DIE BELHAR BELYDENIS IN KONTEKS

Die Algemene Sinode van die NG Kerk het op die pas afgelope sitting besluit om die Belhar Belydenis op kerkordelike wyse ’n Belydenisskrif van die NG Kerk te maak. Die besluit van die Algemene Sinode het slegs die proses aan die gang gesit om die Belhar belydenis een van die Belydenisskrifte van die kerk te maak.

Die besluit lees so:

“Die Algemene Sinode besluit om die Belydenis van Belhar op kerkordelike wyse deel van die NG Kerk se belydenisgrondslag te maak en dra dit aan die Moderamen op om die nodige kerkordelike prosesse hiervoor in werking te stel.”

Alhoewel ek nie 100% seker is van die proses nie, verstaan ek dat twee derdes van alle kerkrade met ’n twee-derde meerderheid Belhar as Belydenisskrif moet aanvaar voordat dit ’n Belydenisskrif kan wees. Die reaksie op die besluit toon dat hierdie ’n hoogs emosionele saak is en dat die pad vorentoe nie maklik gaan wees nie. In teorie is daar dus ’n moontlikheid dat plaaslike kerke en streek-sinodes die proses sou kon stuit.

ANDER BELYDENISSKRIFTE

Ek het reeds ’n paar gesprekke hieroor met individue gevoer. Vir baie van hulle het ek twee vrae gevra. Die eerste een was: Hoeveel ander Belydenisskrifte het ons en kan jy hulle noem? Die oorgrote meerder kon nie een van die twee vrae regkry nie. (Wees gou eerlik en probeer vir jouself die vraag antwoord voordat jy verder lees.) Die twee vraag wat ek vra is: Het jy al die Belydenis van Belhar met die begeleiding brief gelees? Nodeloos om te sê dat die meerderheid mense hierop ook nee geantwoord het.

Hiermee wil ek nie die kritiek en die kommer van die mense wat Belhar kritiseer uitskakel en afmaak as ongeldig nie. Ek wil ook nie die indruk skep dat die wat dan wel weet van die Belydenisse en dit selfs gelees het of ken in ’n beter posisie is om oor Belhar ’n mening te lug nie. Hierdie is vir my juis ’n aanduiding van watter rol emosie hier rondom speel.

GELOOFSBELYDENISSE EN BELYDENISSKRIFTE

In die NG Kerk het ons tans drie Geloofsbelydenisse en drie Belydenisskrifte. Die drie geloofsbelydenisse is die Apostoliese Geloofsbelydenis, die Geloofsbelydenis van Nicea en die Geloofsbelydenis van Athanasius. Hierdie drie belydenisse het oor die verloop van die eerste 160 jaar na Christus se hemelvaart beslag gekry.

Daar is ’n klein verskil tussen geloofsbelydenisse en belydenisskrifte. Geloofsbelydenisse is kompakte samevatting van die belangrikste elemente van ons geloof. Kort genoeg om as gemeente saam te bely. Belydenisskrifte is langer en word dikwels didakties gebruik. As jy dalk nie die drie belydenisskrifte, ook bekend as die Drie Formuliere  van Eenheid, kan onthou nie, hier is hulle:  Die Heidelbergse Kategismus; Nederlandse Geloofsbelydenis en die Dordtse Leereëls. Die oorspronklike bedoeling van die Heidelbergse Kategismus was om vrae en antwoorde saam te stel wat katakisante oor ’n tydperk van 52 weke (’n jaar) moes leer ten einde volwaardig lidmaat van die kerk te word. Die Dordtse Leerreëls was die Sinode van Dordt in 1618-1619e reaksie op die dwaling van die Arminianisme wat op daardie stadium ’n probleem in die kerk was. Die Nederlandse Geloofsbelydenis het 37 Artikels en handel oor God, die Woord, die mens, sonde, Christus, verlossing, die kerk en die voleinding. Guido de Brès is die vernaamste outeur van die Belydenis.

Geloofsbelydenisse en Belydenisskrifte het nie dieselfde gesag as die Woord nie. Ons aanvaar inderdaad die inhoud van die Belydenisskrifte net in soverre as wat dit ooreenstem met die Bybel, alhoewel die verwerping van die leer van enige van die Belydenisskirfte nie ’n ligtelike saak is nie.

DIE BELHAR BELYDENIS

Die Belhar Belydenis is in 1982 opgestel deur ’n kommissie van die Sinode van die destydse NG Sendingkerk. Die moderator van die Sinode was ds. Sakkie Mentor. Die lede van die kommissie wat verantwoordelik was vir die opstel van die dokument was onder andere: prof. Dirkie Smit, prof. Jaap Durand, ds. Gustav Bam en dr. Allan Boesak. Die konsep-belydenis is deur prof. Dirkie Smit op skrif gestel.

Ongelukkig is dit so dat daar by baie mense wat nou oor die belydenis van Belhar sal moet besluit, ’n uiters negatiewe gevoel teenoor dr. Allan Boesak is. Oor die meriete van daardie emosies wil ek my nie uitspreek nie. Veral Dirkie Smit en Jaap Durand se betrokkenheid by die samestelling van die Belhar belydenis behoort vir ons die ruimte te skep om met ’n oop gemoed hierdie dokument te lees. Dr. Allan Boesak was nie verantwoordelik vir die opstel van die dokument nie. Dit word algemeen aanvaar dat prof. Dirkie Smit die grootste aandeel gehad het in die opstel van die Belhar Belydenis.

By die Sinodevergadering van 1982 was daar besware teen die opstel van die Belydenis. Derhalwe is daar besluit om die Belydenis eers aan die gemeentes bekend te maak en te verduidelik. In 1986 is die Belydenis aanvaar as Belydenisskrif . Die Belydenis van Belhar het saam met ’n begeleidende brief verskyn wat altyd saam met die belydenis gelees behoort te word.

Die Belharbelydenis bestaan uit vyf artikels, waarvan artikels 2-4 die belangrikste is. Dit handel oor eenheid, versoening en geregtigheid. Die belydenis bevat die geloofskreet van gelowiges uit ’n tyd van groot krisis en beproewing in die Suider-Afrikaanse samelewing.

My gebed is dat individue, gemeentes, kerkrade en selfs Sinodes met ’n oop gemoed na mekaar sal luister in die weg wat ons nou gaan bewandel.

13 Kommentaar

Filed under Die Christelike Lewe, Missionaal

13 responses to “DIE BELHAR BELYDENIS IN KONTEKS

  1. Johan vd Westhuizen

    Beste Attie, Ek het ‘n probleem met die hele geskiedenis, agenda en motivering rondom die Belharbelydenis en ander Sinodale besluite en kan glad nie verstaan hoekom sommige predikante juig oor die besluite nie, veral Belhar. 1982 – 1986 was die jare van apartheid en grensoorloë. Die NG Sending Kerk het probeer om ‘n politieke oorwinning te gehaal deur gebruik te maak van ‘n godsdienstige saak. Na 1994 het die Belharbelydenis geen doel en funksie meer nie. Na 1994 is die Ng Kerk oop vir alles rasse, geure en kleure en ons kerkeenheid is deel van ons missie en vissie sonder dat dit met enige belydenis invorseer moet word. Dit gaan ook nie oor Boesak as persoon nie- dit gaan oor die hele agenda rondom die belydenis. (Tong in die kies: Boesak was in elk geval op daardie stadium te besig om Elna Botha af vry van haar man om ‘n te groot inset te kon lewer. Elna was ‘n skoolmaat van my op Stilfontein en haar pa was my tandarts.)
    Die Sinode “aanvaar” nou Belhar, maar ek wonder of die VGK Kerke die ander besluite oor doop, satan, saamblyery, duiweluitdrywing, ens ook summier so sal aanvaar met “eenwording”.
    Ek het die 50 bladsy gespreksdokument van die ring van Louis Trichardt oor Belhar en ander Algemene Sinodale besluite gelees en ek haal my hoed af vir Ds. Petrus Kriel wat die moed het om die dokument op te stel en yte versprei. Ek kan nie anders as om die vra en standpunte van die ring van Loius Trichardt 100% te ondersteun nie. Ek lees in die Rapport dat die Aktuaris die dokument afmaak met drie woorde: “Verdagmakery”, “Liefdeloosheid” en “Protesbrief”.
    Ek bid dat iemand die moed sal hê om soos ‘n Martin Lutter van ouds net een “leerstelling” teen die Sinode se deure te gaan kap met die woorde: “Verwerp alle uitsprake van geleerdes oor die interpretasie van die Woord van God en verwerp alle populêre besluite van die Sinode met die uitsluitlike doel om akkomoderend te wees vir alle mense wat nie die Woord van God as die enigste waarheid en riglyn vir die lewe aanvaar nie, en keer terug na die Bybel as die enigste onfeilbare Woord van God.”
    Net terloops: Met die afskaffing van die Moderator, wie is nou die segsman van die NG Kerk – die Algemene Sekretaris van die Sinode wie se briefie gister voorgelees is in die kerk?
    Ek is bekommerd – baie bekommerd!

  2. Herman

    Johan
    Die enigste sinvolle gesprek oor Belhar sal oor die meriete van die inhoud wees. Ek dink nie ‘n gesprek oor mense se agenda 25 jaar gelede gaan ons iewers bring nie. Waar is Belhar teologies verkeerd en nie in pas met die Woord nie?
    Oor die akkomoderende besluite van die Algemene Sinode lees ek ‘n pastorale hart waar ons nie mense wil wegdryf omdat hulle oor nie-kern dinge van ons verskil nie. Onthou jy met watter absolute oortuiging dieselfde Sinode besluite oor Apartheid geneem het?

  3. Johan vd Westhuizen

    Liewe vriend,
    Ek het openlik al gesê dat ek geen fout vind met die inhoud van Belhar nie. My kommer is dat daar 25 jaar gelede ‘n “godsdienstige dokument” opgestel is in die jare toe grensoorloë, apartheid en PW Botha aan die orde van die dag was, suiwer om ‘n politieke punt te maak. Ek wil nie herhaal wat die Ring van Louis Trichardt oor die saak sê nie, maar dit is ook maar soos wat ek voel, maar ek sal nou nie nagte wakker lê oor die belydenis nie. As mense dan nou elke Sondag, of wanneer ook al die sondes van die verlede wil bely, is dit maar goed so.
    Ek kan egter nie saamstem dat sake soos saamwoon, “herdoop”, duiweluitdrywing, ontkenning van die bestaan van Satan, ens. nie kern-dinge is nie. Vir my is dit die akkommodasie en kondonering van die sosiale agteruitgang van die mens en die ontkenning van die Bybel as die enigste onfeilbare Woord van God. Die doop is byvoorbeel een van die heilige sakramente van die kerk en om maar akkomoderend daaroor te wees ter wille van mense wat ander daaroor dink, is vir my ‘n kern -saak. Die bestaan van Satan, in welke vorm ook al, is vir my ‘n kern-saak.
    In kort my vriend; die dinge waaroor ons hier praat is alles kern-dinge en Sinode moes duideliker standpunt daaroor ingeneem het anders as om maar net akkomoderend te wees.
    Die weg wat die kerk nou inslaan met die neem van die tipe dubbelsinnige, popilêre en akkomoderende besluite, is vir my as ‘n “behoudende lidmaat” kommerwekkend.

  4. Herman

    Johan. Ek dink eerstens jy moet die moeite doen om die agenda van die Algemene Sinode te lees. Ek weet nie of dit jou anders gaan laat dink nie, maar dit bied goeie leesstof en help mens om te verstaan hoe mense oor die sake dink. Gaan lees dit gerus hier: http://www.ngkerk.org.za/documents/SinodeAgenda2011.pdf
    Tweedens dink ek jy moet die besluite van die Sinode weer gaan lees. Rondom die doop is daar darem mooi gesê dat ons as NG Kerk sterk voel oor die verbondsdoop soos ons dit ken. Daar is wonderlike mooi volgelinge van Jesus wat groot gedoop is, weer gedoop is, nog nie gedoop is nie. Hoe dan nou gemaak met mense wat dieselfde tekste as ons lees maar tot ander gevolgekkings kom?
    Oor die huwelik sê die Sinode dit darem eintlik baie mooi:
    Die Algemene Sinode is nogtans daarvan oortuig dat die historiese ontwikkeling van die huwelik in die Bybel en in die geskiedenis vir ons duidelike riglyne bied van wat ’n Christelike huwelik is: ’n vaste, formele ooreenkoms tussen twee persone van die teenoorgestelde geslag om hulle lewens in alle opsigte met mekaar te deel in ’n lewenslange verbintenis waarin seksualiteit ‘n eksklusiewe karakter dra, geseën of bevestig deur die kerk, gesluit in die teenwoordigheid van getuies, sover as moontlik in die gemeenskap van gelowiges en verkieslik erken deur die staat as ’n wettige huwelik. Gaan lees gerus die hele besluit hier.
    Die res van die besluit sê net dat ons weet dat daar elke Sondag in ons eredienste en op ons kerkrade mense is wat nie so hieroor dink en voel nie.
    Die sinode moedig dan sulke mense aan om liewers te trou. Maar, vir elke mens wat anders daaroor dinoe en voel – ons as kerk, liggaam van Christus sal julle nie verstoot of die kerk belet of vra om liewers nie kerk toe te kom nie. Kom asseblief want dit is ons gemeenskaplike geloof in Christus wat ons in ‘n onlosmaaklike verhouding bind.
    Dit Johan is na my mening die hart en die gesindheid wat omgee vir mense.

  5. Johan vd Westhuizen

    Herman,
    Ek sou nie kommentaar gelewer het as ek myself nie deeglik vergewis het van die mooi, goed deurdenkte, akkommodeerde en polulêr bewoorde besluite van die Sinode nie. Ja, ek het dit gelees en ek het ook die gespreksdokument van die Ring van Louis Trichardt gelees.

    Ja, ons kan met baie mooi woorde dalk al die kenlpunte verduidelik, maar iemand het eenmaal vir my gesê: “Jou may be right, but it is always better to be wise”.

    Nee wat, los my maar dat ek glo soos wat my ouers en my voorouers my geleer het oor wat reg en wat verkeerd is. Vir my is die Bybel maar steeds die enigste onfeilbare woord van God en ek aanvaar nie goedsmoeds maar alles wat Sinodes besluit, of nie besluit nie ter wille daarvan om mense re akkommodeer wat anders voel en dink oor sake.

    Hiermee sluit ek die gesprek af, maar sal verwikkelinge dophou en ek hoop nie ek hoef oor ‘n paar op die blog te skryf: “Ek het julle mos gesê”.

  6. Lanie

    Johan en Herman ek volg nou hierdie gesprek al ‘n rukkie. EK hou van wat Herman sê. My stuiwer…

    Almal lees die Bybel met die gedagte van een of ander interpretasie.

    Hoe my ouers en voorouers die Bybel geinterpreteer het was en is nie noodwendig die regte interpretasie van die Bybel nie. Feitlik al ons voorouers het apartheid uit die Skrif regverdig. Nie lank terug was die regte ding dat die vrou in alles aan haar man onderdanig is en mag vrouens nie langbroeke kerk toe gedra het nie. Dominees moes met togas preek en kerkraadslede moes swart pakke en wit dasse dra. Hoekom is ons dan nie konsekwent in wat ons ouers en voorouers ons geleer het wat reg en wat verkeerd is nie?

  7. Johan vd Westhuizen

    Liewe Lanie,
    Ek wou myself eers weerhou om die saak verder te debateer, maar ek wil tog reageer op wat jy sê:
    Eerstens, dankie dat ons oor die sake kan praat – ek glo dit is hoekom die Vader ons verstand gegee het. On moet nie sommer alles goedsmoeds aanvaar nie. Jy mag maar vrae vra en dit noem ons debateer, solank mens die “bal speel en nie die man nie”.
    Ten tweede, Moet nie dink ek bevraagteken alles beskuite en uitsprake oor die Bybel nie. Die sake wat jy noem oor kleredrag stem ek heeltemal met jou saam, maar onthou asb dat dit nie “kern-aspekte” is soos wat Herman dit noem nie. ‘n Saak soos saambly, doop, huwelik, Satan, ens. is wat my aanbetref wel “kern-sake” wat ‘n direkte invloed op my geloof het.
    Derdens: Oor apartheid het die kerk vir ons gelieg, maar dit is ‘n saak op sy eie. Onthou egter da apartheid as teorie nie sleg is nie, en in elkgeval ongedwone in die natuur en samelewing gebeur, nie altyd op rasse grondslag nie, maar tog. Die probleem het gelê in die toepassing van die teorie wat aanleiding gegee het tot onderdrukking, rasse haat, en al die ander slegte dinge van die verlede. Die grootste fout van destyds was dat die regering van die dag die slegte dinge in die wetboeke gaan neerskryf het. Ander lande in die wêreld het ook “apartheid”, maar dit is gegrond op natuurlike verdeling en word nie in wetboeke vasgeskryf nie. Dit is egter ‘n storie vir om ‘n kampvuur.
    Vierdens: Een van die verse in die Bybel wat ek graag aan my vrou voorhou as sy kwaad is vir my is juis : Vrouens, julle moet aan julle mans onderdanig wees”. Dit is sommer in ‘n ligte luim. Voor God is almal gelyk, man en vrou en sels die Doppers stry nog oor die saak. gelukkig het ons Sinode (wat my aanbetref) oor die saak voorentoe beweeg. Dit is nou weer een saak waaroor ek saamstem.
    Laastens: Moet tog nie dat ons as kinders van God ophou praat oor die dinge wat saak maak nie. So bou ons mekaar op en nêrens lees ek dat ons maar net “ja en amen” moet sê op alle dinge nie.
    Ek het telefoon oproepe van mense uit ons gemeente gekry wat my meegedeel het dat hulle 100% met my saamstem oor wat ek geskryf het, maar nie die vrymoedigheid het om dit in die openbaar te sê nie. Daar is selfs mense van ‘n omgeegroep in ons gemeente wat ‘n afspraak met my wil maak om verder debat te voer oor my standpunte omdat hulle 100% met my saamstem, maar nie weet hoe om gehoor te word nie. Een persoon van 30ste Laan het aan my gestel dat hulle gesin op pad is om by die APK aan te sluit agv die besluite van die Sinode. My antwoord is, was en sal altyd wees: “Blom waar jy geplant is en laat jou stem hoor waar jy is”. Om “weg te hardloop” van iets wat pla is nooit die oplossing nie. Die Siniode het sekere besluite geneem en hulle word nou gekonfronteer deur die Ring van Louis Trichadt oor die besluite, Ek het alles tot my beskikking bestudeer en selfs afskrifte gemaak van die 302 bladsy agend van die Sinode en die 51 bladsy gespreksdokument van die Ring van Louis Trichardt en my hart sê vir my dat ek die Ring se standpunte ondersteun en dit is presies wat ek oprbeer sê.
    Dankie vir jou positiewe bydra en ons mag maar in liefde van mekaar verskil. Daar sal nie daaroor “‘n traan in die hemel wees” nie.

  8. Johan vd Westhuizen

    Almal wat meer wil weet en sê oor Belhar, gaan na http://www.belydenisvanbelhar.co.za.
    Die ASM het die webblad beskikbaar gestel vir mense om bydraes te stuur.

  9. Freek

    Ek wil graag ‘n paar kommentare lewer.
    1. As die konteks van die “belydenis” belangrik is, moet die hele konteks van beide argumente belangrik wees. Ek verkies om die konteks te ignoreer, aangesien ek slegs 16 was toe die belydenis opgestel was en my kinders dit nog minder sal verstaan.
    2. Die belydenis verklaar dat “geskeidenheid” sonde is, omdat dit gelykstaande sou wees aan vyandskap en haat. In praktyk beteken dit dat afsonderlike dames en mans kleedkamers, afsonderlike gesinsdienste, afsonderlike omgeegroepe vir verskillende ouderdomsgroepe, manskampe en dies meer dus “sonde” is en gelykstaande is aan vyandskap en haat.
    3. Die belydenis ontken dat ons klaar een is omdat elkeen een is met Christus en vereis (in stryd met die evangelies) dat ons “sigbare eenheid” moet nastreef. Die nie-nastreef van “sigbare eenheid” word ook tot sonde verklaar. As ek die beeld van die een liggaam (wat rylik aangehaal word) moet deurvoer, beteken dit dat my vingers sigbaar een moet word. Dit laat my gebreklik omdat die vinders nie afsonderlik kan beweeg nie. Efesiers sluit af deur duidelik te stel: die verskillende lede pas bymekaar en vorm so ‘n eenheid. Om op te som: Die Bybel sê ons is een deurdat elkeen een is met God en ons pas bymekaar. Daar staan nie ons moet verder streef om een te word of werk om bymekaar te pas nie. Die belydenis is dus in stryd met wat geskryf staan in die gedeelte wat ryklik aangehaal word.
    4. Die belydenis verklaar dat God op ‘n besondere wyse ‘n God vir die armes en onderdruktes en vele meer is. Soos ek my Bybel lees is God ook ‘n God vir konings, rykes (Lasarus en die ryk jongman), tollenaars (wat definitief nie arm of onderdruk was nie), ens.
    Wat mis ek?

    • Johan

      Liewe Freek,
      Ek het jou inskrywing weer en weer gelees en ek het besluit om ook (weer) oor Belhar iets te sê. Tydens my vorige kommentare het ek op “tone getrap” en ek herken ek het die saak nie reg hanteer nie.
      Ek wil met die inskrywing ‘n paar aspekte van my vorige inskrywings regstel.
      Ek vind dit ook maar moeilik om Belhar ten volle “myne te maak”, vir redes waarmee baie mense met my verskil, maar ek is darem ook seker geregtig op my eie mening.

      1. Belhar is verondersteld om onder andere “eenheid” te bely en daar te stel en as ek so in die pers lees en ek luister na gesprekke, lyk dit vir my asof Belhar besig is om net die teenoorgestelde in die NG Kerk familie te bereik en dit gaan al oor 30 jaar so aan as ek die Internet kan glo.
      2. Nadat ek baie gelees , gepraat en baie gedink het oor Belhar en ook geluister het na die gesprekke oor RSG oor die onderwerp, is ek nog niks nader aan ‘n ander mening as wat ek in 1984 was nie. Ek dink egter dat Dr. Kobus Gerber tydens die onderhoud op RSG nie baie goed en oortuigend oorgekom het as spreukbuis vir die Sinodenie, maar dit daargelaat . Soos hy gesê het tydens die eerste onderhoud; Dit is ‘n “ongelooflike belydenis”. Hoe kan ons hom dan glo?
      3. Ek kan vandag verstaan dat die “jong mense”, veral die teologiese studente en andere “druk” vir die aanvaarding van Belhar. Ek verstaan ook hoekom sommig mense, soos o.a Gen. Johan vd Merwe, dit moeilik vind om dit te aanvaar.
      4. Nadat ek baie geluister het en baie geles het het ek tot die gevolg gekom, dat Belhar net te veel “bagasie” het en net te veel verdeeltheid in die NG Kerk deur die jare veroorsaak het om “myne te maak”.
      5. Ten tweede is die Belydenis opgestel in die jare 80’s (sê 30 jaar gelede) toe Suid Afrika in ‘n “oorlog toestand” was en toe bomme ontplof het en mense onnodig verdruk en vermoor is. As ons toe Belhar aanvaar het sou dit dalk sin gemaak het, maar die NG Kerk het anders besluit. Vandag is die foute van die verlede verby en is daar nuwe “dinge” wat verdeeltheid veroorsaak – BEE, regstellende aksie, ens.
      Belhar “krap” net weer die verlede net oop en hou “apartheid” wat onbetwisbaar verkeerd is, was en altyd sal by, net lewendig. Hoekom moet ons kinders wat nie eers weet wat “aparthied” is nie, belei dat die verkeerd is?
      6. Ek kan goed verstaan dat mense die foute van die verlede wil bely, (ek doen dit elke dag) veral met die oog op ‘n nuwe groter eenheidskerk waar al vier NG Kerk families een gaan / wil word, maar dan moet daar ‘n gesaamentlike belydenis wees wat al die foute van die verlede deur alle partye bely. Belhar is mooi en moontlik teologies korrek, maar het een groot leemte en dit is dat dit net ‘n eensydige belydenis is wat die foute wat teenoor die voorheen benadeeldes / onderdruktes gemaak is “uitlig”. Ek het vriende verloor is die stryd en as Belhar aangepas word om ook die onnodige dood van die mesne te bely as sonde, sal belhar vir my meer aanvaarbaar raak. My pleidooi (wat seker maar op dowe ore val) is dat Belhar aangepas behoort te word om ook die sinnelose, geweldadige en wrede verset deur bomme te laat ontplof, mense doeloos dood te skiet in kerke en onskuldige vrouens en kinders te vermoor, geboue aan die brand te steek, ens, as sonde / verkeerd te bely.
      7. Die laaste punt is dat Belhar nie net “lippetaal” moet wees nie, maar dat die NG Kerk Belhar moet “leef”. Solank ons elke Sondag in Waverley en elders in ‘n “lilly white kerke” sit terwyl ons huishulpe onder bome en langs spruite moet “kerkhou”, beteken Belhar nie veel vir my nie. Kom ons bring ons huishulpe saam kerk toe om saam met ons te aanbid. As hulle vir ons kan kos kook, ons kinders kan grootmaak en op ons erwe kan woon, kan hulle mos ook saam met ons in dieselfde kerk aanbid, of mis ek ie boodskap van Belhar heeltemal?
      8. Intussen dink ek moet ons maar net “rustig” raak oor Belhar. Dit het 30 jaar geneem om dit te aanvaar te kry en as mense die foute wat ons voorouers gemaak het wil bely, laat hulle maar toe om dit te doen. Ek en my gesin het gekies om Belhar te leef en dit nie net “lippetaal” te maak nie. Die Here alleen ken die harte van mense, onafhanklik van Belhar. Moenie toelaat dat Belhar ons verder verdeel nie. As jy Belhar wil bely, doen so voort en as jy dit nie wil doen nie, hoef jy nie. Dit is ‘n saak tussen jou en die Here en nie tussen jou en die kerk nie.
      Ek sê maar net en ek hoop nie ek het weer op tone getrap nie.

  10. Henk

    Freek
    1. Jou interpretasie van “geskeidenheid” deur dit te vergelyk met afsonderlike badkamers is absurd.
    2. Die eenheid van die liggaam en daarmee sigbare eenheid wat deur broederliefde tot uitdrukking moet kom is ‘n erkende teologiese en Bybelse klem. Die voorbeeld van die vingers is nie minder absurd as die voorbeeld van die badkamers nie.
    3. Ek dink jy nmis die ware boodskap van die Nuwe Testament en God se koninkryk. In Christus is daar nou nie meer Jood of Griek nie.
    Johan
    Jy skiet eers Belhar in jou eerste 6 punte af. Dan sê jy in jou laaste punt ons moet rustig raak daaroor. Dalk moet jy hier die pas aangee en rustig raak oor Belhar.
    Oor die “lilly white kerke” in Waverley – Hier by ons in die Wes-Kaap is dit bietjie anders. Maar… stel jy nou die voorbeeld en nooi die huishulpe wat elke Sondag onder bome en langs spruite kerkhou Sondag saam kerk toe. Begin jy en gee die pas aan hier ook. Want dit is inderdaad wat die Evangelie – en nie Belhar in die eerste plek nie – van ons vra.

    • Johan

      Henk,
      1. Dit is algemene kennis dat ek en baie ander hier by ons nie “langs dieselfde vuur sit” as Belhar nie, vir verskeie redes – derhalwe my eerste 6 punte en daarby staan en val ek totdat ek anders oortuig word – nie deur mense soos Dr. Kobus Gerber en andere nie, maar deur die Gees.
      2. Ek en my familie het lank reeds voor Belhar die “pas aan gegee” om Belhar te “leef” en nie net bely nie.
      3. Nadat ek lank en ernstig gedink, opgelees, geluister en gebid het oor Belhar, het ek groot rustigheid gekry oor Belhar en dit is wat ek in my laaste punt probeer sê, ook aan al die “anderdenkendes” oor Belhar:
      *As jy Belhar wil bely, gaan voort en doen dit.
      *As jy ongemaklik is daarmee, los dit.
      *Elkeen is geregtig op sy eie mening, soos oor “groot doop” en “klein doop” en elkeen het goeie redes vir sy/haar siening.
      *Kom ons respekteer mekaar se sieninge oor Belhar en beweeg net aan.
      * Die Sinode het sy beluit oor Belhar geneem – reg of verkeerd – en dit is ‘n gegewe. Die kanse dat die Sinode die besluit gaan heroep is nul, so al die gepraat is eintlik verniet en skep net groter verdeeltheid. Alles wat oor Belhar gesê kon word is reeds oor 30 jaar gesê en deeglik opgeteken vir almal om te lees op die4 Internet en niks nuut kan bygevoeg word nie.
      *Ek dink ons moet maar Freek en die wat soos hy dink en voel se sieninge ook respekteer en hulle nie probeer anders oortuig nie en die Heilige Gees toelaat om maar self in mense se harte te werk.

      Dit is maar al wat ek probeer sê het en my eerts 6 punt en die laaste een is nie noodwendig ‘n teenstrydigheid nie.

      Heel ten laaste:
      Die gesprekke op Attie se blog was vir myself baie opbouend (al was dit soms maar ook stormagtig) en het my gehelp om Belhar in die regte lig te sien en “rustig daaroor te word”. Ek kan nou ook verstaan hoekom baie mense so sterk daaroor voel. Ek dink egter ons moet nou maar die gesprek oor Belhar los en aanbeweeg na iets anjders soos “Lyfstraf” of “Die Wegraping”, of iets dergliks.

      NS: Ek wou eers nie verder deel neem aan Attie se blog nie, maar die man het ‘n manier om mens se gedagtes so te prikkel met sy inskrywings en as ek my weer kan kry, is ek op sy blog – dankie en sorry Attie.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s