MURE RONDOM ONS

Ons woon nogal in ‘n mooi omgewing. As ons in die oggend wakker word en ons trek die gordyne oop, dan sien ons ‘n klein stukkie berg. Die Kapenaars sou sê ons sien iets wat met ‘n koppie vergelyk kan word. Hoe dit ookal sy, vir ons is dit ‘n stukkie berg – die Magaliesberg.

Die strate is besonder boomryk en hier by ons maak die munisipaliteit die slaggate redelik getrou reg. Die meeste strate het sement sypaadjies en die mense stap graag met hulle honde of draf vir oefening. Ons voel as gesin baie veilig in Waverley. Die meeste mense wat in Waverley bly, bly al baie jare lank hier. As ek sê ‘n leeftyd dan bedoel ek 70-80 jaar en soms selfs langer. Mense is hier gebore en hulle gaan hier dood. Die meeste mense ken mekaar of weet ten minste van mekaar.

Maar so ‘n gemeenskap is ook ‘n moeilike gemeenskap om deel van te word. Vir ons was dit maklik toe ons in Augustus 2009 hier ingetrek het. Ons was immers die dominee en sy gesin en ons het in die pastorie ingetrek. Mense het ons opgesoek en ons verwelkom. Ek kom egter agter dat dit veral vir die jonger mense wat hier intrek moeiliker is. Die jonger mense met wie ek in aanraking kom sê nogal dat dit moeilik is. MURE RONDOM ONS.

As mense sukkel om deel te word van ‘n gemeenskap moet die kerk daarvan kennis neem. Die kerk is geroep om van die gemeenskap ‘n beter plek te maak. Die gemeenskap moet beter wees omdat die kerk daar is. Daarmee bedoel ek in die heel laaste plek dat die kerk vir die mense in die gemeenskap ‘n plek moet wees waarheen hulle Sondag kan gaan, welkom kan voel, lekker saam met ander sing, ‘n goeie preek hoor, saam ander tee drink en dan weer huistoe gaan. Ek bedoel ook nie dit moet ‘n plek wees waar hulle hulle kinders kan bring sodat ons hulle van die Here kan leer nie. Natuurlik is al daardie dinge belangrik. As ons daardie dinge nie goed doen nie, dan moet ons ook nie verbaas wees as die kerk dit nie maak nie. Die kerk MOET vir die gemeenskap iets beteken wanneer die kerk se deure toe is en die dominee nie op die kansel is nie.

Hieroor dink ek nou al ‘n hele rukkie. As die kerk nie DIE MURE RONDOM ONS oorsteek of afbreek nie, is ons dan alles wat die Here bedoel het ons moet wees? Ek wonder of die kerk nie ‘n verskil sou kon maak as ons net begin om mekaar te leer ken. Intensioneel. Met intensioneel bedoel ek dat ons doelbewus daarop ingestel moet wees om DIE MURE RONDOM ONS oor te steek. Ek dink elke gesin kan hier ‘n verskil maak.

Sê nou elkeen van ons sou in 2012 een ander gesin of een ander persoon leer ken. ‘n Gesin wat ons nog nie ken nie. Dit kan iemand in die straat wees, dit kan iemand wees wat hulle in die winkelsentrum raakloop. Dit kan een van die kinders se gesinne wees. Elke gesin leer een ander gesin ken met wie hulle dan deur die loop van die jaar stelselmatig ‘n verhouding bou. Word net op ‘n baie rustige manier deel van die gesin se lewe. Byvoorbeeld: “Ons hoor die pa van die huis verjaar vandag. Ons gesin het vir julle ‘n koek gebak. Baie geluk en geniet julle dag verder.” Met ander woord ons kan saam met hulle bly wees en saam met hulle treur.

Hoekom? Ek dink dit is deel van die groot opdrag – gaan maak dissipels. Paulus skryf aan Timoteus dat as iemand van hom ‘n antwoord vra moet hy gereed wees met ‘n antwoord. Ek dink mense gaan vra: Hoekom doen jy dit? Ek dink ons moet dan kan antwoord: Ons doen dit in gehoorsaamheid aan die Here Jesus. Hy het ons opdrag gegee om dissipels te maak. Hy het ook vir ons die werkswyse gegee: Doen dit deur  God meer lief te hê as enige iets anders en jou naaste soos jouself. Ek wil nie hê jy moet na my kerk toe kom nie, maar as jy nie by ‘n kerk inskakel nie, hoop ek dat jy saam met my by my gemeente sal kom aanbid. As jy reeds deel van ‘n kerk of ‘n gemeente is, wonderlik – aanbid God daar.  As jy iemand is wat nie glo nie, dan sal ek steeds vir jou lief wees en steeds saam met jou bly wees en saam met jou huil. Want dit is nie ek wat geloof bewerk nie. Die Heilige Gees doen dit. Ek sal steeds vir jou lief wees want mens moet baie versigtig wees om die onkruid te probeer verwyder terwyl die koring jonk is. Dalk trek jy koring saam met die onkruid uit.

DIE MURE RONDOM ONS het ons afgesny van ons bure. Ons kultuur is om daardie mure te respekteer. Daardie kultuur moet verander word as ons kerk wil wees. Ons kan nie beweer dat ons kerk is as ons mure wat mense rondom mense gebou het as heilig respekteer nie.

7 Kommentaar

Filed under Koninkryk van God, Leef liefde., Missionaal

7 responses to “MURE RONDOM ONS

  1. Werner Olivier

    Attie, n baie goeie skrywe.Ek stem met jou 100% saam.As ons hierdie kan regkry sal ons n ”World in Union”kan bou.

    Groetnis.

  2. Philip

    Attie – ek weet nie mooi wie jy is nie maar het paar dae gelede op jou ‘Blog’ afgekom hier waar ek met vakansie sit en luierig na die rekenaar kyk of daar nie erens ‘n krisis e-pos sal in my ‘inbox’ sal inval dat ek iets het om te doen of erens van waarde kan wees nie. ek geniet jou sieninge (die wat ek reeds gelees het) en neem aan jy is predikant. nou moet ek dadelik bieg: ek hou nie van predikante nie, veral nie predikante wat in die afrikaanse kerke doenig is nie. Met ‘predikant’ het ek ‘n sekere prototipe in gadagte en ek besef dit is maar die uitsondering eerder as die reel. ‘predikant’ is ‘n meerderwaardige, arrogante, na-ywerige, beterwetige sondige mens (nes ek) wie probeer onder die dekmatel van sy aanstelling homself probeer verheerlik en mense veroordeel. Jy lyk vir my, is ‘n ‘Leeraar’ wie daagliks soek na hoe om mense om jou -nie net die wat groot bydraes lewer en jou na hulle wildplase toe nooi nie – te help en lewens te verbeter. Ek lees graag verder oor wat jy dink. Ek wou bg gedagtes met jou deel maar jou funksie “KONTAK MY PERSOONLIK” werk nie. Groete en beste wense

  3. Phillip… dalk is ek al hierdie dinge. Ek hoop nie so nie… Ek is daarvan oortuig dat die Here mye geroep het om van sy wêreld ‘n beter plek te maak. Kom kuier maar hier. Dalk geniet jy dit.

  4. Attie, ek wonder of die “kultuur” van ons mense om mure te bou ook ‘n bydraende faktor is dat baie min kerke nog die praktyk volg dat daar by gemeentelede besoek afgele word.

  5. Philip

    Attie, my bydrae was nie ‘n aanval op jou nie – dit was eintlik vir myself geskryf oor waarom ek nie meet kerk toe kan gaan nie en selfs nie eers na ‘predikante’ oor die nuus of radio kan luister nie. jou benadering en sieninge is – soos ek dit ervaar – baie anders, en ek wil jou bedank en geluk wens hiermee. Ek is onwrikbaar ‘n christen wie glo maar baie twyfel het van tyd tot tyd en het op n tyd ‘n groot rol in ons plaaslike kerk gespeel en gevoel ek kry antwoorde op daardie vrae – maar dit het verbygegaan toe ek die mens agter die predikant leer ken het. Ek lees graag jou ander gedagtes en sal probeer om te kom ‘kuier’ – al is dit net dmv die internet. ek reis geweldig baie en is nie langer as 10dae op enige plek of enige land nie – so dis moeilik. Groete en dankie dat jy vir baie ander, maar vir my ook iets beteken.

  6. Die “mure kultuur” speel beslis ‘n groot rol. Ek persoonlik maak egter ‘n punt daarvan om enige iemand wat aandui dat hy/sy besoek wil word te besoek.

  7. Phillip – ek het dit ook nie as ‘n aanval beleef nie. Jy verwoord maar wat ek dikwels hoor en ek het baie begrip vir mense wat soos jy dink en voel. Sommige dominees en ander Christene maak dat mense so voel. Weereens… welkom hier.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s