UITVERKIES

Alleman het gister op my skryf oor GOD HET NIE ‘N BLOUDRUK-PLAN VIR JOU LEWE NIE, kommentaar gelewer. Die kommentaar kom basies daarop neer dat ek in die skrywe die leer oor die uitverkiesing van die tafel afvee sonder om een teksvers vir my standpunt te gee. Nou gaan ek ook nie juis vandag ‘n klomp tekste aanhaal nie.

Die vraag gaan vir my oor die vrye wil van die mens. In hoe ‘n mate het die mens ‘n vrye wil of het God vooraf reeds besluit hoe alles gaan gebeur en eindig. Die gesprek oor die saak gaan baie ver terug – sover as Calvyn en Arminius, dalk selfs Augustinus. Ek is soms bekommerd dat sommige van ons as Gereformeerdes so Calvinisties is dat as ons moet kies tussen Calvyn en die Bybel gaan ons eerder Calvyn kies.

Een van ons belydenisskrifte Die Dordse Leerreëls is by die Sinode van Dordt in 1618-1619 opgestel in reaksie op Arminius se standpunte. By die geleentheid is die vyf punte van Calvinisime geformuleer. Die vyf punte is:

1. Totale verdorwenheid van die mens – Mense is nie van nature daartoe geneig om God lief te hê nie.

2. Onvoorwaardelik uitverkiesing – God het in die ewigheid besluit aan wie Hy genade sou betoon en wie nie.

3. Beperkte versoening – Wat Jesus aan die kruis gedoen het, is genoeg vir almal wat uitverkies is.

4. Onweerstaanbare genade – God se genade is sterker as die weerstand wat enige een wat Hy uitverkies het sou kon bied.

5. Volharding van die gelowiges – Die wat God geroep het om aan Hom te behoort sal nie verlore gaan nie.

Oor elkeen van hierdie punte is daar boeke geskryf. Oor nie een van die punte is daar ‘n finale woord gespreek nie. Met betrekking tot die uitverkiesing en die hele gedagte dat God in die ewigheid mense uitgekies het om aan Hom te behoort, het Augustinus daarop gewys dat God tydloos is. Tyd is deur God geskep. God was eers daar en toe het tyd gekom. God leef in die ewige nou. God is nie deel van sy skepping nie. God is transendent (buite/losstaande) van sy skepping. ‘n Beskouing oor die ewigheid as ‘n verlenging van tyd na weerskante het tot gevolg dat determinisme God se werkswyse word. Wille Jonker het dikwels vir ons gesê: God neem sy ewige raadsbesluit op die laaste moment. God is ewig. Ewig is nie ‘n verlenging van tyd nie.

Bavinck het hier mooi opmerking gemaak:

“De raad Gods is evenmin als de generatie eene daad Gods in het verleden; hij is eene eeuwige daad Gods, eeuwig voltooid en eeuwig voortgaande, buiten en boven de tijd . . . En hij is evenmin te denken als een plan, dat ergens gereed ligt en nu op uitvoering wacht”. (Bavinck Gereformeerde Dogmatiek II)

Determinisme sou naastenby so klink: Voor God geskep het, het hy eers name neergeskryf van mense wat Hy gaan red. Toe het Hy geskep en Hy het geweet die mens gaan sondig, maar gelukkig het Hy ‘n lysie name gehad. Die wat Hy uitgekies het gaan op een of ander manier gered word, terwyl alle ander mense verlore sal gaan. Wanneer hy aan die einde van tyd soos ons dit ken weer kom sal die uitverkorenes by Hom wees en die ander in die ewige hel. So ‘n benadering is nie net deterministies nie, maar fatalisties.

Ek herinner my dat ‘n hele paar vooraanstaande teoloë in die geskiedenis, waaronder Karl Barth en G.C. Berkouwer ernstig probleme gehad het met veral die deel van die Dordtse Leerreëls wat verwerping van sommige sien as deel van God se ewige raadsbesluit. Berkouwer het die verwerping esien as God se handeling in die tyd. Barth het verduidelik dat God Jesus aan die kruis verwerp het sodat ons nou na elke mens toe kan gaan en sê: “Jy is uitverkies!” As jy dit nie wil aanvaar nie…

Met ander woorde: Alhoewel die Bybel ons van die uitverkiesing van God leer, vind die uitverkiesing van God nie op ‘n manier plaas wat die mens van alle verantwoordelikheid ontneem nie.

In hierdie jaar het die debat weer na vore gekom met Rob Bell se boek Love Wins. Rob Bell se boek het die vraag van Universalisme – alle mense gaan gered word – na vore gebring. Juis in ‘n ongemak oor die saak van die deterministiese (Alles vooraf bepaal) beskouing oor uitverkiesing  is daar teoloë wat reken dat alle mense in elk geval gered gaan word. In aansluiting en reaksie daarop die boek Universal Salvation? The Current Debate. My vriend Scot Mc Knight het op sy blog The Jesus Creed geskryf oor hierdie saak en daar was ‘n interessante gesprek.

Die theïsme gesprek is baie interresant in hierdie opsig. Daar is Klassieke Teïsme en Oop Teïsme.

Ek wonder dikwels watter impak die modernisme op ons gehad het. Het die modernistiese aanslag op die Bybel nie dalk tot gevolg gehad dat ons gedink het dat God vir ons die Bybel gegee het sodat ons soveeel insig as moontlik oor Hom kan kry en sy goddelike verstand en denke kan verstaan en dan uit daardie inligting vir onsself ‘n beeld van Hom kan skep wat vir ons sin maak nie? Het modernisme het nie dalk tog gevolg gehad dat ons preekstoele geklim het en in Bybelstudies gaan sit het en oor God gepraat het asof ons Hom vir onsself uitgepluis het, asof ons perspektief op God nou geheel en al sonder enige vorm van spanning of onsekerheid is nie? Ek vra die vraag.

Ek dink soms ons moet die Bybel minder moet gebruik iets waarmee ons ‘n rasionele, verstandelike greep op God kan kry. Wanneer God Homself aan my openbaar of bekend maak is dit altyd ‘n beperkende handeling sodat ek Hom kan verstaan. Geen openbaring met betrekking tot God is volledig nie. Ek beleef altyd weer spanning tussen hoe ek God verstaan en wat ek dink ek van God weet en van die dinge wat ek beleef. Geloof is vir my ‘n keuse om op die breuklyn van hierdie onsekerheid te lewe. In die geval van die uitverkiesing, die breuklyn van die menslike vrye-wil en God se ewige raadsbesluite.

Ek weet dat God mense met die gevolge van hulle keuses laat saamlewe. Ek weet egter ook dat God onveranderlik goed bly te midde van ons keuses en die gevolge van ons keuses. Ek weet dat ek nooit bang hoef te wees nie en dat geen mag in hierdie wêreld groter of sterker is as God se mag nie. Dalk i sdie mooiste leerstelling van die Dordtse Leerreëls die gedagte van die onweerstaanbare genade van God. Die gedagte dat God in sy groot genade sy hand van genade gaan uitsteek na elkeen van Hy in die ewigheid uitgekies het om aan Hom te behoort. En wanneer God sy hand van genade na iemand toe uitsteek sal hy dit nie kan weier nie. God se genade sal hom sagkens oorrompel.

In ‘n Koffiekroeg in Oudsthoorn het God se genade my finaal oorrompel. Ek kon nie meer nie. God het gewen. Water salige nederlaag! Ek weet dat ek daardie aand “Ja” gesê het, maar dit was eerlik in reaksie op die groot ontdekking dat God in Christus reeds vir my “Ja” gesê het.

Ek het my verstand gekry in die hoogbloei van die modernisme. Ek leef my bediening in die ontwaking van die post-modernistiese era. Niemand weet regtig hoe om post-modernisme te beskryf nie. Wat ek verwelkom van post-modernistiese deknwyse is die ruimte wat daar vir misterie gelaat word. Ek mag maar sê: “Hieroor is ek nie 100% seker nie.”

 

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s

Blog at WordPress.com.

Up ↑

%d bloggers like this: