Ek en vroulief het die Nuwe Jaar op ons eie ingewag en die Oue op ons eie vaarwel toegeroep. Wel ook nie heeltemal op ons eie nie.
Buurman se huis-opasser en sy maters was darem ook daar.
Teen half-nege was ons dankbaar. Daar was geen teken van ‘n partytjie nie. Net twee liggies in buurman se huis brand en geen karre nêrens te bespeur nie. Ten kwart oor nege was dit heeltemal ‘n ander storie. Dit lyk asof almal wie se ma’s gesê het hulle nie Hillbrow toe mag gaan nie op een of ander manier die pad na buurman se woning gekry het. In Waverley val daar ten minste nie ‘n bed op jou kar nie.
Wel bewus van die feit dat pret en plesier en Nuwe Jaar anders gedefinieer word deur die enigste twee oorblywendes in die pastorie as die horde oorkant die straat, pla die partytjie ons nie te veel nie. Ons laat maar gaan. Toe die klappers teen ongeveer tien uur begin klap het ons ook gedink dat dit nie te lank sou hou nie. Later het ons maar die boerboel onder die bed laat lê en die worshond onder die kombers bo op die bed en so die nuwe jaar ingegaan. Die laaste halfuur van 2011 is doodgeskree en doodgeskiet. Die eerste halfuur van 2012 het my laat dink dat die Nuwe Jaar geen manier het om ooit sy rustigheid iewers te vind en ‘n brietjie vrede vir die ANC en vir Julius Malema te bring nie. Teen hierdie partytjie-tempo is die ANC klaar 100 jaar oud en Zuma nog vier jaar president.
Deur dit alles heen het ek maar gelees wat ek kon lees en gekyk wat ek kon kyk. Nou en dan nuuskierig geloer om te sien waar al die karre parkeer, maar andersins rustig.
Teen 45 minute in die Nuwe Jaar in klap die moeder van alle bom-“crackers”. Die kameel se rug breek net daar. Ek het nie verniet GI Jane vroeëer die aand gekyk en is nie verniet aan my eie weermag dae herinner waar ‘n man vir niks en vir niemand bang was nie. Onbewustelik spring ek in my gekamoefleerde kortbroek in om stilte te gaan aankondig. By my aankoms dog ek daar is nog mense wat kom stil maak. Die feit dat hulle met karre gekom het, het my laat dink dat die “cracker” groter was as wat ek gedink het. Ek kom toe agter dat dit nuwe aankomelinge is wat reeds twee partytjies kaf gedraf het en nou die derde een bestorm en beslis nie saam met my stilte gaan aankondig nie.
Ek dring daarop aan om met die persoon te praat wat die huis oppas. Niemand weet wie dit is nie. Een man kom haastig uit die huis uitgestap en ek dink: “Hier is hy nou!” Hy stap egter vinnig en doelgerig by my verby om die nuwe partytjieganger entoesiasties te help dra aan die “cooler” met nuwe “stash”. Einde laaste daag die bewaarder van buurman se huis op. Duidelik dat Bewaarder nog nie sluimer of slaap oorweeg nie. Ek verduidelik met oorgawe vir die man dat ons verstaan dat hulle graag partytjie wil hou en dat ons hulle nie regtig gaan vra om die partytjie te stop nie, maar die “crackers” behoort nou end te kry. Bewaarder se een assistent wat daar rondgestaan het en duidelik binnekort gaan sluimer of slaap, reken ek kan niks doen as hulle dit nie sou wou doen nie.
Ek kon toe nie anders as om Slaper en Bewaarder daaraan te herinner dat die skiet van klappers onwettig is nie en dat ek net nodig het om ‘n oproep te maak en die SAPD sal die saak hanteer. En glo my, in die Waverley omgewing bel jy nie die SAPD sommer net nie. Hulle kom. Bewaarder weet dit – Slaper nie.
Bewaarder vra netjies verskoning en verseker my dat ek gerus die polisie kan bel as daar nog een klapper klap. Hy wil net eers met sy troepe praat. Soos ‘n rugbyskeidsregter gee ek vir Bewarder kans om sy prate te praat. Hy wag dat ek loop en ek wag dat hy praat. Toe hy sien ek wag sê hy: “Oom dit sal so vyf minute vat. Ek weet nie waar is almal nie. Ek weet nie wie is almal nie.” Ek besef toe Bewaarder sal ‘n soekgeselskap moet uitstuur om die boodskap die rondte te laat doen en draai toe maat terug na my eie huis.
Ons gee mekaar die hand en wens mekaar ‘n voorspoedige Nuwe Jaar toe. Slaper wens ook ek het ‘n mooi nuwe jaar.Ek weet ten minste my eerste wakker word in die Nuwe jaar sal minder pynlik wees as syne.
Nou is dit oggend. Almal is nie huistoe nie. Maar buurman se buurman aan die agterkant het vroeg vanoggend met sy honde gestap en dit het gemaak dat al die honde wat gisteraand met die klappers swaar gekry het, hulle lot by mekaar bekla het. Bewaarder moes wakker geword het. Hy wonder dalk of mens die polisie kan bel oor honde wat so kerm. Gelukkig nie lank nie, toe is die honde binne steurende afstand stil en kon Bewaarder en sy span seker weer slaap.
In die erf langsaan broei twee Hadida’s. Tien minute na die honde brigade skree hierdie twee Hadida’s asof die aarde werklik in 2012 gaan vergaan. Bewaarder sekerlik weer wakker.
Ek glimlag in die stilte. So versteur ons maar mekaar se rus op verskillende maniere.
Toe lui Koster die kerkklok – 50 meter weg van Bewaarder se kopkussing af. Lank en innig.
Ek kry Bewaarder jammer.
Ek wonder of ek nie hierdie jaar iets kan doen aan die klok nie. Moet hy altyd so lank en innig doen wat hy moet doen? Het hy hoegenaamd nodig om dit te doen? Is daar iemand wat nie sal kom nie as hy nie lui nie? Is daar iemand wat kom omdat hy lui? Is daar dalk iemand wat sê: “Ek gaan nie kom nie, omdat hy lui?”
Ag nee, Bewaarder, kyk nou wat het jy gedoen.
Voorsoedige nuwe jaar Attie en Renate. Ek en my ou vroutjie het ook gister aand gekies om rustig en alleen met ons drie Yorkies, Rafiki die African Grey en Coco die Senegal Papagaai sowel as die visse in die tuindam, rustig die ou jaar te groet en die nuwe jaar in te wag. Elkeen met ‘n dik boek in die hand, kersfees se oorskiet koekies in ‘n blik voor ons en ‘n lang koppie tee het ons ook maar voor die TV gesit en Skouspel vir die tweede keer gekyk so tussen die klappers deur. Twaaf uur maar die “kinders ingetuck” en self onder die velle gaan inkruip om te luister hoe die wêreld geraas maak. Ek wonder nog al die jare, hoekom klappers? Ek kan nie onhou dat ek in my hele lewe al ooit ‘n klapper geskiet het nie omdat ek nie verstaan hoekom mense dit doen nie.
Miskien moet ek dit tog ook probeer – ek grap net – ek haat lawaai.
My skoonpa het naby die kerk gewoon. Die kerkklok was absoluut hulle “aanwyser”. As die klok so lui moet hulle begin regmaak. as dit so lui moet hulle stap…
As ek op ons dorp gaan kuier, maak die klank van die klok baie herinneringe wakker.
Nee wat. Los die klok!!! Dis KARAKTER!
Dankie Johan – vir jou en jou gesin ook.
Toortsie – is waar wat jy sê oor vir sommige is dit ‘n baken en karakter en al daardie dinge. Nou wonder ek: As daardie kerkklok sommige mense so kwaad sou maak dat hulle niks met die kerk te doen wil hê nie… hoe nou gemaak? 🙂
my pa woon in Waverley , ons het so rukkie by hom gewoon voor ons , ons huis gekoop het in Mooikloof maar toe het ons net twee jaar daar gewoon en nou bly ons amper jaar lank in Somerset wes in die Kaap …
In Waverley daardie jaar het die bomklappers ons mal gehad en dit is al `n hele paar jaar terug , die jaar in die Kaap het ons dit so ver langs gehoor dat mens amper gewonder het waar is die klappers , en dankie toggie ons arme diertjies het nie die keer so bang geraak soos in Pretoria nie . Beste wense vir jou en jou gesin . Die kerk was nogal naby my pa se huis , Ben swart straat en dit was nogal mooi vir my om dit Sondag oggend te kon hoor !
Staaltjies… as jy weer by jou kom kuier en jy hoor die klok lui. Kom groet gerus.