Ek kry onlangs ‘n noodkreet: Help my asseblief! Ek het n behoefte aan n sinvolle stiltetyd, maar ek weet nie mooi hoe nie. My stiltetyd was vir baie jare sinvol, maar ewe skielik…
Ek dog toe ek gee ‘n paar wenke.
Die eerste wenk wat ek wil gee as dat stiltetyd nie as een van die reëls/wette van die Christelike lewe gesien moet word nie. Ons moenie stiltetyd hou omdat ons dink dit is die regte ding om te doen nie. Stiltetyd behoort die manier te wees waarop ek uitdrukking gee aan ’n diep en intense verlange om by God te wees. Tyd alleen met God is ’n voorreg en nie ’n plig nie, selfs nie ’n verantwoordelikheid nie. ’n Paar riglyne.
1. Besluit wanneer.
Beskou jou stiltetyd of jou tyd alleen met God as ’n afspraak. Maak ’n aantekening in jou dagboek indien dit nodig is. Geen tyd is meer reg as enige ander tyd nie. Ek verkies om dit vroeg in die oggend te hou omdat die kanse dat ek onderbreek gaan word uiters skraal is. Watter tyd ook al, maak seker dit is die regte tyd vir jou.
2. Kies ’n plek.
Die regte plek is uiters belangrik. Ek is so gelukkig om ’n studeerkamer te hê. Ek sit alles wat ek nodig het, my Bybel, pen en joernaal, op die die tafeltjie langs my stoel. Indien ek volgens ’n spesifieke leesplan lees, is dit ook daar. Ek wil nie skarrel wanneer my stiltetyd begin nie. Wanneer ek opstaan in die oggend, gooi ek vir my ’n koppie koffie in en ek gaan reguit na my stoel toe en alles is gereed vir my tyd alleen met God.
3. Besluit hoeveel tyd jy gaan gee.
Weereens is daar nie ’n standaard hoeveelheid tyd wat jy aan jou stiltetyd hoef af te staan nie. Die tyd wat jy afstaan moet realisties wees. Maak seker dat jy nie jou ideale te hoog stel nie. Begin eerder met minder tyd en laat toe dat die tyd meer word soos nodig. 15 Minute per dag kan met die verloop van tyd meer word. Indien dit gebeur sal jy beleef dat jy sukses behaal het en dit sal jou motiveer. Indien jy vir twee ure beplan en jy nie daarby kan hou nie, gaan jy mislukking beleef en ontmoedig word.
4. Besluit op ’n struktuur.
Besluit wat jy in jou tyd alleen met God gaan doen en hoeveel tyd jy aan elke deel gaan afstaan. Beskou dit as ’n agenda vir jou “vergadering” met God. Op hierdie manier verseker jy dat jy nie doelloos besig is op soek na iets om te doen nie. EK begin my stiltetyd met ‘n paar oomblikke van stil wees waarin ek die Here dank vir sy teenwoordigheid, die Bybel en die voorreg om by Hom te mag wees. Ek vra dan ook vir die werk van die Heilige Gees tydens my stiltetyd. Daarna lees ek die Bybel, maak n paar aantekening in my joernaal en gee tyd vir gebed.
5. Kies ’n plan waarvolgens jy die Bybel gaan lees.
Ek beskou die Johannes-evangelie as die beste plek om te begin. Lees ’n gedeelte en dan vra jy hierdie vrae:
Wie: Bv.: Wie word in hierdie gedeelte genoem? Wie is die gehoor ?
Wat: Bv.: Wat gebeur? Waaroor handel die gedeelte? Wat leer ek?
Waar/Wanneer: Bv.: Waar gebeur dit? Wanneer het dit gebeur?
Waarom: Bv.: Waarom is hierdie gedeelte in die Bybel? Waarom het die skrywer hierdie woorde geskryf?
’n Laaste wenk: Probeer jouself plaas in die omstandighede of die situasie waarvan jy lees.
6. Gebed.
Gebed is ’n tweegesprek met God. Ek verkies om my gebed te begin metaanbidding. EK praat met Homoor die wonderlike dinge wat ek van Hom weet en hoe ek Hom leer ken. Aanbidding is om te fokus op wie God is wat Hy doen. Praat met God en vertel Hom van die dinge waarmee jy worstel en selfs die dinge wat in jou lewe gebeur. Vertel Hom van die dinge waaroor jy bekommerd is en die mooi dinge wat in jou lewe gebeur. Onthou ook om vir Hom kans te gee om met jou te praat. (Sien my opmerkings by Joernaal)
7. Joernaal
’n Joernaal help my om my gedagtes te orden. Ek maak ook dikwels aantekeninge oor van die vrae wat ek tydens my Bybellees gevra het. Veral as ek iets raak gesien het wat vir my in my persoonlike lewe betekenis het. My joernaal is veral waardevol wanneer ek op soek is na antwoorde oor ’n spesifieke saak. Wanneer ek daaroor skryf, orden ek nie net my gedagtes nie, maar op ’n stadium beleef ek dat ek woorde skryf waaraan ek voorheen nie gedink het nie. Ek beleef dit as die manier waarop my tweegesprek met God gestalte kry en Hy met my praat.
Onderneem om vir ten minste 21 dae by jou plan te hou. Na 21 dae behoort dit ’n gewoonte te wees.
Wees buigbaar. Verander jou plan totdat jy iets het wat vir jou werk.
Baie dankie. Dis baie waardevol.
Dankie ds. Waardeer
Baie dankie ds.
Baie dankie vir jou ds se koffietafel. Ek geniet dit vreeslik baie. Ek sukkel self om by ‘n gestruktureerde stiltetyd te bly. Ek vind eerder dat my gedagtes die hele dag met God gevul is. Ek praat 100 maal ‘n dag met Hom. Vra hom vrae en se telkens Dankie vir alles wat ek van Hom ontvang. Ek hoop dat Dominee ‘n geseënde 2011 sal he!
Ds ek kan glad nie op die vorige inskrywing ‘n comment los nie!!
Hi Meermin
Watter een, is dit die een oor gebed?