Hy sal (het) ook my graf ontsluit.

Die beste tronkgebou ooit.

Baie jare gelede het ’n bekwame argitek ’n tronkgebou ontwerp en daarop aanspraak gemaak dat niemand uit daardie tronk sal kan ontsnap nie. Nadat die tronk in ’n klein dorpie in Engeland opgerig is, het die owerhede gedink dat dit ’n goeie plan sou wees om Houdini, die wêreldberoemde ontsnappingskunstenaar, te nooi om te toets of die aanspraak van die argitek waar is. Houdini het juis nie lank voor
daardie tyd gespog dat geen tronk hom ooit sou kon binnehou nie.

Houdini het die uitnodiging aanvaar en met ’n groot media gevolg by die tronk opgedaag. Hy het in een van die selle ingegaan. Die tronkbewaarder het met ’n groot geknal die tronkdeur agter hom toegeslaan. Houdini het geluister hoe die sleutel in die slot gesteek word, hoe die tronkbewaarder die sleutel uittrek en hoe sy voetstappe wegsterf. Toe haal Houdini sy gereedskap uit en begin om aan die deur te werk.

Hy was baie verbaas om te ontdek dat nie een van sy beproefde metodes die slot kon oopmaak nie. Hoe hy ook al probeer het, die deur wou net eenvoudig nie oopgaan nie. Die ure het verbygetik. Die sweet het hom afgetap. Hy was verslae, want hy kon nog altyd daarin slaag om enige deur oop te maak. Uiteindelik het die groot Houdini tou opgegooi. Van pure uitputting het hy teen die deur geleun – en toe gaan dit oop. Die tronkbewaarder het nou wel die sleutel by die slot ingesteek, maar dit nooit gedraai nie. Die deur was nooit gesluit nie. Die enigste plek waar die deur gesluit was, was in Houdini se kop.

Al wat hom gevange gehou het, was sy gedagtes, sy instelling teenoor die skynbaar geslote deur. Hy het immers vas geglo: Die deur voor my het ’n slot wat oopgemaak moet word.

Die nood wat ons elke dag beleef en die dood waarmee ons so dikwels te make kry mag vir ons dalk lyk na ’n tronkdeur waaragter ons  toegesluit is. Maar, soos die lied sê: “Die Heer, die Sleuteldraer sal ook my graf ontsluit.” Daarom is daar niks in hierdie wêreld wat my van God se trou kan wegruk nie. Nie eers die dood nie. Niks op aarde kan my dood verhinder nie, maar niks op aarde kan my van God se trou beroof nie. Die opstanding is nie die oplossing vir die probleem van my dood nie. Die oplossing is die belofte dat God getrou is. Die dood sal wel die tronkdeur agter my laat toeklap, maar die deur sal oopgaan.

Wanneer ek in moedeloosheid teen hierdie deur leun, sal ek in die arms van die getroue God val.

Create a free website or blog at WordPress.com.

Up ↑