A PRAYING LIFE – PAUL MILLER

Ek lees elke jaar ten minste een boek oor gebed. Ek wens ek kon sê dat dit van my ‘n besondere bidder maak, maar ek dink nie dit is so nie.

Die boek wat ek hierdie jaar gelees het is A PRAYING LIFE: CONNECTING WITH GOD IN A DISTRACTING WORLD deur Paul Miller. Ek het vandag die boek klaar gelees.

Miller neem die leser op ‘n besondere reis oor gebed. Wanneer hy in die eerste deel verduidelik wat ‘n “Praying Life” is, dan kry jy as leser die gevoel: “Ek kan dit doen!” Sy verduideliking oor sinisme en hoe die modernisme feitelikheid en wetenskap en bewysbaarheid tot god verhef het, help jou om te verstaan waarom mense (soms ek ook) so sinies raak oor gebed. Sinisme wat tot uitdrukking kom in uitsprake soos: “Gebed verander niks nie.” “Gebed is eintlik maar net ‘n selfgesprek.”  “Gebed verander die bidder en niks anders nie.” Sinisme word soms so sterk en so openlik verwoord dat die bidders stil raak en ander gelowiges met die vraag worstel: “Waarvoor mag ek dan bid?”

Paul Miller noem egter dat deel van om soos ‘n kind te bid is om met jou gebed te gaan waar jou gedagtes gaan. Ek het in die sewentigerjare in die koffiekroeg in Oudsthoorn  geleer dat gebed ‘n patroon volg: Aanbidding; Skuldbelydenis; Danksegging; Voorbidding; Lof. Soms het dit gewerk. Ander kere het dit nie gewerk nie. Dikwels kon ek by die volgorde hou. Ander kere moes ek na ‘n paar minute moed opgee omdat my gedagtes dwaal.

Die ding is… my gedagtes dwaal na die dinge toe wat regtig op daardie stadium vir my belangrik is. Miller skryf oor hierdie probleem. God is my Vader wat my liefhet. Die dinge wat vir my belangrik is, is ook vor Hom belangrik. Ek mag maar toelaat dat my gebed my gedagtes volg. Is dit nie dalk die Heilige Gees wat ook in my gebedstyd my gedagtes neem na die dinge wat vir my belangrik is omdat dit ook vir Hom belangrik is nie?

In modernisme is daar nie veel ruimte gelaat vir kinderlikheid nie. Miller maak veel van die bidder wat meer soos ‘n kind by God kan wees – veral in gebed. Vra soos ‘n kind – spontaan, sonder om te dink, klein dingetjies, groot dingetjies, moontlike, onmoontlike. Vra… want ‘n kind het hierdie kinderlike vertroue dat sy pa alles kan doen, maar ‘n kind het ook hierdie kinderlike liefde wat maak dat hy niemand anders se kind wil wees nie en daarom sal dit nie regtig so erg wees as sy pa nie alles gee wat hy so spontaan en kinderlik vra nie.

Ek stap ook weg van hierdie boek af met die besef dat totale oorgawe en gebed twee kante van dieselfde munt is. Deur totale en algehele oorgawe plaas ek myself onvoorwaardelik by God se voete. Oorgawe wat sê: “Selfs al sou U niks gee van al hierdie dinge wat ek vra nie, sal ek steeds aan U behoort. U sal my God wees en ek sal U kind wees.” Kinderlike gebed sonder totale oorgawe is vrugbare grond waarin sinisme gaan groei. Sonder oorgawe kan ‘n bidder alte maklik Jesus se woorde “vra dan net wat julle wil” kinderagtig hanteer en dink dat hy die reg om te kry wat hy vra.

Op ‘n stadium beweeg die leser egter ook meer na die “vaste spyse”. Miller het ‘n volwasse outistiese dogter. Alhoewel hulle kinderlik van geboorte af vir Kim gebid het, het die Here haar nooit van outisme genees nie. Maar, hulle lewe saam met Kim is deurspek met gebedsverhoring. Gebedsverhoring waarop siniese mense op sommige van van die verhorings sou reageer deur te sê: “Dit sou in elk geval so uitgewerk het.” Selfs al lees mens net die boek om Kim beter te leer ken, is dit al die moeite werd. Die “vaste spyse” is om te leer om met onverhoorde gebed saam te leef.

Die gedagte dat ons verhale deel vorm van die Verhaal waarmee God besig is, gee perspektief op onverhoorde gebed. God is besig om hierdie groot verhaal te skryf. Gebed is die manier waarop ek ontdek hoe en waar my verhaal oorvleuel met God se verhaal. Hier verander gebed die bidder. Die bidder ontdek deur gebed dat en hoe ander mense se verhale met my verhaal oorvleuel en almal se verhaal saam die groot Verhaal van God vorm. Miller se getueinis oor hoe hy self deur sy gebedslewe verander is, is besonders.

Miller beklemtoon dat gebed dissipline vereis. Dissipline is dikwels nie maklik nie. Dissipline maak selfs dat ‘n mens nou ‘n ding doen omdat ek dit moet doen en nie omdat ek wil nie. As ek net moes bid wanneer ek regtig voel dat ek graag wil bid, sou ek baie min bid. Ek sê dit nie sommer net nie, ek sê dit omdat ek die werkwswyse al probeer het. Geestelike droogte was die gevolg. Miller beklemtoon dissipline as die bid op ‘n spesifieke tyd en plek en selfs formaat die manier is waarop ‘n kind van God groei in sy gebedslewe. Dissipline word deursettingsvermoë wat maak dat mens aanhou bid selfs al trek ‘n outistiese kind dikwels jou aandag af en praat jou vrou met jou terwyl jy bid.

Mens hoef nie met alles wat Miller sê saam te stem nie, maar die lees van die boek sal sonder twyfel die leser se gebedslewe verryk.

Waarvoor mak ek bid? Enige iets! Dis reg – enige iets.

Lewer kommentaar

Filed under Boeke, Gebed

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s