Here, ek vertrou op U

Ons het in ons kleingroep gisteraand oor Psalm 16 gepraat.

Ons het die gesprek begin deur met mekaar te praat oor mense wat ons vertrou en wat tot gevolg gehad het dat ons daardie mense vertrou. In kort kom ons toe tot die gevolgtrekking dat ‘n mens iemand vertrou omdat hy hom oor ‘n tyd as betroubaar bewys het. ‘n Mens raak die skielik eendag betroubaar nie. Mens groei wel in jou betroubaarheid, maar dit is dikwels, veral in die lewe van volwassenes, ‘n eienskap wat nog altyd daar was, maar waarvan ons nie geweet het nie. Ons ondtek die eienskap met die verloop van tyd.

Die tweede vraag was toe oor hoe ons God vertrou. Onmiddelik het ons begin praat oor hoe ons die Here vertrou vir ons goed. Ons het ook gepraat oor hoe ons soms sê dat ons die Here vertrou, maar wanneer dinge nie gebeur soos ons wil hê dit moet gebeur teen die spoed wat ons wil hê dit moet gebeur nie, dan gaan haal ons dit weer en sorg self. Ons kan nie wag nie.

Maar, as ons na daardie dinge kyk dan verstaan ons God nie. Hoe is dit dan mense God vertrou en meer geld het as wat hulle in ‘n leeftyd kan opgebruik terwyl ander verlede nag op die straat sonder komberse geslaap het? In hierdie situasie is God dus (met alle respek gesê) nie betroubaar nie. Hy pas nie in by die prentjie wat ek vir myself geteken het oor hoe God behoort te wees indien Hy betroubaar is en ek Hom kan vertrou nie.

Die vers waarby ons toe vassteek is vers 5:

“Here, U is my lewe.”

In die 1953 vertaling staan daar:

“Die Here is die deel van my erfenis en van my beker; U onderhou my lot.”

Die eintlik gedagte is dat God self die grootste geskenk is wat ek kan kry. Ons weet dat God vir ons sy Seun Jesus Christus gegee het. Ons weet dat Hy die enigste een is wat die Vader ooit gesien het en dat Hy die Vader aan ons bekend kom maak het. (Johannes 1:18) Ons weet ook dat Jesus se sterwe en sy opstanding plaasvervangend was. Met ander woorde dat ek kan sê ek was daar toe Christus aan die kruis gesterf het – dit is net so goed ek het self gesterf. Alles wat Hy deur sy dood verkry het, is ook myne. (Sien Kolossense 3:20) Ek het ook saam met Hom opgestaan. (Kolossense 3:1) Ek het ook reeds die dood oorwin toe Christus die dood oorwin het.

God self is my grootste geskenk. Hy gee Homself in die gestalte van sy Seun. In hierdie opsig is Hy 100% betroubaar en regverdig. “Hy onderhou my lot.” (Psalm 16:5 1953 vertaling) (‘n Ander vertaling het hier “lotsbestemming.”) Elkeen wat Hom vertrou vir verlossing kry, eerstens, presies dieselfde. Maar sy betroubaarheid blyk tweedens ook uit die feit dat hierdie nuwe lewe wat ek ontvang het nooit weer van my weggeneem sal word nie. Daardie lewe is veilig weggebêre – agter slot en grendel, by wyse van spreke. Daardie lewe is waar Christus is. (Kolossense 3:2-4) Hy onderhou my lot. My eindbestemming is veilig by Hom.

Ek vertrou God dat Hy vir my alles sal gee wat Hy in die Woord vir my belowe het. Nêrens in die Woord belowe Hy dat Hy vir my alles sal gee wat my buurman het en dat ons altyd ewe veel sal hê. Maar, Hy belowe weer en weer dat Hy my sal vergewe, en my sy kind sal laat wees en dat ek die ewige lewe as erfenis sal verkry.

“Die Here is die deel van my erfenis en van my beker; U onderhou my lot.” (Psalm 16:5 – 1063 vertaling)

God is betroubaar. Hy het Hom as betroubaar, die Een wat doen wat Hy belowe, bewys toe Hy sy Seun gestuur het en die gevolge van die sonde tot niet gemaak het.

Here, ek vertrou op U.

Maar, kan ek die Here dan vertrou vir brood op my tafel en petrol in my tenk; ‘n salaris elke maand en ‘n dak oor my kop, ens. Natuurlik kan ek. Net so lank as wat nie dink dat God enige iets aan my verskuldig is nie. Net so lank my verhouding met God nie afhanklik is van of Hy daardie gebed verhoor nie. Net so lank as wat ek onthou dat Hy bedoel het dat Hy-self my grootste geskenk is.

Gaan lees gerus weer die Psalms en die res van die Bybel. Die Here verhoor dikwels. Baie kere is daar die getuienisse van mense wat beleef het dat God voorsien. Maar gaan lees ook die Psalm en ontdek dat daar baie kere getuienisse is van mense wat nie gekry het wat hulle gevra het nie, maar geleer het om in God en by God tot rus te kom.

My grootste geskenk is God self. Ek kan Hom vertrou. Hy gaan nooit die inhoud van daardie geskenk verander nie. Enige iets meer as dit is niks anders as onverdiende genade nie. Ek vertrou God at Hy my sal verras. As Hy my nie verras nie, sal ek steeds bly sê:

“Ek behoort aan U, daar is vir my niks nie, behalwe U.” (Psalm 16:2)

Hoe beleef jy God se vertroue?

Hoe dink jy oor God se betroubaarheid?

2 Kommentaar

Filed under Die Christelike Lewe

2 responses to “Here, ek vertrou op U

  1. BB

    Jong Attie… “In kort kom ons toe tot die gevolgtrekking dat ‘n mens iemand vertrou omdat hy hom oor ‘n tyd as betroubaar bewys het”. Ek is seker maar vrek naïef, maar ek vertrou (soms/meesal) by voorbaat en dikwels blindelings.
    En dan skop iemand die appelwa om – en ek skarrel snot en trane tussen die gekneusde appels rond om te sien wat ek kan red…
    Ek het dit anders om – amper soos die wet op skuldigbevinding: jy is betroubaar TOTDAT jy jouself as onbetroubeer bewys… ek weet die Woord sê: “Do not put your trust in man”, maar ek sukkel met daai. Ek het al baie baie seer gekry as gevolg daarvan. Ek wil net so graag nie sinies raak nie. Ek wil nie mense wantrou, bloot omdat hulle hulself moet bewys nie. En wantroue is ook ‘n eienskap wat mense kan aanvoel – en dit kan nogal by voorbaat ‘n muur sit tussen wat anders ‘n wonderlike verhouding sou kon wees. Dan nie?

  2. c

    Baie dankie dat ds. al hierdie dinge vir ons duidelik maak. Ek wil graag vir jou sê – in al my jare wat ek lid is van Waverley gemeente, het ek nog nooit so deel gevoel van die gemeente as die laaste jaar nie. Jou koms na die gemeente het als verander. Ek voel al hoe meer hoe ‘n samehorigheid en eensgesindheid in die gemeente toeneem – daar is ‘n warmte en dis sommer net lekker. Daai “clicks” is besig om self die wyk te neem en dis lekker. Alle eer aan God wat jou en Renate na ons gestuur het vir die wonderlike leiding aan ons op jou “menslike manier”. Geniet jul dag en naweek!

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s