Psalm 116 – ‘n Baie Persoonlike Psalm

Ons het ons kleingroep se gesprek gisteraand begin met die vraag: “Vertel van  ‘n keer toe die Here op ‘n besondere manier tot jou redding verskyn het?”

Die rede waarom ons met die vraag begin het, is omdat daar in die eerste vers van Psalm 116 staan:

Ek het die Here lief, want Hy verhoor my smeekgebede.

Wat my getref het, was dat nie een in die groep vertel het van ‘n radikale of  dramatiese ding wat die Here in antwoord op een of ander gebed gedoen het nie.
Later in die gesprek het dit wel duidelik geword dat daar sulke geleenthede ook was, maar die eerste opmerkings het gegaan oor hoe hulle beleef het dat die Here  hulle nie in die steek gelaat het in tye toe dit baie sleg gegaan het nie. Hulle getuienisse het te make gehad met hoe die Here mense oor hulle pad gestuur het  om hulle by te staan en hoe hulle staande gebly het.

Hierdie groep se geloof in God en hulle verhouding met God is nie afhanklik  van die groot dinge in hierdie lewe wat Hy in die verlede gedoen het en in die  toekoms weer gaan doen nie.

Hierdie groep se geloof en vetroue is gebaseer op die werklikheid van Jesus se versoeningsdood en die oorwinning oor die dood wat aan hulle die lewe na die lewe na die dood gegee het.

Maar, die indrukke van die Psalm. Die gesprek wou nie aan die gang kom nie. Die vrae (Wat ek opgestel het.) het nie die gepaste reaksies gehad nie, kon nie diepgang in die gesprek bring nie. Die derde deel van die Psalm waar die skrywer vertel hoe hy die Here gaan “vergoed” vir wat Hy gedoen het, het ons ook nie regtig by ‘n dankbare lewe uitgebring nie soos ek gehoop het nie. Niemand wou regtig inkoop in die gedagte dat ‘n mens ten minste dit wat jy in tye van nood aan die Here belowe het moet doen, nie.

Hoekom nie? Want God se genade is onverdiend en onvoorwaardelik. Almal in die  groep het gevoel dat ons te maklik ‘n las op mekaar laai deur “dankbaarheid” af te grens en te sê: Ek dink mens behoort dit te doen.” Niemand het ontken dat dankbaarheid belangrik is nie, maar die inhoud van my dankbaarheid was na gisteraand ‘n skoon stukkie papier.

Die rede waarom die gesprek in die rigting beweeg het, het eers aan die einde van die aand duidelik begin word. Die groep het bewus geraak van die erg persoonlike karakter van Psalm 116. Die skrywer beskryf iets baie persoonliks. So persoonlik dat hy nie sê wat sy nood was nie. Hy gebruik beelde (Bv. Bande van die dood; doodsangs; vertwyfeling; trane; ens.) om sy belewenis te beskryf, maar mens weet nie wat gebeur het nie.

Hy getuig dat die Here uitkoms gegee het en hom van die “dood” gered het deur sy smeekgebede te verhoor.

In die laaste deel beskryf hy hoe hy nou gaan reageer op dit wat God vir hom gedoen het. Selfs daar is dit baie persoonlik. Hy roep niemand op om dieselfde te doen nie. Hy roep niemand op om enige iets saam met hom te doen nie. Hierdie  is ‘n baie persoonlike saak.

Hy vra: “Hoe sal ek die Here vergoed vir al sy weldade aan my?” Hy is nie teologies heeltemal in die kol om die woordjie “vergoed” te gebruik nie. Mens kan dan God nie “vergoed” nie. Wat Hy gee en wat Hy doen is onverdiend en onvoorwaardelik. God gaan nie sy “weldade” terugtrek as iemand Hom nie mooi genoeg of goed genoeg “vergoed” nie.

Ons skrik soms vir hierdie gedagte, want net nou was ek meer dankbaar as die volgende persoon en jaloers omdat die een alles kry wat ek gekry het, sonder om net so dankbaar as ek te wees.

Die skrywer bekommer hom egter nie oor regte “teologie” nie. Hierdie is ‘n baie persoonlike saak. Hy is baie duidelik van mening dat hy iets moet doen na aanleiding van dit wat die Here aan Hom gedoen het. Dan spel hy die dinge uit wat hy gaan doen.

En daar eindig die Psalm. Hy roep niemand op om saam met hom bly te wees nie. Hy daag niemand uit om sy dank ook te kom betuig nie. Hy verwag nie van enige iemand om sy voorbeeld na te volg nie. Hierdie was ‘n baie persoonlike ervaring met ‘n baie persoonlike getuienis en ‘n baie persoonlike reaksie.

Ek is gisteraand daar weg met die besef dat ‘n lewe van dankbaarheid as ‘n baie persoonlike saak tussen my en die Here begin. As dit nie daar begin nie, kan dankbaarheid baie maklik ‘n goeie werk word. Dankbaarheid begin by ‘n onderneming (gelofte) wat ek aan die Here maak. ‘n Onderneming waarvan niemand anders weet of hoef te weet, of selfs behoortte weet, nie. As dankbaarheid as so ‘n persoonlike saak begin, dan sal ek ook nie jaloers wees op die mense wat nie so dankbaar soos ek lewe nie.

Ek is huistoe met n skoon stukkie papier. Op my dankbaarheidspapiertjie is daar nie ‘n klomp vooropgestelde idees van hoe ‘n dankbare lewe behoort te lyk nie. Ek het die voorbeeld van die skrywer van Psalm 116, maar ek het ook baie ander voorbeelde in die Bybel en in die lewe van mense rondom my. Ek het ook reeds die dingetjies wat maar my persoonlike manier is om die Here te probeer “vergoed” vir sy weldade aan my.

Maar, sou die dankbaarheid nie daar wees nie, sou God ook nie sy weldade terugtrek nie.

Psalm 116 is n diep persoonlike Psalm wat genadiglik sy weg tot in die Bybel gevind het.

Advertisements

1 Kommentaar

Filed under Die Christelike Lewe

One response to “Psalm 116 – ‘n Baie Persoonlike Psalm

  1. Dankie.
    Ek verstaan die Psalm nou.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s