Op verskeie plekke op die internet en in die pers is daar tans gesprekke oor die kerk wat vashou aan sekere belydenisse wat wetenskaplik nie verifieerbaar is nie. In Suid-Afrika het ons in die laaste jare gesien hoe geloof meer en meer plek maak vir die rede. Met ander woorde, dit wat ek nie met my verstand kan verwerk en verklaar nie, kan nie geglo word nie.
Die onlangse gesprek is aangevuur deur die brief van “Ds. Kannieamenkrynie” oor eredienste op Kersdag en dominees wat met teologiese stellings wat wetenskaplik nie bewys kan word nie, die hoorders verveel. Gister was dit weer Koot Bosman. Koot skryf:
“Ek en ander soekendes wil nie die kerk verlaat nie. … maar ’n groeiende aantal lidmate soek ruimte en geleentheid om te bely en te glo soos ingeligte oortuiging hulle lei. Maar dan moet die kerk geloofwaardig bly deur oop te wees vir nuwe insigte en vrae wat daaruit voortvloei.”
Ek wil nie Koot se brief ontleed nie. Ek wil eerder ’n paar subjektiewe opmerkings maak oor wat ek hier in lees. Koot vra dat die rasionele en die wetenskap die laaste sê sal hê met betrekking tot die inhoud van ons geloof. Ek besef daar is al hoe meer Afrikaanssprekendes wat uit die teologiese “kas” uitklim en hulle soortgelyke standpunte uitspreek. Ek merk ook dat dit gesien word as die manier waarop almal regoor die wêreld deesdae oor teologie dink.
Die beklemtoning van die rede of die rasionele is ’n tipiese kenmerk van die modernistiese era wat sy oorsprong het in die Verligting (Enlightenment). Die periode het in die sestiende eeu begin en ons leef tans in ’n oorgangstyd waar die dinge wat in die modernistiese era rigtingduiders was , al hoe meer besig is om stoom te verloor. Een van die pilare van die Verligting of dan modernisme, is die rasionele.
Die kerk het op verskeie maniere op die aanslag van die rede of die rasionele gereageer.
Een van die maniere waarop die kerk en Christene hierop gereageer het, was en is steeds, om geloof en rede in twee kompartemente te verdeel sodat die een niks met die ander te make het nie. Geloof of godsdiens word ’n saak van gevoel en/of ervaring en rede of die verstand kan nie my gevoel en my ervaring ongeldig reken nie.
Die tweede reaksie hierop is dat geloof al hoe meer ’n private aangeleentheid geword het. My geloof is ’n saak tussen my en God en het niks met enige iemand te make nie. Hierdie benadering speel steeds ’n baie groot rol in veral die hoofstroom kerke in Suid-Afrika. Geloof en godsdiens is iets waaraan ek dalk deelneem, maar ek gaan nie met iemand daaroor praat nie.
Die derde moontlikheid is natuurlik om teologie as ’n onafhanklike wetenskap te verklaar. Vir sommige teoloë het teologie dan ook die “wetenskap oor God” geword waar teologie die moder van alle wetenskappe word – die wetenskap van die wetenskappe. Die Bybel word as ’n wetenskaplike handboek gereken. Alle wetenskaplike aansprake word gemeet aan “Wat sê die Bybel?”
’n Vierde reaksie is om ’n Christen-gemeenskap te vestig waar Christenskap die amptelike godsdiens is en almal, asook die regering, aan die Christelike beginsels en oortuigings onderdanig moet wees. Ek het in ’n groot mate in hierdie era groot geword toe die kerk se inspraak in die regering geweldig baie gewig gedra het. Ons geslag onthou so goed die tyd toe die Eerste Minister van Suid-Afrika en die moderator van die NG Kerk op dieselfde tydstip broers was.
’n Laaste reaksie was om die sekulêre gemeenskap te omarm. In hierdie reaksie is daar en word daar selfs gepraat van die dood van God en verskeie teoloë het begin leer dat ons al hoe meer moet begin lewe asof daar geen God is nie. God is soms as ’n horlosiemaker geskets wat die horlosie gebou en opgewen het en nou tik die horlosie op sy eie die tyd af.
Namate die klem op die rasionele of die rede meer en meer veld gewen het, het die verwagting besonder sterk begin posvat dat godsdiens op een of ander stadium sou uitsterf en geheel en al irrelevant raak. In Suid-Afrika is hierdie stemme tans besig om sterker en sterker na vore te kom. Soms op baie aggressiewe maniere. Op Woensdag 5 Januarie was daar weer ’n skrywe wat daarop wys dat daar mense is wat worstel met van die belydenisse van die kerk en graag met predikante of teoloë wil gesels. Die voorwaarde is egter dat predikante en teoloë bereid moet wees om aanpassings te maak in hulle oortuigings. Die brief het egter geen aanduiding daarvan dat die skrywer bereid sou wees om ook aanpassings te maak nie. Die basiese oortuiging lyk vir my is: Die rede het finaal oor geloof en godsdiens geseëvier. Hoe gouer julle dit erken en kapituleer, hoe beter vir julle en vir die wêreld.
Ek sou oneerlik wees as ek nie erken dat hierdie tendense en dan daarmee saam die aanduiding dat die kerk in Suid-Afrika meer en meer jongmense verloor my bekommerd maak nie. Ek is bekommerd. Ek dink ook die Here verwag van my om hieroor bekommerd te wees.
David Bosch se opmerkings in hierdie verband bring ’n mooi perspektief.
“The very opposite now appears to be the case, however. Not religion itself but the belief that predicted its demise proved to be an illusion.”
’n Bietjie verder:
“The twentieth century saw a powerful resurgence of the so-called world religions: Islam, Buddhism, and Hinduism. The same is true of Christianity, and much of this has taken place precisely in communities where the Enlightenment has reigned for centuries…”
Bosch verwys na die World Christian Encyclopedia waar gemeld word dat die Christendom ten spyte van erge onderdrukking in lande soos Rusland en China steeds bly groei het. Die Rooms-Katolieke kerk het meer steun onder mense as ooit in die geskiedenis. Selfs in Latyns-Amerika blyk die groei verwagtinge te oortref.
In Afrika is die situasie egter besonders. Nogeens Bosch:
“Predictions about the numerical growth of Christianity in Africa have to be revised often, since they are soon shown to be modest.”
Bosch se verduideliking hiervoor:
“A fundamental reason lies in the fact that the narrow Enlightenment perception of rationality has, at long last, been found to be an inadequate cornerstone on which to build one’s life.”
My gevoel is dat Suid-Afrika steeds in ’n ernstige greep van die modernistiese era waar die rede oorheers beweeg en dat ons nie te vinnig na onsself in die post-modernistiese paradigma in moet forseer nie. Alhoewel die post-modernisme stadig maar seker besig is om sy voete te vind onder die jonger geslag, is daar nog baie werk vir die kerk met betrekking tot die mense wat steeds in ’n modernistiese paradigma funksioneer. Indien ons die greep van die modernisme en die rasionele aanslag op godsdiens en geloof probeer teenstaan met ’n benadering wat post-moderne mense sou aanspreek, loop ons die gevaar om die bal mis te slaan.
Die oplossing is ook nie om op enige van die vyf moontlikhede wat ek hierbo genoem het op die aanslag van die rasionele te reageer nie. Vir my lê die oplossing meer en meer in ’n aanslag wat die unieke kultuur van die betrokke gemeente ernstig neem en en dan ook die unieke kultuur van die gemeenskap waarbinne die
In reaksie op “Ds. Kanniamenkrynie” en Koot Bosman dink ek die regte ding sou wel wees om in gesprek te tree met mense wat soos hulle dink en voel. Inteendeel, ek ek dink ons moet. Een voorwaarde, kom na die gesprek met dieselfde openheid wat jy van my verwag.
Die kerk is nie in die laaste loopgraaf nie.
Geloof is nie uitgedien nie.
God is nie dood nie.
Ek lees ook die dinge in Die Beeld en in artikels en op die Web en dan wonder ek ook maar soos enige sondaar oor die dinge. Ek het egter een ding vir my self uitgemaak. Mense wil glo en mense wil kerk wees, soos wat dit hulle pas. Kerk wees gaan egter nie net oor die bywoning van eredienste nie, maar oor baie meer as dit. Kerkwees is ‘n leefwyse en nie ‘n teorie nie. Die Woord is eintlik baie maklik om te verstaan, ons mense en veral baie teoloë maak dit onnodig ingewikkeld en in die proses verwar hulle mense met teorie en sieninge. Ek kry ook soms die idee dat sommige teoloë soms stellings maak net om die pers te haal en reaksie uit te lok. Miskien moet ons vergeet van die teorie en weer begin glo soos ‘n kind, al kan ons dit nie verstaan of wetenskaplik verklaar nie.
Ek sal graag wil hoor hoe die wetenskaplike korrekte mense my verduidelik waar my siel vandaan kom. God is nie aan wetenskap onderhewig nie. God het Wetenskap geskep. Waar dink die wetenskaplikes waar kom wetenskap vandaan? Alles kom van God. God is te groot vir ons klein menslike verstand om te kan verstaan.