die kerk is nie besig om te sterf nie

Ek lees gister in Rapport hoe n sekere SGC (Ek wonder hoekom skryf hy onder n skuilnaam) van Oudtshoorn oor die kerk skryf. .Hy maak hoofsaaklik twee opmerkings.

Die eerste is dat die kerk sal moet leer om kritiek te verdra. Hy is natuurlik reg, ons as kerk (gelowiges) sal moet aanvaar dat alles wat ons glo om die waarheid te wees, onder die vergrootlglas van die rasionele gaan beland en dat andersdenkendes nie langer gaan stilbly wanneer hulle nie met ons saamstem nie. Alles word reeds bevraagteken. Die enigste probleem is dat mense soos SGC enige reaksie van die kerk (gelowiges) op ander se kritiek sien as n onvermoë om kritiek te hanteer. Ek kry eerder die indruk, soos ek in my vorige “post” geskryf het, dat daar van gelowiges verwag word, om te aanvaar aanvaar dat hulle verkeerd is en nie ‘n woord mag rep teenoor enige iemand wat kritiek lewer nie.

n Verdere gevolgtrekking is dat die kerk in die pre-moderne era leef. Hy maak daardie gevolgtrekking op grond van die feit dat Prof. Peit Strauss, die moderator van die Algemene Sinode van die NG Kerk, by geleentheid die bevindinge van eveolusie verwerp het en die “sewe-dae-van 24-uur-skeppingsteorie” verdedig het. Wel, dit is redelik algemene kennis dat Prof. Piets Strauss in baie van sy uitlatings nie die standpunt van  die oorweldigende meerderheid van gelowiges in die NG kerk, of selfs van gelowiges in ons land, verteenwoordig nie. In die tweede plek het hy daarna gesê dat hy in sy persoonlike hoedanigheid gepraat het en nie as Moderator van die NG Kerk nie. In die derde plek het die Moderatuur daarna gesê dat hulle nie met hom saamstem nie.

Ek vertrou dat SGC se opmerking oor die pre-moderne era n sarkastiese opmerking was. Die pre-moderne era het in die middel van die 16de eeu reeds begin om ‘n stadige dood te sterf ten einde plek te maak vir die moderne era waar alles wit en swart en reg of verkeerd was en dat slegs wetenskaplik bewysbare waarhede as waarheid en realiteit gereken kon word. Intussen is die moderne era van onwankelbare sekerhede besig om ernstig te wankel en plek te maak vir die post-moderne era waar al hoe meer sekerhede, nie net die van die geloof en Christene nie, besig is om te wankel.

Die eintlike opmerking waarby ek wil kom is egter SGC se stelling dat die kerk al hoe meer besig is om ‘n rand-verskynsel te word en dat die proses van die kerk wat geen invloed meer op die gemeenskap het nie, in Europa feitlik voltrek is. Aan die een kant is dit waar. Reuse Katedrale en kerkgeboue dwarsoor Europa staan leeg en die waar daar wel nog iets gebeur, is daar bitter min mense. Maar die kerk het nie verdwyn nie en gaan vir lank nog nie verdwyn nie. Al wat besig is om te gebeur, is dat die kerk soos ons dit ken besig is om te verdwyn en plek te maak vir kerk in n nuwe gestalte.

Een voorbeeld hiervan is Mike Breen. Mike Breen is reeds vir 25 jaar lank betrokke as leier en vestiger van missionere gemeenskappe in Europa. In hierdie tyd het hy begin om missionêre gemeenskappe bestaande uit 30-50 gelowiges in gemeenskappe te vestig . Die gevolg was die vinnigste groeiende kerk, St Thomas Sheffield, in Europa.In samewerking met Leadership Network het hy sedert 2006 725 missionêre gemeenskappe in Europa gevestig. Hierdie missionêre gemeenskappe is elkeen op een of ander wyse betrokke by n projek in die omgewing waar hulle gemeente is.

Die kerk is nie besig om te sterf nie. Die kerk soos ons kerk ken, is besig om plek te maak vir n nuwe manier van kerk wees, kerk wat bestaan uit verskillende missionere gemeenskappe. Die kerk gaan meer en meer kerk soos die Here jesus bedoel het ons kerk moet wees.

Ek is nie bekommerd oor die toekoms van die kerk in Suid Afrika en die wêreld nie. Ek is opgewonde oor ‘n kerk wat n nuwe impak op die gemeenskappe in Suid Afrika gaan hê.

6 thoughts on “die kerk is nie besig om te sterf nie

Add yours

  1. Attie, Dankie vir die “klippie in die skoen”. Ek stem 100% saam dat die kerk nie sal sterf nie – God self sal dit nie toelaat nie, maar……
    Agv veranderende omstandighede in ons land en selfs in die hele wêreld gaan / moet “kerkwees” verander. Ek praat nie van geloof of waardes nie – dit is en sal altyd dieselfde bly. Die manier hoe ons “kerk is” sal moet verander. Ek sien in my geestesoog die voortbestaan van groot makro gemeentes en die skepping van klein mikro gemeentes” (50 mense). Die tradisionle kerke in elke woonbuurt, 500 meter uitmekaar, is nie meer haalbaar nie. Die redes is nie belangrik nie – die feite spreek vanself.
    As ek mag?: Ek dink die kerk van vandag en die kerk van die toekoms moet verander van die huidige “na binne gerigte kerk” na die ” uitreik kerk”. Ek kry al vir baie jare die gevoel dat ons mekaar “warm broei” binne die kerk en dat die kerk nie werklik die verskil in die gemeenskap maak as wat dit kan maak nie. Dit is nie kritiek nie, dit is net ‘n opmerking.

  2. Ongelukkig sal ons nooit die ware statistiek hê nie. Want daar kan mense in kerke sit, of hulle name op kerklyste, wie nie gelowiges is nie. Hulle name was maar nog net altyd daar en hulle het dit nog nooit afgehaal nie. Net so is daar miljoene mense wat gelowiges is, maar wat om verskeie rede, nerens getel word nie. Hulle is dalk in ‘n land waar die Christelike Geloof nie toegelaat word nie. Die kerk van Christus? Dit sal ALTYD voortbestaan. Ek dink net die tyd is nou hier wat ons nie meer heeltemal sal kan voorgee soos in die verlede nie – ons sal ons besliste keuse moet maak! (of is ek nou van die punt af??)

  3. Attie, ja ek stem saam met jou dat die kerk nie sal sterf nie. Eintlik is dit maklik om so ‘n stelling te maak want ek glo onomwonde dat God Sy kerk in stand sal hou en ons as mense sal gebruik om dit reg te kry. Ja, dat daar aanslae vanuit verskeie bronne op die Kerk gemaak sal word is waar, maar net so seker is dit waar dat met geloof so groot soos ‘n mosterdsaad ons berge kan versit. Die belangrike is dat ons as Kerk moet besef ons kan nie stagneer nie, die wereld is besig om rondom ons te verander en ons moet daarmee tred hou, maar ons mag nie ons beginsels en oortuigings prysgee nie. My pleidooi sal wees dat ons as Christene deur saam te staan, mekaar te ondersteun en diensbaar te wees ‘n bewys van ‘n Lewende Kerk in die samelewing van vandag kan wees.

  4. Ek stem saam met wat DF se. Ek wil dit n stap verder vat. Die antwoord le vir my daarin dat ons as ons aan die kerk dink moet besef dat dit eerstens gaan om eer aan God te bewys en tweedens gaan dit om liefde (gemeenskap van die gelowiges), liefde teenoor ons naaste en liefde aan God. As die kerk hierdie twee dinge regkry dan glo ek sal die kerk beslis nie sterf nie. Dan sal die kerk se rol in die gemeenskap nie misken kan word nie. Kerk gaan tog nie oor die gebou / instelling nie, maar die mense.

  5. Dankie vir ‘n goeie skrywe oom…

    Mense wat wys na die katedrale wat leeg staan, vergeet ook baiekeer om te verwys na kerke wat bymekaar kom wat nie in katedrale bymekaarkom nie. Ek was mos al in London, in Hillsong Church daar, en daar is beslis nie net ‘n handjie vol mense nie. Ek wonder of dit nie ook ‘n tipe reaksie is van die kerk om meer relevant te wees nie. In daardie een besoek wat ek daar was, was die planne wat hulle gemaak het om in groepe te gaan “kerk hou” in die parke van die omgewing volop!
    (Ek wonder ook onwillekeurig of dit soortgelyk gaan met bv. die NG Kerk in London, en soortgelyke kerke…)

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s

Blog at WordPress.com.

Up ↑

%d bloggers like this: