Ek het gister ‘n eerste kommentaar geskryf oor Christian Smith se boek wat handel oor Biblisisme. Gister het ek die eerste vyf veronderstellings van biblisisme genoem. Hier is nou die volgende vyf.
6. Solo Scriptura. (Let wel nie Sola Scriptura) Die betekenis van enige gegewe teks kan verstaan word sonder om na enige belydenisskrifte, belydenisse, historiese tradisies en ander vorme van groter hermeneutiese raamwerke gebruik te maak. Sulke teologiese formulerings kan direk vanuit die Bybel geformuleer word.
Voorbeeld: Geen belydenis of belydensskrif mag voorskryf hoe ek die Bybel interpreteer nie.
7. Interne eenstemmingheid. Alle verwante hoofstukke in die Bybel oor enige gegewe onderwerp sluit bymekaar aan soos legkaartstukke om ‘n enkel, verenigde, intern konsekwente lering oor regte of verkeerde leer of optrede te gee.
Voorbeeld: “God said it, I believe it, that settles it.” Daar is geen kans dat die Bybel homself sal weerspreek nie.
8. Universele Toepassing. Die dinge wat die Bybelskrywers op enige gegewe tyd die mense van hulle tyd geleer het bly steeds waar vir alle Christene in elke ander tyd, tensy dit op ‘n ander plek in die Bybel duidelik herroep word.
Voorbeeld: Die Bybel is vol tydlose waarhede wat alles vandag nog vir almal geld en daarom ook die hoogste gesag in en oor alles.
9. Induktiewe Metode. Alle sake met betrekking tot Christelike oortuiging en praktyk kan geleer word deur die Bybel te neem en die verskillende waarhede bymekaar te voeg.
Voorbeeld: Die dinge wat ons glo is die regte samevatting van wat die Bybel leer.
10. Handboek Model. Die Bybel leer deurlopend waarhede en morele standaarde en waardes. Hierdie waarhede bymekaar gevoeg gee dan vir ons ‘n handboek of teksboek vir Christelike oortuigings en lewe. So word dit ‘n samevoeging van Goddelike en daarom onfeilbare lering oor verskeie onderwerpe insluitende wetenskap, ekonomie, gesondheid, politiek en die liefdeslewe.
Voorbeeld: Die Bybel – God se Handboek vir die Lewe.
Die probleem met ‘n biblisistiese benadering is dat toegewyde en ernstige Christene dieselfde Bybel oor dieselfde saak met dieselfde erns lees, maar nie tot dieselfde gevolgtrekking kom nie. Biblisisme kan dan nie anders as om ‘n mate van onverdraagsaamheid te skep nie. Ek is reg… jy is verkeerd. Die noodsaaklike gevolg van ‘n biblisistiese benadering is skeuring. ‘n Groepie gelowiges groepeer weer saam rondom ‘n sekere waarheid waaroor hulle met ander verskil.
Robert K Johnson het dit so gestel:
That evangelicals, all claiming a common biblical norm, are reading contradictory theological formulations on many of the major issues they are addressing suggests the problematic nature of their… understanding of theological interpretation. To argue that the Bible is authorative, but to be unable to come to anything like agreement on what it says (even with those who share an evangelical commitment) is self-defeating.”
In sy artikel Lost in Interpretation sê Kevin Vanhoozer dat dit een ding is om te bely dat die Bybel waar is in alles wat dit leer, maar dit is heeltemal ‘n ander saak om te besluit wat dit is wat die Bybel nou eintlik leer. Met ander woorde: Ons interpretasie van die Bybel is nie gelyk aan die Bybel nie.
Inderdaad bly die Bybel die Woord en die Openbaring van God. Ons intepretasie is nie een van die twee nie.
Laat 'n boodskap