DIE SLAWEDOGTERTJIE

Baie, baie jare gelede in ‘n vreemde land was daar ‘n baie dapper generaal. Hierdie generaal was ‘n goeie soldaat en die koning van daardie land het die genraal vertrou om al sy oorloë te voer. Onder die dapper generaal se leiding het die koning se weermag die een groot oorwinning oor die ander behaal.

Op daardie stadium het oorlog onder andere behels dat die soldate in bendes opruk na die buurlande en strooptogte uitvoer. Die bendes het dikwels ook mense uit die ander lande ontvoer om dan in hulle land as slawe te werk. Tydens een van hierdie strooptogte het die generaal ‘n jong meisie gevange geneem en na sy huis toe geneem om daar vir sy vrou as bediende te werk.

Op ‘n dag het die generaal baie siek begin word. Hy het ‘n baie aansteeklike velsiekte gehad. Die jongmeisie het gesien hoe ongelukkig die generaal se siekte haar eienares maak en dit het haar ook ongelukkig gemaak. Op ‘n dag sê die jongmeisie vir die generaal se vrou: “Daar waar ek vandaan kom, in my tuisdorp, is daar ‘n bekende godsdienstige man. As meneer by hom kan uitkom, sal hy meneer sekerlik gesond maak.”

Intussen het die koning gehoor van sy dapper generaal se siekte. Op ‘n dag toe die koning en die generaal oor sy siekte praat, sê die generaal vir die koning. “Hierdie jongmeisie wat vir my vrou werk het haar vertel van die godsdienstige man in haar tuisdorp wat my dalk gesond sou kon maak.” Die koning was dadelik positief. Hy het nie net vir sy generaal toestemming gegee om te gaan nie, hy het ook vir die koning van die ander land ‘n brief geskryf waarin hy hom vra om asseblief die generaal te help.

Die koning in die ander land was baie ontsteld toe hy die brief lees. In die brief het gestaan: “Die draer van hierdie brief is my generaal. Sal jy asseblief sy velsiekte gesond maak.” Die koning van die ander land was dadelik agterdogtig. Volgens hom was hierdie net ‘n set en het hulle net ‘n rede gesoek om hulle weer aan te val. Duidelik was die vorige strooptogte en die mense wat ontvoer is nog vars in die koning se geheue. Die wonde was nog baie rou. Hy het gesê: “Is ek miskien God wat oor lewe en dood kan besluit?”

Die godsdienstige man het gehoor van die koning se ontsteltenis. Op sy beurt was hy weer baie ontsteld. Die koning moes die saak anders hanteer het. Hierdie is ‘n geleentheid om vir die mense van die vreemde land te wys hoe groot hulle God is en nou tree die koning so op. Hy vir die koning laat weet: “Vir wat is jy so ontseld. Stuur die man na my toe dan sal hy uitvind dat hierdie regtig goeie mense in ons land is.”

Die generaal is toe baie opgewonde na die godsdienstige man se huis toe. Toe hy daar kom, wou die godsdienstige man nie eers met hom praat nie. Hy het sommer sy assistent gestuur om vir die generaal te sê wat hy moet doen. Die generaal moes hom in ‘n rivier daar naby gaan was. Nou was dit weer die generaal wat baie kwaad was. Hoe durf hierdie godsdienstige man hom wat die generaal van die magtigste weermag in die wêreld is so behandel deur nie eers met hom te praat nie. Dei generaal was kwaad oor die godsdienstige man nie ten minste met hom gepraat het vir hom gebid of hom die hande opgelê het nie. Hy was kwaad omdat die godsdienstige man gedink het die riviere in die land is beter as die riviere in die generaal se land.

Gelukkig kon van die generaal se mense hom tot bedaring bring en hom sover kry om hom in die rivier te gaan was. Toe gebeur die wonderwerk. Die generaal word heeltemal genees van sy baie aansteeklike velsiekte.

Toe die generaal sien dat hy gesond is, is hy terug na die godsdienstige man toe. Hierdie keer was hy baie verleë. Hy het nie net om verskoning gevra nie, maar ook vir die godsdienstige man ‘n groot geskenk aangebied. Die godsdienstige man het egter geweier om die geskenk te aanvaar. Die godsdienstige man het oor en oor gesê dat hy nie geskenke wil aanvaar nie.

Die generaal was egter baie dankbaar. Op die ou end het hy vir die godsidenstige man net gevra of hy ‘n klein vraggie grond kan saamneem as hy terug gaan na sy land toe. Want daar in sy land moet hy soms saam met sy koning vir sy afgod gaan aanbid. Dan moet hy kniel. Hy wil nou ‘n vraggie grond saamvat sodat wanneer hy daar kniel, hy eerder op die vraggie grond kan kniel want hy wil van nou af dieselfde God as die godsdienstige man en sy vrou se bediende aanbid.

Hy het gesê: “Ek wil op hierdie vraggie grond vir jou God offer. Ek wil nooit weer vir enige ander God offer nie.”

Die generaal is toe weer terug na sy land en na sy koning toe. Daar moes hy dikwels saam met die koning kniel wanneer dié sy afgod aanbid, maar in sy hart het die generaal altyd net die God van die jongmeisie en die godsdienstige man aanbid.

(Lees die verhaal van Naäman en Eilsa in 2 Konings 5.)

One thought on “DIE SLAWEDOGTERTJIE

Add yours

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s

Create a free website or blog at WordPress.com.

Up ↑

%d bloggers like this: