Op twitter volg ‘n sekere “easyleesie” my en ek volg hom. Hy is ‘n ateïs of ‘n skeptikus. Hoe hy na homself verwys is egter nie belangik nie. Vanoggend maak hy hierdie opmerking: “If God has a plan for me, what happened to my “free will”. You remember tha magic fruit and the talking snake…?”
Ek dink dit is ‘n billike vraag. Ek dink baie Christene skep die indruk dat God vir elke mens ‘n vooraf uitgewerkte plan vir jou lewe het en dat jou rol en taak is net om te ontdek wat God se wil en plan vir jou lewe is, daarby in te val en siedaar… jy is ‘n wonderlike gelukkige, suksesvolle wese. Ek dink nie dit is so eenvoudig nie. Kom ek stel dit so:
God het nie ‘n bloudruk-plan vir jou lewe nie!
God het ons geskep as mense met ‘n vrye wil. Ek kan letterlik maak wat ek wil. Daarom verkrag sekere mans twee jarige dogtertjies. Daarom gryp ‘n man ‘n geweer en skiet tientalle jong mense op ‘n eiland dood. Daarom nooi mense op Kersdagmense van die straaf af om saam met hulle ‘n kersete te kom eet. Daarom was daar honderde Christene wat op Kersdag ‘n paar borde ekstra kos voorberei het en dit by mense gaan aflaai het. Met ander woorde, mense gebruik hulle vrye wil om kwaad te doen en sleg te wees. Ander gebruik die vrye wil om goed te doen en van die wêreld ‘n beter plek te maak.
Elkeen van ons kan keuses maak en besluite neem na willekeur. Elkeen van ons kan ons met ons lewens maak wat ons wil. Ek dink nie dit was reg van die begin af God se plan vir my lewe dat ek ‘n dominee sou wees nie. Dominee wees is en was my keuse. Ek kon enige ander beroep gevolg het. My lewe sou dan nie noodwendig minder binne die wil van God gewees het as vandag nie. Ek het vir tien jaar lank by Rustenburg Stadsraad gewerk. Ek kan nie sê dat ek toe minder gelukkig was as nou dat ek ‘n dominee is nie. Ek het my werk by die stadsraad baie geniet en net so geniet ek my werk as dominee baie. Net soos is my lewe tans as dominee nie noodwendig minder binne die wil van die Here as my teologie studentemaat wat nie meer in die bediening is nie en nou sy eie besigheid bedryf nie.
God het nie ‘n bloudruk-plan vir jou lewe nie!
God het wel ‘n droom, ‘n ideaal, ‘n wil vir my lewe. Maar God se droom, ideaal, wil vir my lewe verskil nie baie van die een langs my nie. God se droom vir my lewe en elke ander mens se lewe is: Dat sy Koninkryk in my en deur my sal kom. God wil hê dat sy heerskappy in my en deur my sigbaar sal word. Waar God se heerskappy volkome is, is die nuwe hemel en die nuwe aarde.
God se koningsheerskappy beteken byvoorbeeld nie dat net een vrou vir my die regte vrou is nie. God se koningsheerskappy beteken dat ek my gesonde verstand gebruik en ‘n lewensmaat kies en dat ons twee saam dan sy heerskappy uitlewe. Voordat ek en Renate getroud is, was daar ander moontlikhede vir my… maar my gesonde verstand en die lesse wat die lewe my geleer het, het my laat besef dat dit nie sou werk nie.
God is deur die werking van sy Gees dinamies betrokke by alles wat in my lewe gebeur. God het vir my die Heilige Gees, die Bybel, gesonde verstand, mede-gelowiges, omstandighede, gebeure, ens. ens. gegee wat alles ‘n invloed op my besluitneming het. God respekteer my keuse.
‘n Lewe van aanbidding is ‘n lewe waar ek God eerste stel in my lewe – sodat ek deur my lewe sy koningsheerskappy sigbaar kan maak.
Indien daar dan ‘n bloudruk-plan moet wees, dan dink ek dit is: Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met jou hele verstand en jy moet jou naaste net so lief hê soos jouself.
Amen! Het ook al daaroor geblog en gepreek….Snaaks hoe mense sukkel om dit te glo. Dis asof mense wil hê daar moet ‘n blouplan wees; asof hulle een of ander troos daarin vind.
EN die swaarkry tye in my lewe is omdat my lewe nie binne hierdie “bloudruk-plan” is nie.
“Only two kinds of people: Those who say to God ‘Thy will be done!’ and those to whom God says ‘All right, have it your way.” (CS Lewis)
Dit klink goed, maar dis nie toevallig dat mense aan pre-determinasie glo nie. Hulle het dit nie self uitgedink nie, maar van dominees gehoor. En daar is bybelse redes om so te glo, byvoorbeeld die dele waarop die uitverkiesingsleer gebasseer is. Die uitverkiesing is suiwer pre-determinasie, terwyl hierdie hele inskrywing geen bybelse verwysing maak nie.
En dis een probleem wat baie van ons het met die godsdiens: dis heeltyd aan die verander.
Alleman … Adam en Eva het vrye wil gehad en die verkeerde keise gemaak. Ek is weer baie bly dat ons in 2011 na die Bybel kan kyk en met nuwe verstaan na vore kan kom. Die een oomblik kry die kerk slae oor ons nienverander nie en die ander oomblik oor ons verander. Die een oomblik word die Bybel biblisisties gebruik om te wys hoe dom Christene is. Die volgende oomblik word hulle kwalik geneem omdat die Bybel nie biblisisties gebruik word nie. Natuurlik glo mense omdat dominees en ander Christene hulle so geleer het. Gelukkig het God ons gemaak om ook nuwe insigte te ontwikkel.
Ja , Hy het ‘n bloudrukplan vir jou lewe ….Maar dis jy wat die bouwerk doen .As jy dit nie reg doen nie dan kom die bouwinspekteur en keur dit af en ‘n “bribe” is nie ‘n opsie nie…Dis jou keuse
Interessante perspektief, ek is geneig om met jou saam te stem, alhoewel ek tog glo dat daar mense is wat tot ‘n spesifieke bediening of doel geroep is. Ek dink byvoorbeeld aan Broer Andew en die bediening wat hy gehad het (en nog het) om verdrukte Christene te ondersteun. Dit bly egter elkeen se eie besluit of hy die roeping wil aanvaar, en ook elkeen se eie besluit om met sy of haar lewe te doen wat hulle wil.
Ds Attie, ek is nie een wat heeltyd op die aanval wil wees teen Christene nie. Ek was bly oor Belhar, en het begrip daarvoor dat nuwe insigte kan kom.
Maar die uitverkiesingsleer is iets waarmee ek ‘n baie lang stryd gehad het, en die gedeeltes waaruit dit kom het altyd vir my baie ondubbelsinnig gelyk. Daarom is dit vir my moeilik om still te bly oor hoe gemaklik jy hierdie sentrale lering van die tafel afvee, sonder enige verwysing na die bybel.
Alleman… ek dink meeste het groot geword met ‘n deterministiese uitkyk op die uitverkiesing wat neerkom op ‘nmeganiese verlossing of uitverkiesing waarin die mens geen aandeel het nie. Ek dink verder die uitverkieising en die gedagte dat God nie ‘n voorafbepaalde bloudruk vir my lewe het nie, is nie heeltemal dieselfde saak nie. Meganiese uitverkiesing beteken ek kan nie verlore gaan nie, maak nie saak wat nie. Bloudruk beteken dat my lewe’n bepaalde loop gaan neem ongeag. Ek sal tog by geleentheid iets skryf oor uitverkiesing en hoe ek daaroor dink.
Ek kan nie anders as om ook hierop te reageer nie. Ek glo ook nie dat God voor ons geboorte vir elkeen van ons ‘n “bloudruk” gehad het waarvolgens ons moet / sou lewe nie, anders was die koms en srerwe van Jesus nie nodig nie. Ek verstaan die Bybel dat God vir elke mens die keuses gee, maar dat die Woord van God ons leer hoe om te kies en riglyne vir ons keuse gee. Daar is talle voorbeelde in die Bybel waar God mense die geleentheid gee om te kies. Ek kies nie altyd reg nie, maar die genade van die Here is gelukkig genoeg om my te laat oor kies. Daar is ook voorbeelde in die Bybel waar God self ook van besluit verander het en mense se lewe verleng het, ens. Verder is dit ook nie uitgesluit dat God ook wel vir sommige mense ‘n baie spesifeke doel het nie – byvoorbeel vir Maria. God het gekies dat sy Jesus in die lewe sal bring. Ja, ek glo ons het keuses, maar ek glo ook dat God ons lei om die regte keuses te maak.
Ek voel dat God ons voor die grondlegging van die aarde ‘n doel het met ons lewens. Toe ons gebore is uit die vlees het God ‘n plan met my en jou lewe hier op aarde . Julle sien , ons is almal in die Gees broers van mekaar( onthou God maak nie onderskeid tussen geslagte nie) maar satan wil he dat ons mekaar moet herken nie want hy het ons gedagtes kom versluier sodat ons mekaar nie moet herken nie.
Ek glo dat ons elkeen by God moet hoor wat moet ons doen en wat is ons roeping hier op aarde sodat sy wil kan geskied hier op aarde, maar slegs wanneer op opstaan in ons roeping en God se wil doen.
Ek glo dat die dae verby is om net sondae kerk toe te gaan om by een persoon te hoor wat die Here vir hom gese het wat om moet die mense doen.
Kom uit jou gemak zone en begin opstaan in jou roeping, die oes is ryp en die arbeiders min.
God het vir jou en my nodig sodat sy wil kan kom aarde deur ons wat gaan opstaan in roeping.