Ek lees tans Scot McKnight se jongste boek “The King Jesus Gospel: The Original Good News Revisited.” Ek het reeds in ‘n vorige “post” oor die boek iets geskryf. Ek het die boek een keer vinnig deur ges-“scan”. Nou lees ek meer aandag vir ‘n tweede keer deur die boek. Alhoewel Scot se boek fokus op die wyse waaropsy “tribe”, die “evangelicals”, die evangelie gereduseer het tot die verkondiging van ‘n boodskap van verlossing en nie die volle en dus ware evangelie nie, is die boek tog vir ons ook van waarde omdat die “evangelicals” van die VSA ‘n baie groot invloed op ons as NG Kerk ook het.
Scot McKnight en NT Wright beweeg baie naby aan mekaar. Enige iemand wat Wright lees sal besef dat McKnight soos hy dink en voel met betrekking tot Israel en Jesus se rol daarin. Beide lees die Bybel binne die raamwerk van groter verhaal waar daar ‘n bepaalde ontwikkeling is. Hierdie ontwikkeling behels dat Jesus die vervulling van Ou Testamentiese beloftes en profesieë is en dat daar steeds ‘n ontwikkeling aan die gang is wat afstem op die voleinding wanneer God alles en in almal sal wees.
Een van die dinge wat vir my uitstaan is die manier hoe Scot met die boek Jesus binne die konteks van die ganse Woord, van Genesis tot Openbaring, en dan ook binne die geskiedenis van Israel, plaas. Indien ons Jesus binne die konteks van die ganse Skrif lees, dan kan jy nie anders as om daarvan kennis te neem dat die evangelies, die apostels en selfs die eerste gelowiges een ding baie ernstig geneem het en dit is dat Jesus die voltooing of die vervulling van die verhaal van Israel is.
Met ander woorde, in Jesus word die belofte van die Messias en die aankondigings van die profete vervul. n Eenvoduige vier geestelike wette benadering ignoreer die gedagte van Jesus as die Messias geheel en al. Hoogstens ‘n voetnota iewers oppad vorentoe in die verduideliking van die boodskap van die Bybel. Intussen het die apostels dit anders hanteer. In die boek Handelinge is daar altesaam sewe preke (Agt indien Stefanus se getuienis voor die Joodse Raad ook as n preek gereken word.) In elkeen van daardie preke is daar duidelike verwysings na Jesus as die vervulling van die geskrifte. Tekste uit die Ou Testament word aangehaal om te verduidelik wie en wat Jesus was.
Paulus maak dikwels melding van Jesus in hierdie verband. Hy begin sy brief aan dei Romeine met hierdie woorde:
“Hierdie evangelie het Hy vooruit deur sy profete in Heilige Skrifte aangekondig, en dit handel oor sy Seun. As mens is Hy uit die geslag van Dawid gebore; op grond van sy opstanding uit die dood is Hy deur die Heilige Gees aangewys as die Seun van God wat met mag beklee is, Jesus Christus ons Here.”
Jesus is die Een wat moes kom, die Messias. Jesus is die Seun van God wat mens geword het en gekruisig is en opgestaan het en met mag beklee is. Die Goeie Nuus lê vir my daarin dat God deur al die millenia met sy skepping op weg was en dat sy bedoeling met sy skepping ontvou in die koms van sy Koninkryk. Die kulminasiepunt van hierdie ontwikkeling is Jesus Christus self. Hy het opgestaan en Hy heers aan die Regterhand van die Vader.
Die evangelie is die verhaal van Israel wat tot voltooing gebring word in die verlossende werk van Jesus, wat Messias, Here en die Dawidiese Verlosser is. Die evangelie is om daardie verhaal oor Jesus te vertel.
Ek lees nou Christian Smith se boek, The Bible made impossible wat ook skryf oor hoe die American evangelicals aka biblicists die Bybel reduseer met hulle manier van interpretasie. Nogal goed; wil tog glo dat ons darem ‘n meer verantwoordelike manier van hermeneutiek het….