‘n Groep jongmense, onder 35, stuur vir ‘n paar vrae wat hulle gisteraand rondom die braaivleisvuur besig gehou het. Hulle vra of ek die vrae op die blog kan plaas sodat daar bietjie gesprek daaroor kan wees.
Daar is vyf vrae. Die vrae handel oor:
1. Hoe gaan dit wees wanneer die Here weer kom?
2. Wat het ‘n mens nodig om in die hemel te kom?
3. Wat van Christen wat in sonde lewe?
4. Wat behoort ‘n Christen se verhouding met die kerk te wees?
5. Mag ek kwaad wees vir die Here?
Elkeen van hierdie vyf vrae is op sy eie manier bietjie van ‘n toffie. Ek gaan oor die volgende paar “posts” elke keer oor een skryf. Ek gaan probeer om eers nie ‘n antwoord te gee nie, maar die saak te stel. Ek hoop dat dit bietjie gesprek en verdere vrae kan uitlok.
Wat behoort ‘n Christen se verhouding met die kerk te wees?
Die jongmense formuleer hulle vraag so:
Hoe weet ons, ons kerk glo reg? Mag ons sê ander kerke is verkeerd? Is dit ‘n moet om kerk toe te gaan? Maak kerke Christenskap nie net moeiliker nie? Ons almal glo tog in dieselfde God. Hoekom moet ons as Christene stry en baklei oor wat is reg en wat is verkeerd?
Ek dink nou onwillekeurig aan die soms onaangename gesprekke vroeër hier rondom die koffietafel oor die besluite van die Algemene Sinode van die NG Kerk. Ek dink elkeen van daardie brandpunte kan deel wees van hierdie gesprek. Die brandpunte was:
1. Die BELHAR belydenis.
2. Die huwelik. Hoe maak ons met paartjies wat saamwoon sonder dat hulle getroud is?
3. Die doop – hoe maak ons met mense wat van ons verskil oor of die kerk babatjies of volwassenes moet doop?
4. Die duiwel. Sommige Christene glo daar is ‘n duiwel en hy is ‘n persoonlike wese, ander glo daar is ‘n persoonlike duiwel nie, maar daar die bose is wel ‘n werklikheid.
My vraag is nou;
As ‘n jongmens wat nou hierdie vrae vir my stuur, daardie gesprekke gevolg het, sou hulle deel wou wees van die kerk? Ek dink die jongmense moet self sulke vrae antwoord.
Ek dink ook ‘n mens moet probeer om leiding vanuit die Bybel te kry. Byvoorbeeld: Was daar onenigheid tussen Jesus se dissipels? Daar was. Hulle het geredeneer oor wie die belangrikste is. Johannes en Jakobus se ma het probeer toutjies trek sodat hulle eendag by Jesus se wederkoms weerskante van Hom aan die tafel kan sit. Hoe het Jesus dit hanteer?Kan ons iets daaruit leer?
Het die dissipels of die apostels altyd alles die eerste keer reg verstaan? Beslis nie. Jesus moes hulle dikwels help om te verstaan wat Hy bedoel het wanneer hy so in gelykenisse geleer het. Petrus was die belangrikste van die Apostels en die Here moes deur ‘n spesiale visioen vir hom verduidelik dat hy maar die evangelie aan nie-Jode mag verkondig. Petrus en Paulus het ernstig van mekaar verskil en hulle moes ‘n vergadering van al die kerkleiers bymekaar roep sodat hulle kon besluit wie ie reg en wie is verkeerd.Kan ons iets daaruit leer?
Maar, hoe sal ek persoonlik antwoord?
Eerstens sou ek wou sê dat ek kan verstaan dat enige mens op ‘n dag sou besluit dat hulle wel Christene wil wees, maar dat hulle nie meer kerk toe wil gaan nie. Ek en Renate het nie baie lank terug vir mekaar gesê dat ons vir ‘n rukkie sonder Christene sou kon klaarkom. Christene maak dit nie altyd vir ‘n mens lekker of maklik om Christen te wees nie.
Tweedens moet ek egter sê dat ek dink ek sonder die kerk op die langtermyn geestelik gaan verarm. Daar was ‘n tyd in my lewe toe ek vir ongeveer ‘n jaar lank nooit kerk toe gegaan het nie. Die redes is nie nou ter sake nie. op ‘n dag het ek egter op ‘n Saterdag-middag in die kerkgebou gesit en ek het net besef: Ek het die kerk nodig. Ek het die volgende dag weer kerk toe gegaan en was nog nooit weer spyt nie.
Derdens moet ek egter vra: Oor wie gaan dit nou eintlik? Hieroor kan ek dalk by ‘n later geleentheid meer sê. Die vraag is: Waar het die kerk sy ontstaan? Wat was die bedoeling met die kerk se ontstaan? Kan iets of iemand anders doen wat die kerk veronderstel is om te doen?
Wat dink jy?
Ons probleem met die kerk is dat hulle so in kompetisie met mekaar is dat hulle die punt mis. Die punt is ons almal dien en glo aan dieselfde God. Hulle sit die fokus meer op die kerk en wat die kerk moet doen en wat reg is as die rede hoekom ons in die kerk is. Ons in die kerk om saam klomp gelowiges die Here te dien en te eer en pitkos kry wat ons kan gebruik om ons geloof sterker te maak. Maak nie saak hoe ek glo en wat ek doen nie. So lank ek net my lewe vir die Here gee. Ek weet nie dit my opinie. Dalk mis ons die hele punt. Maar dit voel net vir my of vandag se kerk die punt mis. Wat maak dit saak of ek NG, Gereformeerd, A.G.S. Od ou Apastolies is???
Andries – Christene is deel van die kerk omdat hulle Christene is. Christene kan kies watter kerk hulle bywoon of nie bywoon nie. Die kerk moet egter praat oor wat ons behoort te doen. Onthou ook dat ons mense is en ons is juis verskillende kerke is omdat ons sekere dinge anders glo en doen. Ons mag nie skaam wees vir wat ons glo die waarheid is nie – die manier waarop ons die waarheid verkondig mag egter nie afbrekend wees nie.
Ek dink Neels Jackson verwoord dit baie goed in sy 5 redes hoekom hy nog aan die Kerk behoort,soos in Beeld van 25 Mei 2011.Dit is op die Internet beskikbaar.
Groete.