ek en tieners

Die dissipels het na Jesus toe gekom en Hom gevra om hulle te leer bid. Hy het hulle toe die heel eenvoudige gebed wat ons as die “Ons Vader” ken geleer. Iemand het gesê dit is eenvoudig want as dit bietjie meer ingewikkeld was, sou ons dit opgemors het.

Miljoen der miljoene Christene bid die “Ons Vader” gebed daagliks en van hulle is daar nog miljoene wat dit soveel kere as moontlik bid. Die bedoeling is dat die herhaling van die gebed die bidder se gedagtes op God sal rig en hy/sy so die hele tyd bewus sal wees van God se teenwoordigheid. Die wat dit so doen getuig dat dit wel so gebeur.

Net die eerste paar woord beteken vir my so baie.

Die eerste woord is “ONS”. Alhoewel God mý Vader is, is Hy nie net my Vader. Hy s die Vader van elke mens wat in Jesus glo. Deur ons geloof in Jesus Christus het ons kinders van God geword (Galasiërs 3:26) en kan ons met groot vrymoedigheid tot die Vader in gebed nader. Hy is ons Vader en wanneer ek die woorde sê is ek onmiddellik gebind aan elke ander gelowige waar hy/sy ook al is.

Die tweede woord is “Vader”. Een van die eerste dinge wat ek vir my kinders geleer het, is dat God ons Vader is. In Johannes 3 leer Jesus vir Nikodemus dat ’n mens deur weergeboorte verlos word. Weergeboorte het onder ander die gedagte van die geboorte van enige ander baba. By die geboorte van ’n baba is daar ’n nuwe toevoeging tot die gesin en is daar nog een persoon wat vir een of ander man sal sê: “Pappa.” Deur weergeboorte is ek in hierdie nuwe gesin in gebore waarvan God die Vader is.

Mense gebruik graag verskillende dinge wat pa’s doen om te verduidelik hoe God vir ons ’n pa is. Die probleem is natuurlik dat geen pa die ideale voorbeeld is nie. Die ander probleem is dat die minderheid kinders met wie ons werk ’n positiewe pa-beeld het. Selfs al is al die geskeide pa’s nie swak pa’s nie is daar tog kinders wie se ouers geskei is en wat beleef dat hulle deur hulle pa in die steek gelaat is. Ander pa’s is afwesig met werk en stokperdjies ens.

Ek is ’n pa van vier kinders. Ek het elkeen van my kinders baie lief en ek het probeer en ek probeer steeds om vir hulle ’n goeie pa te wees. Niemand weet egter beter as ek dat ek nie altyd die pa-toets geslaag het nie. Ek weet al te goed dat ek dikwels nie bygedra het tot ’n positiewe beeld van God as my kinders se Vader nie.

Maar, God het dit anders bedoel. God het bedoel dat ons pa’s sou wees wat ons kinders aan Hom herinner. Ek kies dus eerder om te vertel hoe God vir ons ’n Vader is en dan sy voorbeeld van volmaakte Pa-wees na te jaag. God is die volmaakte Pa en ek volg sy voorbeeld. Mag sy Vader-beeld dan ook al hoe meer in my gestalte kry.

Ons Vader is in die hemel. Ons verstaan hemel dikwels verkeerd. Hemel is nie God se wegkruipplek vêr anderkant die vêrste ster nie. God is oral. God die Heilige Gees is nader aan my as wat ek ooit sou kon dink. Ek kan geen oomblik wees waar Hy nie is nie. Hy is daar. Hy is in die hemel, maar Hy is nie vêr nie. Hy is naby my, by my, in my, in jou. By Hom vind ek rus. By Hom is dit hemel op aarde. Hemel is ’n Nuwe Jerusalem. Hemel is ’n nuwe hemel en ’n nuwe aarde. ’n Nuwe hemel en ’n nuwe aarde is waar alles wat maak dat ons God nie ten volle ken nie uit die weg geruim is.

Hemel het natuurlik ook die betekenis van die setel van alle mag en heerskappy. Ons Vader is die Een wat oor alles regeer. Hy sit op sy troon, nie as ’n passiewe God wat alles aanskou wat op aarde gebeur nie, maar om te heers oor alles wat beweeg en bestaan. Hierdie enigste God wat miljoene sonnestelsels in stand hou, is my Vader. Elke keer wat ek bid, luister Hy asof ek die enigste een is wat bid. Hy luister na miljoene mense wat gelyk bid, maar Hy luister na my asof dit net ek is wat bid.

Wanneer my oë oopgaan vir wie God as my Vader is, beleef ek ’n stukkie hemel op aarde.

Gisteraand het ek en Renate na kerk op die gras gesit en wag vir ons jongste René om van die koffiekroeg af huis toe te kom. Toe die koffiekroeg uitkom was daar baie tieners wat gelyk gepraat het, maar tussen hulle almal kon ek hoor hoe sy haar maatjies groet. Ek ken haar stem. Ons het gewag dat sy huistoe kom. Ons was bly om haar te sien.

God wag dalk om jou stem te hoor.

Ons Vader wat in die hemel is, laat u Naam geheilig word; laat u koninkryk kom; laat u wil ook op die aarde geskied, net soos in die hemel. Gee ons vandag ons daaglikse brood; en vergeef ons ons oortredings soos ons ook dié vergewe wat teen ons oortree; en laat ons nie in die versoeking kom nie maar verlos ons van die Bose. Aan U behoort die koninkryk en die krag en die heerlikheid tot in ewigheid. Amen.

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s

Create a free website or blog at WordPress.com.

Up ↑

%d bloggers like this: