Iemand vra gister vir my: Wat is jou stokperdjie? Ek het toe nie dadelik ‘n antwoord nie. Ek probeer toe uitvind wat vir ‘n ding is ‘n stokperdjie. Wikipedia verduidelik n stokperdjie so
‘n Stokperdjie is ‘n gereelde aktiwiteit of belangstelling wat ‘n mens doen omdat dit lekker is. ‘n Stokperdjie word gewoonlik ontspanningstyd gedoen.
Met ander woorde ‘n stokperdjie is iets wat doen SOMMER NET OMDAT DIT LEKKER IS. As ek nou so daaroor dink, kan ek aan ‘n paar dink. As ek dan aan my stokperdjies dink, dan is dit nie dat ek op ‘n dag gedink het: Wat sal my stokperdjie wees nie. My stokperdjies het op my gegroei. EK het weel ‘n paar dinge wat doen SOMMER NET OMDAT DIT LEKKER IS.
Die eerste sou dan tegnologie wees. Wanneer ek ‘n ledige uurtjie het, is ek met een of ander vorm van die tegnologie besig. Die belangrikste deel van my stokperdjie is op hierdie stadium my IPAD. Ek het die IPAD nou al so baas geraak dat ek waarskynlik nooit weer ‘n skootrekenaar gaan koop nie. My IPAD het sy eie sleutelbord wat netjies in sy houer pas en oral saamgaan. Ek kan ook my IPAD aan ‘n dataprojektor koppel so ek sal in die toekoms my Powerpoint aanbieding via my IPAD doen. Uit die aard van die saak is al my boeke op die IPAD en ek kan via my IPAD vanaf enige plek in die wêreld met my rekenaar op my lessenaar skakel en enige iets doen wat ek op die rekenaar sou gedoen het as ek daar voor my lessenaar gesit het. Ek sal dus in die toekoms eerder in ‘n kwaliteit staan rekenaar belê omdat ek vir my werk baie ure by die lessenaar op die rekenaar sit en werk. (Binne die volgende twee maande gaan ek my ou IPAD verkoop en die nuwe model koop. Sien al klaar baie uit.)
Ek volg die politiek SOMMER NET OMDAT DIT LEKKER IS. Nie politiek in die sin dat ek self in die politiek betrokke sal raak nie, maar die politieke gebeure in ons land het ‘n baie beter storielyn as enige sepie op TV. Ek volg dit slaafs. Ek probeer om nie ‘n episode te mis nie. Die jaar wat verby is was ‘n wonderlike jaar vir mense soos ek. Die drama en die intrige en die gekonkel en die openbarings en die gevegte was sommer net lekker. Nou hou ek die ANC se jongste feesvieringe dop om te sien wat maak dat die twee vir – en teen Zuma kampe op die fees. Net soos in ‘n sepie kan ek nie verstaan dat iemand soos Motlanthle saam met Malema in die bed spring nie. Maar, nou ja… sepies is mos anders. Tot nou toe was ek vir Zuma om teen Malema te wees. Maar Zuma het ‘n paar dom en moedswillige aanstellings gemaak – As Motlanthle en Malema kan “skei”… dan is Motlanthle die man. Net jammer Tokyo Sexwale het nie as minister van behuising goed genoeg presteer om die gepeupel se guns genoegsaam te wen nie.
Ek lees SOMMER NET OMDAT DIT LEKKER IS. Ek lees gemiddeld een boek elke twee weke. Ek lees op hierdie stadium hoofsaaklik boeke met betrekking tot my vakrigting. Al hoe meer mense sê egter ek moet ander boeke ook lees. Ek dink nou daaraan om ‘n goeie boek oor die geskiedenis in die tyd van die eerste gemeentes te lees. Hahahaha – uitgevang dis nie ‘n ander onderwerp nie.
Die sosiale media is LEKKER en hou my op datum met wat in die wêreld gebeur. Ek volg van die grootste koerante se joernaliste wat verslag doen oor die politieke aangeleenthede op Twitter. Ek weet meestal dinge voor die res van die wêreld, wat nie op twitter is nie, dit weet en ek weet soms dinge wat die res van die wêreld nie in die koerante gaan lees nie.
Blog… is dan nou die laaste ding wat ek sommer net doen om dit lekker is. Ek blog nie noodwendig met die uitgesproke doel om deur middel van die dinge wat ek skryf van die wêreld ‘n beter plek te maak nie. Ek blog sommer net omdat dit lekker is. Ek skryf oor boeke wat ek lees, dinge wat ek beleef, goed wat in my gedagtes opkom, ens. Die ander “SOMMER-NET-OMDAT-DIT-LEKKER-IS-DINGE” kom in ‘n sekere sin vanself. As ek ‘n kansie kry kan ek daaraan aandag geee of ek werk in elk geval in my alledaagse werk daarmee. Om te blog vra dissipline. Ek het nou bietjie gelees oor stokperdjies. As jy nie daarvoor tydmaak nie, gaan jy dit nie doen nie.
Blog gaan egter oor baie meer as net om elke dag ietsie hier om te skryf. Blog het ook te make met ander bloggers. Hoe sal mense weet van my blog? As hulle sien ek lees hulle blogs en as ek daar kommentaar lewer en opmerkings maak wat hulle aandag trek. As ek ‘n goeie blogger wil wees, sal ek self die tipe leser moet wees wat ek graag na my blog toe trek. Iemand wat gereeld kom en iemand wat kommentaar lewer – selfs al is dit net ‘n kompliment of ‘n instemming.
Die lekker van my stokperdjies is dat hulle almal met mekaar verband hou.
As ek kon sou ek graag skryf en fotografie ook op my lysie van stokperdjies sit. Maar dalk later.
Het jy dinge wat jy doen SOMMER NET OMDAT DIT LEKKER IS?
My stokperdjie is presies dieselfde as joune! Kyk hier:
http://www.boekemakranka.co.za/
Attie, ek lees jou blog “sommer net omdat dit lekker is”! Jy sal sien dat ek ‘n voorneme het om bietjie meer tegnologies gevorderd te raak buite my vakrigting en daarom het ek ook nou die blog- gedagte omhels.
Wat betref een van my stokperdjies, ek boer met beeste “sommer net omdat dit lekker is”, maar wil ook ‘n winsie daaruit maak! Ek vind dit is ‘n “kop skoonmaak” oefening wat totaal verwyder is van my vakgebied wat ek daagliks beoefen en daarom ook terapeuties. Ek ly amper letterlik aan onttrekkingsimptone as ek nie ten minste elke Saterdag op die plaas deurbring nie. Gelukkig het ek oulike werknemers wat reeds jare saam met my is en werklik waarde toevoeg.
Seenwense.
So is dit/So it is! Dan lees ons maar lekker saam. Renate se ouers se plaas was dikwels vir ons die kop-skoonmaak-aktiwiteit.
Ek lees ook jou blog sommer net omdat dit lekker is. Dankie daarvoor. Ek doen tuinwerk vir ontspanning – dit maak my kop skoon en is terapeuties. Ons gesin het elkeen ‘n kamera en is amateurs in fotografie – maar geniet dit en probeer verbeter met elke vakansie/uitstappie – vergelyk, spog, kritiseer en komplimenteer mekaar. Bevredigende en rustige stokperdjie. Kampeer is ook ‘n verdere liefde. “Scan” ook soggens die Beeld aanlyn vir die lekkerte en nuus oor bekendes. Bly jy het my aan die dink gesit, kom toe agter ek doen darem meer as net vee en mop! Mooi dag vir jou! Groete