertel. Ons gaan seker maak dat hulle daardie verhale self redelik akkuraat kan oorvertel en ons gaan in gesprekke praat oor ons eie lewensverhaal binne die raamwerk van die groter verhaal. Ek gaan die 22 verhale weekliks hier op die blog en op ons gemeente se webblad plaas.
Attie,
Dit is nou wat ek nou noem ‘n “stap in die regte rigting”. Kinders (en dalk ook volwassenis?) ken nie meer die verhale in die Bybel nie en daar is baie (goeie?) redes daarvoor. As ons nie die Bybelverhale ken nie, gaan ons dit ook moeilik vind om die God van die Bybelverhale te ken.
Ek sien regtig uit na die verhale en vertrou dat dit in so formaat sal wees dat ek en Annalize dit sal kan gebruik om aan ons twee klein seuns voor te lees voor hulle gaan slaap, die kere wat hulle by ons oorslaap. Kinders word deesdae so vol geprop van kunsmatige “helde” dat ‘n Dawid, Simson en ander “Bybel helde” glad nie meer funksioneer nie.
Dankie vir die nuwe inisiatief en ek glo en vertrou dat dit vrugte sal afwerp.