BUURMAN IS BY DIE SEE

Ons buurman oorkant die straat is met vakansie by die see. Die oggend voor hy weg is, het hy na my toe gekom en gevra om ‘n wakende ogie oor sy huis te hou. Hy het gesê sy dogter is daar en daar sal ook iemand anders in die huis slaap as die dogter nie daar is nie. As ek iets vreemds of ongewoon sien, moet ek hom maar net bel.

Ek het dit gisteraand oorweeg om hom te bel.

Teen ongeveer 09:00 was daar reeds omtrent 20 karre op buurman se inrit en grasperk geparkeer. Oor die volgende uur het hulle meer geword. Duidelik – Hier kom ‘n partytjie. ‘n Groot partytjie. Toe ons teen 10:30 bed se kant toe staan, kon ons hoor hoe die partytjie agter die huis in die swembad voort woeker. Die geraas was nie vir ons erg nie, want die huis was tussen ons en hulle. As die bure aan die agterkant nie saam gekuier het nie, was dit vir hulle waarskynlik ‘n raserige aand. Maar dit is Desember en hulle is jonk. Gun elke diertjie sy plesiertjie.

Van die gaste moes vroeg huistoe gaan. Teen 11:00 moes een van die karre wat eerste gekom het weer eerste vertrek. Die gevolg… omtrent die helfte van die karre moes kom skuif sodat die een wat eerste gekom het eerste kan gaan. Elke kar werk met ‘n afstand beheer en elke kar wat oopgesluit en toegesluit word “tweet-tweet” op sy eie toonhoogte, eie volume  en eie klank. Na ‘n hartlike gegroet en vriendelike “toeeet-toeeet” as laaste groet is die vroeë vertrekkers weg en gaan almal terug om die res van die geselligheid af te handel.

Teen ongeveer 02:30 het die partytjie klaar gemaak. Natuurlik het die “tweet-tweet” wanneer die karre oopgesluit word ons wakker gemaak, maar dit moet mos so wees. Hoe sal die mense dan nou hulle karre oopkry? Geen probleem daar nie. Natuurlik was die groetery buite by die karre ‘n bietjie raserig. Niemand het enigsins moeite gedoen om sagter te praat nie. Maar selfs daarmee kan ‘n mens saamleef. As die voggies bietjie gevloei het, vergeet mens maklik dat daar nog ander mense binne 300 seemyl van jou af is. Die groetery kon ook nie anders as om ongeveer 30 minute te duur nie. Dit is baie mense wat gegroet moet word.

Maar… elke kar wat gery het het ge- “toeeet-toeeet” met sy eie klank, eie toonhoogte, eie volume en eie lengte. Sommige was sommer net ‘n moedswillige “toooooeeeeet” totdat die kar buite hoor afstand is. En elke “toeeet-toeeet” moet darem met ‘n hartlike “Bye!!!” beantwoord word. Die laaste twee het dit die beste reggekry. Met fluitende bande weggetrek, by die stopstraat gaan omdraai en teen vol spoed verby gejaag met ‘n  “toooooeeeeet” totdat die klank in die niet verdwyn. Hoekom? Vra my nie. Dalk is dit doelbewus om die mense in die omgewing n punt te bewys.

Toe die wekker vanoggend 04:30 lui vir my om op te staan, was die versoeking darem groot om oor te stap om vir die gasheer en gasvrou, of wie ook al agter gebly het, ‘n koppie koffie te gaan aanbied of dalk net navraag te doen of dit nodig is dat ek buurman moet bel oor hierdie ongewone ding wat by sy huis gebeur het. Ek het dit nie gedoen nie. Daar was ‘n tyd in my lewe toe ek dit sou gedoen het.

Gisteraand was ongewoon daar by buurman se huis, maar ek sal maar nie vir buurman bel nie. Want sien hierdie ongewone ding gebeur elke jaar wanneer buurman sy karavaantjie pak om by die see te gaan ontspan. Dan pak sy kinders om by sy huis te kom ontspan. Waar sal vandag se jongmense ‘n huis kry wat groot genoeg is om 20 karre se partytjie te hou.

Geniet jou karavaan by die see buurman. Ek kyk vir enige ongewone gebeure by jou huis.

6 thoughts on “BUURMAN IS BY DIE SEE

Add yours

  1. Ai Attie, sal ons dit nou die “wisdom of age” noem, dat ons die gebeurlikhede so al om die ander jaar met ander uitkyke beleef. hahaha Geseende kersfees (en hopelik minder gebeurlikhede by die bure se huise) vir jou en joune.

  2. wysheid met ouderdom ? ekke , stokoud en geen wysheid nie
    model buurman ? nie ek nie
    jy’s ‘n beter mens as ek ….. toe ons in ‘n flat gebly het ,na die derde of vierde party het ek ‘per ongeluk’ die radio alarm aangelos , hy was ook gestel vir 5 uur en vir ‘n hele uur gepiep piep …daai ding maak dooies wakker.

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s

Blog at WordPress.com.

Up ↑

%d bloggers like this: