Die dag toe die voormalige hoof van die Suid Afrikaanse Polisiediens aan bedrog skuldig bevind is en tot 15 jaar tronkstraf gevonnis is, was vir my persoonlik ‘n goeie dag. nie noodwendig omdat oor Selebi nie, maar omdat dit my vertroue in ons regstelsel ‘n hupstoot gegee het.
Vandag (Woensdag 28 Desember 2011) het die Departement van Korrektiewe Dienste (DKD) ‘n nuuskonferensie gehou. Selebi is baie siek. So siek dat orgaanoorplanting nie meer ‘n opsie is nie. Die Steve Biko hospitaal gaan twee verpleegsters oplei om hom in die tronk-hospitaal te versorg. Sy dokter het nie mediese parool aanbeveel nie en die familie het nie daarvoor gevra nie.
Ek is jammer vir Selebi en sy familie. Ek weet hy verdien dit en hy is ‘n veroordeelde misdadiger en al daardie dinge, maar tog is ek jammer vir hom. Ongelukkig het Shabir Schaik se mediese parool enige ander soortgelyke parool verdag gemaak. Die manier waarop 2 van die Waterkloof 4 Moordenars se vonnis omgeskakel is na huisarres maak die saak nie minder gekompliseerd nie.
Ek is net bly ek hoef nie die besluit te maak nie.
Ek dink omdat ons baie van die sake as uiters verdag ervaar, word alle sake met meriete met agterdog bejeën. Dis eintlik jammer. Die feit dat Clive Derby-Lewis oënskynlik ook met minagting bejeën word deur die owerhede, ten spyte daarvan dat hy sterwend is aan kanker, jaag sommige mense se moermeters op.
Ongelukkig word alles deur die rasselens beskou, en kan mense nie wegkom van daardie oogpunt af nie.
Clive-Derby Lewis en sy mense kry ook baie swaar. Hy verdien om by die huis te wees en nie die Waterkloof 2 of Shaik nie.