Ek kom van tyd tot tyd op ’n punt in my gebedstyd waar ek ontdek dat ek elke keer dieselfde rympie oor en oor bid. Wanneer ek dit agterkom, dan gaan soek ek na een of ander bron wat my kan help om nuwe inhoud aan my gebedslewe en dan ook aan my stiltetyd te gee. So het ek al Simply Christian van NT Wright ontdek; “The Hour that Changes the World” van Dick Eastmann en dan natuurlik die formidabele werk van Richard Forster Celebration of Discipline.
Ek lees op hierdie stadium Brian McLaren se jongste boek: “Naked Spirituality: A Life with God in Twelve Simple Words.” Die boek doen vir my wat die titel belowe. My lewe saam met God het meer betekenis en diepte deur die gebruik van twaalf eenvoudige woorde. Ek hoop om in die nabye toekoms ’n geleentheid op die webtuiste te skep waar ’n paar van ons saam die boek kan lees (Een hoofstuk per week.) en dan ook ’n gesprek daaroor kan voer.
Maar, die rede waarom ek vanoggend besluit het om hierdie stukkie te skryf is juis oor een van hierdie woorde. Die sewende van die twaalf woorde is “PLEASE: the practice of compassion and intercession, strengthening through empathy.” Let daarop dat hierdie woorde nuwe inhoud aan ’n mens se gebed gee, maar dat dit ook “the practice of compassion” tot gevolg het. Met ander woorde, my persoonlike verhouding met God is nie beperk tot my binnekamer nie, maar is veronderstel ’n verskil te maak in hoe ek my Christenskap uitleef.
Ek was verstom toe ek vanoggend oor die dinge begin dink en bid oor vir mense begin bid wat een of ander vorm van nood beleef. Ek het my in hulle situasie probeer indink (empatie) – in hulle skoene probeer staan en deur hulle oë na “my” (hulle) omstandighede probeer kyk. My gebed het begin by die mense in die midde ooste en die onderdrukking daar en die verskriklike lyding wat hulle deurgaan ter wille van hulle vryheid en demokrasie. Ek is werklik jammer vir daardie mense.
Maar, my hart is eintlik in ons gemeenskap en die nood hier. Ek het vanoggend bietjie tyd geneem en nagedink oor mense in ons omgewing wat dade van “compassion” nodig het. Ek het onder andere aan die volgende gedink:
- Ek het gedink aan die kinders wat vanoggend na hierdie “tweede vakansie” terugkom skool toe met die wonderlike vooruitsig om by die skool iets te kry om te eet, omdat hulle in hierdie vakansie waarskynlik nie een keer genoeg kon eet om versadig te wees nie. Kinders wat waarskynlik in hierdie tyd baie etes moet oorslaan omdat daar nie vir hulle kos was nie. Hierdie kinders is in skole wat of binne die grense van ons gemeente is, of in een van ons buurgemeentes se grense.
- Ek het ook gedink aan kinders wat eintlik nie vanoggend skool toe sou wou gaan nie, omdat hulle weet dat daar een of ander boelie by die skool wag wat wel deur die loop van die dag iets gaan doen wat hom/haar fisies of emosioneel gaan seermaak of gaan intimideer.
- Ek het gedink aan straatkinders en die vanselfsprekende tweede kombers wat ons gisteraand oor ons bed gegooi het. Ek het daaraan gedink dat hulle verlede nag waarskynlik iewers op straat geslaap het en dat van hulle selfs niks gehad het om onder te slaap nie. Dalk ’n paar kartondose.
- Ek het gedink aan die jong seun wat Sondag-oggend by die kerk opgedaag het nadat hy in die nag in die buitelug moes slaap toe sy ma se nuutste “boyfriend” hom uit die huis uitgeskop het. Ek het gedink aan al die ander kinders wat die slagoffer van hulle ouers se ongelukkige huwelik is en die wat swaarkry onder ander mans of vrouens wat in ’n verhouding met een van hulle ouers betrokke raak. (Ek kon darem ook dankie sê vir baie mans en vrouens wat vir sulke kinders net so goed is as wat hulle vir hulle eie is.)
- Ek het gedink aan bejaarde persone wat eensaam in hulle huise of ouetehuise sit omdat hulle kinders ver is; hy/sy dalk onlangs ’n lewensmaat begrawe het of dalk net te swak is om uit die woonstelletjie of huisie uit te gaan om met enige iemand kontak te maak.
- Ek het gedink aan mense wat vasgevang is in huwelike waar die mooi lankal weg is en dit net die kinders en plig is wat maak dat hulle in die verhouding bly.
Ek sou kon aangaan. Ek moet vandag kontak maak met ’n man wie se vrou dood is en ’n seun wie se pa dood is. Ek moet ’n man in die hospitaal gaan sien wat die slegte tyding gekry het dat hy ’n kwaadaardige gewas binne-in hom ronddra. Ek moet kontak met ’n ouerpaar wie se seuntjie op ’n kraan geval het en baie seergekry het. Nood is nie altyd daar ver nie.
Ek het bewus geraak van die nood en hartseer sommer so baie naby aan ons. Ek kon vanoggend vir hulle bid. Ek kon ook dankie sê vir mense, gemeentes en ander instansies wat by van hierdie nood betrokke is. Ek kon ook die Here loof omdat ek weet dat dit die plekke is waar Hy reeds aan die werk is. Wanneer ’n mens met empatie oor hierdie mense begin dink, dan begin jy om oor hulle te dink soos God oor hulle dink en God oor hulle voel. Mens ontdek egter ook dat God nie net dink en voel nie. As ek dit met groot respek so kan stel: God sit nie net op sy troon en huil oor al die nood in die wêreld nie. God is aktief betrokke by mense in hulle nood want God het lief. Omdat God aktief betrokke is, roep Hy Christene om in te val waar Hy reeds aan die werk is. Hy roep ons om lief te hê omdat Hy reeds liefhet.
Ek moes egter oor sommige van die dinge erken dat ek nie weet hoe ons sou kon help om die nood en die seer minder te maak nie.
Ek het darem ook in my gebedstyd een of twee idees gekry oor hoe ’n mens sou kon help.
Ek sal vandag by een of twee plekke uitkom waar ek glo God reeds aan die werk is. Ek sal egter ook vandag die wiele aan die rol probeer sit om op ’n ander plek te help.
So het Brian McLaren se boek my gehelp om te verstaan watter verskil net een woordjie kan maak in my lewe saam met Hom.
(Indien jy dit sou oorweeg om saam met ’n groep oor ’n tydperk van twaalf weke hierdie boek van Brian McLaren te lees en te bespreek, stuur aan my ’n e-pos. Op die blad is daar ‘’n “KONTAK MY PERSOONLIK” skakel.
Die grootste mooiste mooi van gebed is juis wat jy hierbo tussen die lyne heeltyd aanspreek – en ek wonder of ek voorbarig gaan klink as ek jou sou vra om in een van die paragrawe die woordjie ‘moet’ met ‘mag’ of ‘kan’ te vervang. Hoe anders die paragraaf dan sou lees:
“Ek sou kon aangaan. Ek moet vandag kontak maak met ’n man wie se vrou dood is en ’n seun wie se pa dood is. Ek moet ’n man in die hospitaal gaan sien wat die slegte tyding gekry het dat hy ’n kwaadaardige gewas binne-in hom ronddra. Ek moet kontak met ’n ouerpaar wie se seuntjie op ’n kraan geval het en baie seergekry het.” Maar ek wil nie die ‘moet’ afmaak as ‘n ‘gedwonge’ aksie nie. Ek dink ek weet beter as dit. Daardie ‘moet’ is ook deur God daargesit. Jip, ons moet bid. Nie anders is Hy nie daar nie. Nie anders gaan Hy nie intree nie. Nie as jy nie’s – sal Hy nie. Ag ek dink jy weet wat die blonde probeer sê, ja?
Ons vergeet soms hóé ‘n ongelooflike voorreg ons het om te wéét dat ons kan bid. Vir alle en enige omstandighede.
Van die os op die esel: die eerste keer wat ek werklik besef het hóé gebed vir iemand anders uiteindelik direk teurgkom na my toe, was toe ek na etlike jare se seer en kwaad ek eendag ‘n fluisterstem in my kop gehoor het: Bid vir hóm. Ek dag ek hoor nie reg nie 😕 Ek? Vir hom bid? Nevermind die stemmetjie in my kop – ek het die 1ste keer regtig daardie ervaring só ‘real’ gehad! Anyways, ek het dit natuurlik geïgnoreer. Afterall…! Maar kort kort nes die kwaad my weer wou insluk. Nes ek myself weer gesit en bejammer het. Nes ek die vinger opgetel het om vir die sóveelste keer te point – “Bid vir hom”.
Ai! What can a girl do?
Laaang storie kort: Ek het. Gebid. Vir hom. En ek weet nie van hom nie, maar ek, ek is ‘n ander, nuwe mens sedertdien.