ek kom vir jou bid

My skoonpa is baie siek. Terminaal. Toe daar nog net vermoedens was dat dit kanker kan wees, nadat hy met kanker gediagnoseer is, en vandat hy bedlêend is het ons vir hom gebid. Ons het gevra dat die vermoedens verkeerd mag wees, ons het ggevra dat die Here vir hom die wysheid sal gee om die regte besluit te neem oor of hy behandeling gaan neem of nie. Ons bid nog steeds. Ons bid dat die Here vir skoonma die genade, die krag en die geduld sal gee om hom te versorg. Ons bid ook dat die Here veral vir die drie kinders die vermoë sal gee om hulle afskeid te neem terwyl hy nog lewe.

Ons vra dus vir die Here baie dinge. Wilhelm Jordaan het vandag weer in Beeld sy stuiwer in die armbeurs gegooi oor gebed en of ‘n mens dan sekere dinge vir die Here kan vra en watter rol gebed in die Christen se lewe speel.

In die artikel sê hy baie mooi dinge. Byvoorbeeld:

Met toenemende bewustheid van lewensironie en teenstrydighede rondom geloof het gebed vir my ’n vreemde praktyk geword. En dit het my lank geneem om tot ’n insig te kom wat vir mý werk: Dit begin by die geloofsaanvaarding dat God ’n werklikheid is, maar terselfdertyd ’n misterie wat onnoembaar buite ons afmetings van vorm, gestalte, tyd en ruimte is.

Ek is dit met hom eens op elkeen van hierdie woorde. n Bietjie verder skryf hy:

Enige gebed waarin iets bepaalds van God afgebid word – hoe verstaanbaar dit ook al is in ag genome mense se nood – tas dié misterie wesenlik aan. Want dit wek die skrikwekkende indruk dat God ’n bedrewe soort poppemeester is wat die toutjies van gebedsverhoring en nie-verhoring trek na gelang van hoe mense hom behaag of nie. 

Vir my werk ‘n ander oortuiging weer. Ek kies om eerder met die misterie van waarom gebedsverhoring en waarom nie gebedsverhoring saam te leef. Jesus se gebed in Johannes 17 het net teveel versoeke dat mens dit kan ignoreer. Die Ons Vader gebed het ook ‘n hele paar versoeke wat tog daarop dui dat ons dinge van God mag vra.

Eintlik wil ek iets sê oor gebed en my skoonpa.

So daag daar toe nou vanoggend ‘n man by my skoonpa se voordeur op wat daarop aandring om vir hom te bid. Hy vertel van al die kere wat die Here al kankerpasiënte  in antwoord op sy gebed gesond gemaak het. Hy vertel toe ook vir my vrou dat dominees mos eintlik hulle fone afsit sodat die mense hulle nie in die hande kan kry nie. Onnodig om te sê dat vroutjie hom ‘n antwoord of twee gegee het en dat hy bietjie ongemaklik was toe sy vir hom sê dat sy met n dominee getroud is.

“Bidder” is toe baie vriendelik die deur gewys aangesien skoonpa nie meer besoekers kry nie en net naaste familie by hom toegelaat word. Ewe dikwellig nogal daarop gewys dat hy more weer sal terugkom om vir skoonpa se genesing te kom bid. Hy sal waarskynlik later ontdek dat skoonma hom minder welkom sal laat voel.

In hierdie opsig skaar ek my by baie ander. Hoekom sal “bidder” se gebed dan van meer waarde sal wees as myne, of my swaer sin, of sy dogter sin, of selfs skoonpa se eie? Indien dit waar is, word die mens  die poppemeester, in Wilhelm Jordaan se woorde, wat God kan manipuleer met sy gebede na gelang van sy vroomheid.

Skoonpa het net een gebed wat hy deesdae bid omdat sy verstand ook nie meer so helder is nie. Die gebed is dat die Here self hom sal ontmoet wanneer hy vir die laaste keer op hierdie aarde sy oë toemaak om dit by Hom oop te maak. Die gebed het skoonpa verander. Hy is rustig. Gereed om te gaan. Gereed om by sy Here te wees. Hoe dit daar sal wees en hoe die Here hom sal ontmoet, dit is alles ‘n misterie.

So sal ek maar bly bid: “Gee vir ons vandag ons daaglikse brood in die vorm van troos, geloof en hoop.” Dalk verander die gebed my, of dalk werk die Here deur die werk van sy Heilige Gees juis daardie dinge in ons almal se harte terwyl ons pa, oupa en skoonpa op sy sterfbed lê.

12 Kommentaar

Filed under Die Christelike Lewe

12 responses to “ek kom vir jou bid

  1. Hardus

    Attie kan net se ek stem volkome saam. Dit is soms vir ons moeilik om toe te laat dat God se wil geskied. Die rede dit is nie altyd wat ons wil nie. As ons eers oor die hekkie van glo soos ‘n kind kan kom, dan begin alles sin maak. Ek vra elke dag vir God waarom my vrou so moet ly, maar ek weet eintlik dat God ‘n plan het. Miskien sal ek dit eendag weet miskien nie. Wat ek weet is dat Hy vandat sy siek is baie mense se lewens aangeraak het deur haar. Daar is nie ‘n ander manier as om gedurig te bid nie.

  2. Ek glo ook dat jy vir God jou behoeftes mag sê, omdat jy Hom juis daardeur erken as Here. (Sommige mense redeneer dat Hy dit mos in elk geval weet). Maar nog steeds glo jy dat Hy die beste weet en dat jou behoefte nie noodwendig die beste is nie. En daarom aanvaar ek die uitkoms, al is dit nie altyd maklik nie.

  3. Attie, baie sterkte in julle tyd van beproewing! Dink aan julle…

  4. Etienne

    Ek glo dat God weet wat ons wil se of vra nog voordat ons vra. God wil uit my mond hoor hoe ek voel oor Hom, dat ek lief is vir Hom en wat my behoeftes is. Ek praat met God, ook het ek voor Hom gehuil tydens my eie Getsemane maar ek luister vir Sy influisteringe as Hy met my praat en troos.

    Sterkte Ds, jy weet….

  5. Pikkie

    Ek vra lankal nie meer nie. Ek het agter gekom dat dit wat ek wil he nie altyd is wat goed vir my is nie. Ek dank net my Vader elke dag dat Hy my die krag gee om aan te gaan. Dat Hy my familie versorg en dat Hy die Een is wat die beste weet. En dan smeek ek Hom sonder ophou dat ‘n deeltjie van Sy wil net aan my geopenbaar sal word dat ek op ‘n manier net rigting aan myself en gesin kan gee…

  6. Mefri

    Sterkte Doom, Laat dit wees volgens Sy wil.

  7. Snyman

    Ek sukkel self huidiglik erg baie met die immortaliteit van iemand bitter naby aan my. Dis nie lekker nie en dit skud my hele wese.

    In verband met gebed kan ek net CS Lewis aanhaal: “I pray because I can’t help myself. I pray because I’m helpless. I pray because the need flows out of me all the time – waking and sleeping. It doesn’t change God- it changes me.”

  8. Snyman: Ongelukkig loop mens so ‘n pad alleen. Ander het dalk al n soortgelyke pad geloop, maar elkeen se pad is uniek.

  9. BB

    Ons het al een keer gebid vir volkome genesing en daar was. Die dokters was verstom dat sy dit gemaak het. En toe bid ons weer vir ‘n ander se volkome genesing, met dieselfde geloof, en daar was dood. En ek was ietwat ge’rattle’, maar hier is wat gebeur het toe ek vir my Era seun dit moet oordra (omdat hy juis in beide gevalle ook betrokke was by die gebedsaksies.
    Era, tannie Elsabe is gesond! Sy makeer niks! Die dokters sê hulle kan dit amper nie glo nie. Seg hy: “Prys die Here!”.
    Era, Lamozé (sy geliefde niggie op die ouderdom van 4) is dood, my baby. Sorry, my baby. Seg hy: “Prys die Here!”.
    Ek dog ek hoor nie reg nie. Maar sien, hy het verstaan van die Wil van God. En dis ál wat vir hom saak gemaak het. Dat Sy Wil geskied. Dit was dan mos uiteindelik presies wat ons gebid het, nê?
    En somehow het ek met daardie geleentheid ‘n vrede gekry in my en geleer om myself en almal om my net in Sy Wil te plaas. En in hierdie bewuswording voel ek veiliger as ooit.
    Sterkte vir julle Attie! Mag Sy Wil geskied!

  10. BB – Dankie vir jou mooi storie. Skoonpa is toe oorlede. Maar op ons eie manier se ons ook: prys die Here!

  11. BB

    Hy is kom haal, Attie. Eintlik is die grootheid daarvan vir ons gewone sterflinge veels te enorm om te verstaan. Iemand baie baie na aan my het jare gelede ‘n doodservaring gehad. En sy sê o.a.: “Ek moes terug. Ek wou nie. Ek wou daar bly.”
    Ek het haar al gevra om haar storie neer te pen – uit haar mond, sal dit die vrees en benoudheid uit die ‘dood’ konsep vir so baie mense wegvat. Ek het sedertdien nog nooit ooit weer dieselfde oor dood gevoel nie. Ek is allesbehalwe lewensmoeg, maar ai, vandag, môre, annerjaar… eendag – ek sien regtig uit na daai op ‘n weird en wonderful way.

    Ek het ‘n song geskryf na aanleiding van haar vertelling. Sal hom graag vir jou epos?

  12. Marinda Mulder-Pieterse

    ….party maal wonder ek as ons so bid en smeek en vra dat ons hemelse Vader iemand moet genees of Hy nie soos vir Moses toe die uitgeroep het met homself en die hele volk vas gekeer tussen die vyand en die see…” maar wat moet EK doen? JY HET MOS DIE STAF IN JOU HAND -GEBRUIK DIT!!!!!!!” Maak ons nie dalk soos Moses nie…? Ons WEET tog dat Jesus deur SY kruis dood ons sonde op Hom geneem het EN DEUR SY WONDE vir ons GENESING betaal het…..nou wonder ek of ons ook soos Moses uit roep vir hulp terwyl God deur JESUS REEDS vir ons die “staf” gegee het…….??????? miskien moet ons dit AANWEND…….!!??

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s